Monday 21 May 2012

Glo en deure sal vir jou oop gemaak word.

Ons is partykeer soos ongelowige Thomas's.
Ons almal dink dat ons lewens sal verander en beter gaan wees as in die verlede. Dit gaan oor ons hoop en drome vir die toekoms.
 'n Mens kan net volkome volledig voel wanneer jy in die teenwoordigheid van God se lewe is. Wanneer 'n probleem in jou weg kom en jy raak geirriteerd en ongelukkig, glo in God, plaas alles in sy hande en jy sal vind dat deure vir jou sal oop gaan. Droom groot drome en glo dat dit beantwoord sal word, dan sal dit wel gebeur. Glo in Christus en jy sal tot enigiets in staat wees.
Jesus se dissipels het alles gelos wat hulle mee besig was en Jesus gevolg, hulle het nie vrae gevra nie, net geglo en Hom gevolg. Dit is wyse van vertroue, hoop en liefde. Ons kan almal uitstyg bo die negatiewe gedagtes as ons ons denke op Hom rig en glo.

Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel bereik. - 1 Johannes 4:12

 Plaas God heel eerste in jou lewe en Hy sal jou seen. Ons moet met kinderlike vertroue na hom toe kom en glo dat al ons sondes vir ons vergewe is. Onthou die regte tyd is God se tyd nie ons tyd nie. God weet alreeds wat in ons gedagtes is, maar Hy wag dat ons ons na Hom toe sal wend en glo dat al ons probleme sal verdwyn. Stel jouself oop en God sal die res doen en herinner jouself daaraan dat jy nie alleen is nie.

"Here lei my vandag deur Jou  Heilige Gees sodat ek U kan vind. Ek glo dat U my lief het en ek aanvaar dat U my heelmaak in my tyd van ongelowigheid"