Tuesday 19 November 2013

Geestelik & Liggaamlik moeg ?


                           Saggies en teer is die roepstem van Jesus - Hy roep vir my en vir jou - "Almal wat moeg is kom in My arms en rus".
 
Dis November maand, en ook die maand wat ons voel dat die jaar sy tol gevat het. Ons is moeg, emosioneel, geestelik en liggaamlik. Alles voel betekenisloos.

Jy staan met 'n swaar hart op in die oggend en dink aan al die take wat vir jou voorlê en wonder hoe jy deur die dag sal kom ! Partykeer raak jy beangs en paniekbevange.

In 2 Korintiers 12:9, lees ons : "My genade is vir jou genoeg, My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is".

Gee jouself oor aan die Here en bid vir Sy krag, want uit Sy krag sal ons kan lewe.
Net God alleen kan ons die krag en genade gee om elke dag, met vreugde aan te pak. 

Gebruik die  'áf-tyd' en laat die Heilige Gees vrylik in jou lewe werk. Hou jou program eenvoudig - Bid elke oomblik vir krag en glipweg vir 'n oomblik in jou besig dag en gesels met God. Jy sal vind dat jou gees verfris en vernuwe sal voel en jy weer jou dagtake makliker kan aanpak.

Psalm 6:3-4 - "Ontferm U oor my, Here, want ek kwyn weg, maak my gesond, Here, want my liggaam is uitgeteer. Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?" 

As jy op die oomblik self op moedverloor se vlakte sit, kan jy aan die God, "wat jou altyd help", vashou en op Hom bly hoop.
 
"Hemelse Vader, baie dankie vir die ontdekking van swaarkry omdat dit my leer om aan U vas te hou en nie nodig is om op myself te vertrou nie".
Amen! 
 
 

No comments:

Post a Comment