Showing posts with label swaarkry. Show all posts
Showing posts with label swaarkry. Show all posts

Tuesday, 19 November 2013

Geestelik & Liggaamlik moeg ?


                           Saggies en teer is die roepstem van Jesus - Hy roep vir my en vir jou - "Almal wat moeg is kom in My arms en rus".
 
Dis November maand, en ook die maand wat ons voel dat die jaar sy tol gevat het. Ons is moeg, emosioneel, geestelik en liggaamlik. Alles voel betekenisloos.

Jy staan met 'n swaar hart op in die oggend en dink aan al die take wat vir jou voorlê en wonder hoe jy deur die dag sal kom ! Partykeer raak jy beangs en paniekbevange.

In 2 Korintiers 12:9, lees ons : "My genade is vir jou genoeg, My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is".

Gee jouself oor aan die Here en bid vir Sy krag, want uit Sy krag sal ons kan lewe.
Net God alleen kan ons die krag en genade gee om elke dag, met vreugde aan te pak. 

Gebruik die  'áf-tyd' en laat die Heilige Gees vrylik in jou lewe werk. Hou jou program eenvoudig - Bid elke oomblik vir krag en glipweg vir 'n oomblik in jou besig dag en gesels met God. Jy sal vind dat jou gees verfris en vernuwe sal voel en jy weer jou dagtake makliker kan aanpak.

Psalm 6:3-4 - "Ontferm U oor my, Here, want ek kwyn weg, maak my gesond, Here, want my liggaam is uitgeteer. Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?" 

As jy op die oomblik self op moedverloor se vlakte sit, kan jy aan die God, "wat jou altyd help", vashou en op Hom bly hoop.
 
"Hemelse Vader, baie dankie vir die ontdekking van swaarkry omdat dit my leer om aan U vas te hou en nie nodig is om op myself te vertrou nie".
Amen! 
 
 

Sunday, 3 November 2013

Die Here is altyd naby jou !

   Sefanja 3:17 - "Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat jou red. Hy is vol vreugde oor  jou, Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou".
       
Die Here is altyd by jou.  Die Heilige Gees het gekom om oor ons te waak. Hy is altyd daar.

Wanneer jy voel dat jy alleen is met jou probleme en ook jou vreugde, wees verseker dat God altyd by jou is. Moet nooit daaraan twyfel nie al voel dit soms dat God jou verlaat het. As jy in die dieptes van ellende en eensaamheid verkeer, roep net Sy Naam  en God sal jou nie teleurstel nie. Hy sal afbuig en jou hand vat en jou terug op die pad sit. Geen swaarkry is heeltemal onuithoudbaar as jy weet God is met jou.
 
Johannes 14:13 - Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.
 
Kyk op na die hemel en roep Sy Naam en besef dat Hy majestieuse krag besit en ontdek sy omhelsing.

Partykeer raak ek so gefrustreerd en geirriteerd as dinge nie reg loop nie, veral wanneer ek haastig by 'n plek of die werk moet kom en dan wonder hoekom ek so gestraf word, maar dan hang ek my kop in skaamte want besef dan, dalk was daar iets anders op my pad wat my sou verhinder om veilig my eindstemming te bereik, want die Here was naby en wou my laat besef dat my lewe in gevaar was en sodoende het Hy iets oor my pad laat kom.

"Here help my om net geduldiger en rustiger te lewe, om nie so haastig is en omgekrap word as iets verkeerd gaan nie", want ek besef U is met my".  

Die lewe se belangrikste strewe is nie om jouself te ken nie, maar om God te ken. As God nie die dryfveer van ons lewe is nie, is alle ander dinge wat ons najaag doodloopstrate, ook die poging om onsself te ken.

God se nabyheid kan 'n vervelige lewe opwindend maak en wees verseker Hy is altyd by jou.

Amen!
 

Saturday, 17 August 2013

Hoe eg is jou geloof in God.

                    1 Petrus 6-7 - Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings; sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word.
 
          God belowe om altyd vir ons lig te maak in donker tye.

In Jesaja 42:16 se God "Ek laat die blindes loop op 'n pad wat hulle nie ken nie. Ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is. Ek verander die donker voor hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk."

Partykeer gaan dit baie sleg met ons, maar wat ons dan staande hou is die egtheid van ons geloof. Hou ons aan met bid, en vertrou of God, dat dit weer beter met ons sal gaan?, of,  gaan sit ons op die ashoop en gee moed op.  Hoe reageer jy dan?  Dit voel partykeer dat dit net nie beter wil gaan nie en God voel dan baie ver weg van ons. Onthou, die Here bly altyd dieselfde en Hy heers oor ons, so glo vas dat God na ons smeekgebede luister, en moet nie moed verloor nie. God het jou lief en is digby jou. Deur sy Gees lei Hy jou.

Dis wanneer die toets van ons geloof navore kom. Geloof is 'n gawe van God en 'n geskenk uit die hemel!. Dis die tyd dat jou diepste geloofsverbondenheid tot God jou moet dra en die toets van die egtheid van jou geloof moet seëvier.

Byt vas, hou vas aan God se Woord. Jy is God se kind. Geen swaarkry is heeltemal onuithoudbaar as jy weet dat God by jou is nie.

God hou die leisels vas en is in beheer.

"Hemelse Vader, gee my U volle krag sodat ek die toets kan volstaan en dat my geloof in U altyd eg sal wees".

Amen!