Wednesday 26 March 2014

Geestelike Reis - op pad waarheen!

  
.
 
 
 

Lukas 9, 51-53 - Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin en boodskappers voor Hom uit gestuur.  Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël - maar die inwoners wou Hom nie ontvang  nie, omdat Hy na Jerusalem op pad was.
 
Meeste van ons is ook maar op pad erêns heen:- reis na die werk, vakansies, begrafnisse, troues en so voorts.
Daar is altyd 'n gevoel van opgewondenheid as jy op reis is na jou vakansie bestemming;
Gevoel van stilte vir 'n begrafnis; - afwagting na troues - dan na jou werk, 'n plig, tog sien jy uit daarna.
 
Maar wat van ons geestelike reis ! - waarheen is ons oppad?
 Wanneer ons 'n bepaalde geestelike reis wil begin, het ons mekaar as gelowiges nodig. Ons kan van mekaar leer en verantwoordelikheid  neem vir die geestelike reis wat ons met mekaar en ander moet loop. Dit gee 'n geestelike volwassenheid tot ons gelowiges, wat weet hoeveel hulp ons nodig het, om met ons geloofsreis te stap.
 
 
Tog wonder ons partykeer, waarheen is God met ons oppad! - Wat verwag Hy van ons - God se opdrag vir ons is om in Hom te glo en Hom te volg bo alles. Hy is die Alfa en Omega, die Begin en die Einde.
 
Daar is soms dae dat ek wonder waarvoor leef ek? vir wie leef ek? Hoekom leef ek? - en weet ek wat my doel hier op aarde is, en wat die uitkoms van lewe is!. - Maar dan kyk ek om my heen na Sy wonderwerke en weet ek smag na 'n dieper verhouding met God, in Jesus Christus.
 
Al wat ons kan doen is om besig te raak met God, soos Hy besig is met ons. Neem jou kruis en volg Hom wat die hemel en aarde gemaak het. Raak besig met sy Woord. Ons moet altyd net die groter prentjie in gedagte hou op ons geestelike reis, en dit sal die moeite werd wees en ook die doel van ons lewe. - die pad na God breek nuwe dinge in 'n mense se lewe oop, al weet jy nie waarheen jy soms op pad is nie.. God se pad is nie altyd maklik nie, - dis anders en onbekend. Ons geestelike reis saam met God maak jou vry, want om saam met God te wees, is mos genoeg en opwindend totdat ons eendag by Hom kan wees.
 
Nou is my vraag weer:-  "Waarheen is ek oppad? - die antwoord is:, saam met God, vrolik, vol hoop, vol lewe en vreugde, want God is met my!".
 
  My gebed: "Here, Vader, help my,  sodat my geestelike reis na U toe oppad kan wees,  al is die pad nie so gelyk en maklik nie, want ek weet dat U vir my wag, by my eindbestemming".
Amen! 
 

 

 
 
 
 

No comments:

Post a Comment