Thursday 4 July 2013

Vertrou op die Here; Hy is jou Herder

Psalm 23 - Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.

Dit is een van die mooiste versies in die Bybel. Toe ek 'n kind was, was ek bang vir spoke en dan het ek by my ouers gaan inkruip. My pappie het altyd met my geraas daaroor en een-oggend met my gesels. Hy sê toe vir my "my kind as jy bang is,vertrou op die Here, want Hy is jou Herder". Ek het daardie woorde nooit vergeet nie, en tot vandag, as ek baie onseker en bang is oor iets, lees ek Psalm 23:1-6.

"Die Here is my Herder, niks sal my ontbeek nie. Hy laat my neerlê
in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om Sy Naam ontwil. Al gaan ek ook in die dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my; U stok en U staf die vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly, in lengte van dae".
Ons almal ken voorspoed, ons ken teënspoed, maar God gee vir ons genade, liefde en veiligheid. Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind ons wonde. God gee ons nuwe krag. Daarom kan ons met sekekerheid sê, die Here is my Herder, ek kom niks kort nie. Hy is die Alfa en Omega, die Begin en die Einde, soos 'n sirkel waar daar geen gebreekte skakel is nie.

Die Here gee ons vrede want Hy laat ons rus in groen weivelde. Die Gees van die Here is op ons, want Hy verkwik ons siel. Hy is ons lig deur die donker dae.

Hou vas aan die Here en vertrou op Hom met jou hele hart, want Hy het 'n belofte gemaak dat Hy ons Herder is, en sal nooit Sy skape laat verlore gaan nie.

"Hemelse Vader, baie dankie dat U my Herder is, dat niks my sal kortkom nie. Dankie dat ek my vertroue op U kan plaas, want U verkwik my siel".
Amen.

No comments:

Post a Comment