Showing posts with label waters. Show all posts
Showing posts with label waters. Show all posts

Tuesday, 11 November 2014

As die storms oor jou woed - Buig jou kop in gebed !


Jesaja 43:2-3 - "Äs jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder...."

God is steeds daar in ons donker dae. Daar is dae dat dit voel of al die getye teen jou draai. Storms woed oor en om jou -  in jou persoonlike lewe, werkomstandighede, familie en vriende.

'n Vriendin het vir my die ander vertel, dat dit voel vir haar of almal iets van haar wil hê en hoe meer sy gee, hoe meer vra hulle nog van haar. Sy voel leeg. Is dit nie ook hoe ons almal, partykeer voel nie! Jy voel jy gee en gee maar kry niks terug nie.
 
Sodra dit lyk of jou lewe net mooi aan die gang is, en die son blink buite skyn, bars 'n storm ewe skielik uit oor jou met allerhande probleme en jy weet nie waar om te begin om al die vure dood te slaan nie. Jy wil op 'n hopie gaan sit en huil. Dit voel of jou lewe uit mekaar val.
 
Dan sê die Here "Ek is by jou, as jy deur diep waters moet gaan, is Ek by jou."
 
Dis wanneer ons, ons kop moet buig en bid. Ons moet mekaar toelaat om ook die smart van die werêld op ons harte te dra en te verwerk, met die genade van die Here.
 
God het ons trane gegee om ons blydskap, smart, pyn,  rou en treur, uiting aan te gee. Dis 'n proses waardeur ons moet gaan. Ons leef in 'n gebroke werêld, maar in die hande van 'n almagtige God.
 
Al wat Hy vra is dat jy, wanneer die storms woed, nie vir een oomblik moet vergeet, dat die Here, jou God, daar vir jou en my is nie. Jy is nie alleen nie.
 
God is in beheer van jou lewe en vertrou op Hom. Berus in Hom en moet nooit jou geloof en hoop laat vaar nie.
 
So, - as die storms oor jou woed, buig jou kop in gebed en loof die Here. !
 
My gebed: "Here, Almagtige Vader, dankie dat U daar is my, wanneer die storms kom, ek weet dat ek nie alleen is in donker dae nie en dat ek my berusting in U kan vind".
Amen!
 
 
 
 

Thursday, 4 July 2013

Vertrou op die Here; Hy is jou Herder

Psalm 23 - Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.

Dit is een van die mooiste versies in die Bybel. Toe ek 'n kind was, was ek bang vir spoke en dan het ek by my ouers gaan inkruip. My pappie het altyd met my geraas daaroor en een-oggend met my gesels. Hy sê toe vir my "my kind as jy bang is,vertrou op die Here, want Hy is jou Herder". Ek het daardie woorde nooit vergeet nie, en tot vandag, as ek baie onseker en bang is oor iets, lees ek Psalm 23:1-6.

"Die Here is my Herder, niks sal my ontbeek nie. Hy laat my neerlê
in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om Sy Naam ontwil. Al gaan ek ook in die dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my; U stok en U staf die vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly, in lengte van dae".
Ons almal ken voorspoed, ons ken teënspoed, maar God gee vir ons genade, liefde en veiligheid. Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind ons wonde. God gee ons nuwe krag. Daarom kan ons met sekekerheid sê, die Here is my Herder, ek kom niks kort nie. Hy is die Alfa en Omega, die Begin en die Einde, soos 'n sirkel waar daar geen gebreekte skakel is nie.

Die Here gee ons vrede want Hy laat ons rus in groen weivelde. Die Gees van die Here is op ons, want Hy verkwik ons siel. Hy is ons lig deur die donker dae.

Hou vas aan die Here en vertrou op Hom met jou hele hart, want Hy het 'n belofte gemaak dat Hy ons Herder is, en sal nooit Sy skape laat verlore gaan nie.

"Hemelse Vader, baie dankie dat U my Herder is, dat niks my sal kortkom nie. Dankie dat ek my vertroue op U kan plaas, want U verkwik my siel".
Amen.