Monday 18 August 2014

Moenie bang wees nie - neem die eerste sprong.

Jesaja 41:13 - "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek help jou".

Die lewe is veronderstel om 'n avontuur te wees - maar ons is so bang om die eerste stappie te neem - ons vrese vir die onwerklikheid maak ons bang en hou ons gekelder.

Jesus leer ons dat deur geloof en vertroue in Hom, 'n mens enige vrees kan oorwin.  Jy hoef nie skaam te wees as jy bang is nie - dit is deel van ons menslike natuur.

Ons val vas in angs as ons nie na Sy stem luister nie. Onthou jy is nooit alleen nie -
 
Moenie bang wees nie - plaas jou hand in Sy hand en Hy sal jou help om sonder vrees jou lewenspad te bewandel. Die Heilige Gees het mos juis gekom om ons te versterk. Deur die Gees se krag kan ons, ons angs oorwin.
 
Onthou, Jesus sit mense om ons, mede-gelowiges om mee te gesels. Dit help baie as jy hulle vertel van jou vrese en vra dat julle saam bid. Ons kan mekaar aanmoedig en bystaan. - Ondersteuningsgroepe is van groot waarde. Neem die eerste sprong en begin om 'n verhouding met gelowiges te kweek.

Psalm 23:4 - staan geskrywe, "al gaan ek ook in 'n dal van doodskadewee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my, U stok en U staf, die vertroos my"!
 
God ontferm Hom oor ons, In elke moeilikheid help Hy ons, daarom moenie bang wees nie en moenie ophou om jou troos by Hom te soek nie.
 
My gebed: "Here Jesus, dankie dat U vir my sorg en beskerm. Dankie dat wanneer ek bang is, U my met die krag van U liefde omring, sodat ek nie in angs verval nie".
 
Amen!
 
 
 


No comments:

Post a Comment