Showing posts with label luister. Show all posts
Showing posts with label luister. Show all posts

Tuesday, 28 October 2014

Kommunikasie - Praat ons mekaar se taal !


Spreuke 16:21,23-24 – “'n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem, en as hy sy woorde reg kies, kan hy ook ander leer. ‘n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens.”
Die belangrikste aspek van kommunikasie is om te hoor wat nie gesê word nie. 
Kommunikasie is seker een van die mees gebruikte woorde in enige taal, want wanneer iets verkeerd gaan, word daar gesê dat dit gebeur het as gevolg van ớf te min ớf geen kommunikasie. 
By kommunikasie gaan dit dus om veel meer as net tegnieke. Ons hele menswees is by die kommunikasieproses betrokke vir die “boodskappe” wat ons uitsein en die boodskappe wat ons waarneem en verstaan. 
Wanneer iemand anders praat, luister dan met aandag, want die meeste mense luister nie regtig nie, daarom die groot misverstande wat plaasvind. Ons hoor wat ons wil hoor! – daagliks verbrokkel gesinne, sluit maatskappye hul deure en lande val mekaar aan, en wanneer jy die oorsaak soek, is dit in die meeste gevalle, dat dit nie is omdat iemand gepraat het nie, maar bloot omdat ons nie geluister het nie.
Ons is almal so verskillend en elkeen dra ‘n boodskap op hy / sy manier oor. – daarom moet ons seker maak dat ons luister na WAT gesê word, en nie net na HOE dit gesê word nie.
God het ons een mond gegee om mee te gesels, en twee ore om mee te luister. As die boodskap opskrif is, het Hy ons twee gegee om te lees om daaraan gehoor te gee. God het ons wonderlike gawes gegee, maar maak ons gebruik hiervan!  en ook, doen ons dit op die regte manier.
Dink jy nie dit het tyd geword dat ons ‘n slag net stil bly en na die werêld om ons kyk, seker maak, dat ons oop is vir kommunikasie met mekaar, sodat ons mekaar se taal kan praat en verstaan (praat nie van tale nie, maar wanneer ons met mekaar kommunikeer, ons regtig  sal luister wat die ander person wil oorbring). Dit sal soveel misverstande uitwis. 
Kyk na die blindes en dowes om ons – die manier hoe hulle boodskappe uitstuur en ook hoe hulle probeer om te kommunikeer met ander. Hoe dankbaar moet ons, die wat kan sien, hoor en praat, nie moet wees nie.
 
My gebed: “Here, gee my die leiding om met ander op die regte manier te kommunikeer en dat ek sal luister en hoor wat aan my oorgedra word, sodat daar geen misverstande sal wees nie.”
Amen!
 

Monday, 18 August 2014

Moenie bang wees nie - neem die eerste sprong.

Jesaja 41:13 - "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek help jou".

Die lewe is veronderstel om 'n avontuur te wees - maar ons is so bang om die eerste stappie te neem - ons vrese vir die onwerklikheid maak ons bang en hou ons gekelder.

Jesus leer ons dat deur geloof en vertroue in Hom, 'n mens enige vrees kan oorwin.  Jy hoef nie skaam te wees as jy bang is nie - dit is deel van ons menslike natuur.

Ons val vas in angs as ons nie na Sy stem luister nie. Onthou jy is nooit alleen nie -
 
Moenie bang wees nie - plaas jou hand in Sy hand en Hy sal jou help om sonder vrees jou lewenspad te bewandel. Die Heilige Gees het mos juis gekom om ons te versterk. Deur die Gees se krag kan ons, ons angs oorwin.
 
Onthou, Jesus sit mense om ons, mede-gelowiges om mee te gesels. Dit help baie as jy hulle vertel van jou vrese en vra dat julle saam bid. Ons kan mekaar aanmoedig en bystaan. - Ondersteuningsgroepe is van groot waarde. Neem die eerste sprong en begin om 'n verhouding met gelowiges te kweek.

Psalm 23:4 - staan geskrywe, "al gaan ek ook in 'n dal van doodskadewee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my, U stok en U staf, die vertroos my"!
 
God ontferm Hom oor ons, In elke moeilikheid help Hy ons, daarom moenie bang wees nie en moenie ophou om jou troos by Hom te soek nie.
 
My gebed: "Here Jesus, dankie dat U vir my sorg en beskerm. Dankie dat wanneer ek bang is, U my met die krag van U liefde omring, sodat ek nie in angs verval nie".
 
Amen!
 
 
 


Wednesday, 18 September 2013

"Jy is myne"; sê die Here.

                     
   Jesaja 43:1 - Luister, so sê die Here wat jou geskep het,  Jakob, wat jou gevorm het, Israel; Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep,  jy is Myne.
 
 
                                                          
Ons is almal kosbaar vir die Here. Al gaan jy deur 'n smeltkroes en krisisse, hou vas aan jou geloof en vertrou op die Here en glo aan Sy Woord.  
 
As ons dit doen en werklik in God se trou glo, dan kan ons opstaan en die treë
neem wat God vra. Ons word geroep om God op Sy woord te neem.
Jesaja 43: 10 - "Israel, julle is my getuies, sê  die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is; Voor My was daar geen God nie, en na My sal daar ook nie een wees nie. Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie".
 
Jesus het aan die kruis gesterf vir ons, daarom behoort ons aan God. Ons is geskep na Sy beeld.

Onthou altyd: Die Here het gesê; " Jy is Myne"!

 
Gee jou hart aan God en wees sy bruid. Wees nedering en help ander, want God gee aan die nederiges sy genade.
Daarom moet ons, ons lewe aan God toevertrou,
 
"Onse Here, dankie dat ek U bruid kan wees en dat U my opge-ein het as U kind, met die woorde; "Jy behoort aan My en is Myne"!
Amen!

Saturday, 17 August 2013

Hoe eg is jou geloof in God.

                    1 Petrus 6-7 - Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings; sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word.
 
          God belowe om altyd vir ons lig te maak in donker tye.

In Jesaja 42:16 se God "Ek laat die blindes loop op 'n pad wat hulle nie ken nie. Ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is. Ek verander die donker voor hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk."

Partykeer gaan dit baie sleg met ons, maar wat ons dan staande hou is die egtheid van ons geloof. Hou ons aan met bid, en vertrou of God, dat dit weer beter met ons sal gaan?, of,  gaan sit ons op die ashoop en gee moed op.  Hoe reageer jy dan?  Dit voel partykeer dat dit net nie beter wil gaan nie en God voel dan baie ver weg van ons. Onthou, die Here bly altyd dieselfde en Hy heers oor ons, so glo vas dat God na ons smeekgebede luister, en moet nie moed verloor nie. God het jou lief en is digby jou. Deur sy Gees lei Hy jou.

Dis wanneer die toets van ons geloof navore kom. Geloof is 'n gawe van God en 'n geskenk uit die hemel!. Dis die tyd dat jou diepste geloofsverbondenheid tot God jou moet dra en die toets van die egtheid van jou geloof moet seëvier.

Byt vas, hou vas aan God se Woord. Jy is God se kind. Geen swaarkry is heeltemal onuithoudbaar as jy weet dat God by jou is nie.

God hou die leisels vas en is in beheer.

"Hemelse Vader, gee my U volle krag sodat ek die toets kan volstaan en dat my geloof in U altyd eg sal wees".

Amen!
 

Friday, 17 May 2013

Moenie bang wees nie, Luister as God fluister.



Josua 1:9 - "Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is oral waar jy gaan."


Hoe anders kan ons nie wil bang wees in die samelewing wat ons in lewe nie. Met al die koerant berigtes en nuus oor verkragting, kaping, pyn, molestering en oproer in die wêreld, maak dit baie moeilik om nie te vrees nie. Miskien is dit nie hoe menslik dit is om bang te wees nie, maar oor die hantering daarvan.

Pyn en trauma kan nie altyd vermy word nie, dit kom oor ons pad, een of ander tyd, maar as jy vasklou aan Jesus se hand, sal Hy jou vertroos in tye van pyn en nood. Vra vir die Here vir krag wanneer jy voel dat al jou kragte ingee en al bewe jy van vrees, want met Sy hulp kan jy met vasberandenheid glo dat ons lewens nie met vrees oorheers word nie, maar deur die Woord van God!

In Psalm 118:  lees ons "Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?"

Wanneer jy bang is, luister as God vir jou fluister en sê; "my kind, vertrou volkome op My en moenie bang wees nie,  Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipte gelei het".

Onthou God fluister gereeld vir ons, as ons net wil luister, deur 'n sagte aanraking van die wind, 'n warmte op jou gesig van 'n son se straal, 'n bloeisel wat oopgaan, 'n stem in ons hart  en eweskielik 'n fladering binne ons, dis alles tekens dat God met ons is.  Kyk om jou en sien die tekens van God raak.

God gebruik soms dramatiese gebeurtenisse om ons te kry om ons ore oop te maak en na Hom te luister.

Moenie bang wees nie!

"Dankie Hemelse Vader, dat ek volkome weet dat dit nie nodig is om bang te wees nie, want U is daar om my te beskerm teen enige onheil". Help my om te luister, as U, fluister".
Amen.

Wednesday, 6 February 2013

Wees stil voor God !

Wees stil voor sy Heilige aangesig en ervaar al Sy groot Wonderwerke.
 
Stille tyd is een van die mees rustigste ervarings. Ons mediteer vir baie dinge, hoekom plaas ons nie ons fokus op onse Vader wat in die Hemel is nie. Maak jou gedagtes skoon van die wereldse dinge en luister na God se roepstem.
 
Raak stil en voel Sy goddelike liefde en warmte om jou. Ons is almal so besig met ons wereldse programme dat ons nie tyd maak vir God nie. Daar is te veel dinge om te doen en te beleef.

 
Here, ek sukkel om partykeer stil te word voor U, met my besige lewe, help my om so stil te word dat ek net U stem kan hoor".
 
Raak stil en maak gebruik om Hom te aanbid. God sal jou alles gee wat jy voor vra as dit Sy wil is.
 
Daar is tye dat ek op my kniee gaan maar woorde ontneem my. Here, help my om my gedagtes net op U te rig en te vergeet van al my probleme en behoeftes. Ek wil U loof.

Bid gerus elke oggend en aand - Wees stil voor jou Verlosser - As jy dit doen en jou gebede tot God rig en dit opreg bedoel, sal jy ook mense rondom jou met meer genade behandel, en hulle sal dit agterkom.

Hoop is die onwankelbare sekerheid dat God se beloftes sal realiseer - gegrond nie op 'n ydele wens nie, maar op die werklikheid van die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. Wanneer jy stil voor jou Vader word, kan jy sonder enige skroom weet dat God luister en dat jou gebede bewaarheid sal word.

Maak die kamer se deur toe,  of enige plek waar jy alleen met God kan wees. Raak stil en nederig en luister na God se antwoord, om alleen saam met Hom te kan wees, sal jou al die vrede en rustigheid gee wat jou hart nodig het. Wanneer jy jou stilletyd net tot God rig kan jy dadelik die verskil voel wanneer jy opstaan en uitstap. Vol vrede en geluk.

"Vader, vandag raak ek stil voor U, help my om te fokus en net U in my gedagtes kan he en al die ander probleme en bekommernisse wat opdui, soos die wind sal verdwyn. Ek is Lief vir U".
Amen!.

Tuesday, 16 October 2012

Veilig in Sy Hande

Johannes 10:14-16 - Ek is die goeie Herder, Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken, en Ek le My lewe af vir die skape.  Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na My stem luister, en hulle sal een kudde wees met een Herder.
 


 Daar was 'n man wat teen 'n berg uitgeklim het na die monestrie wat hoog bo op die berg gesit het,  en die wind het geweldig gewaai, toe hy opkyk na die tou wat hom hou,  sien hy dat die tou uitgedroog is en het bang geword dat hy sal val. Toe hy bo kom vra hy vir die monnik,  hoeveel keer vervang jy die tou en die monnik antwoord,  "net elke keer as dit gereen" het.
 
Hang jou lewe ook aan 'n toutjie en jy is bang dat jy gaan val! onthou dat Jesus hou jou vas en niemand sal ons uit Sy hande ruk nie. Jy is veilig in die hande van die Heilige Gees en vir ewig sal Hy jou vas hou.



Psalm 46:2-4 - God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berg deur sy onstuimigheid.

Hy sal jou vashou dit beteken nie dat jy 'n kommervry lewe, sonder probleme, finansiele bekommernis om kop bo water te hou nie, maar Hy gee jou 'n veilige tuiskoms. Wat 'n vertroosing en versekering is dit vir ons nie. Dit is die Here se Hande wat jou dra en nie jy wat aan Hom vas klou nie.
 

Jesus het ons lief en jy is veilig in die Hande van jou Herder.

Romeine 8: 38-39 - Hiervan is ek oortuig: geen dood, of lewe, of engele, of magte, of teenswoordige, of toekomstige dinge, of kragte, of hoogte, of diepte, of enigiets anders in die skepping kan ons van die lierde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
 

Tuesday, 7 August 2012

Gee beheer oor aan Christus

Wanneer jy swak en kwesbaar is, voel ons baie keer eensaam en alleen. Daar is 'n brandende hopeloosheid wat oor jou hang. Moenie alleen voel nie, jy is nie die enigste een wat so voel nie.
Praat met God en vertel hom eerlik van jou gevoelens. Dit is van allergrootste belang dat jy sal onthou dat die Heilige Gees rondom jou is en God voorsien jou die krag om jou kop op te lig en voort te gaan. Ons moet net luister en sy stem sal jou dra op jou lewenspad.
Gee beheer oor aan Jesus Christus en Hy sal jou lei met selfvertroue om enige situasie en uitdaging onder te kry. Laat Jesus jou denke oorhees en plaas jou hoop op Christus en nie op jou eie vermoens nie.
 "Here vandag voel ek so kwesbaar, neem beheer oor my lewe sodat ek met vertroue in U kan leef. U almag is my waarborg dat my toekoms veilig by is en ek loof U daarvoor."

Is dit nie wonderlik om te weet dat God na jou sprekke met Hom luister en Sy teenwoordigheid bekend maak deur blywende hoop te verseker as ons net beheer aan Hom oorgee. Wanneer jou kragte begin ingee en jy dreig om tou op te gooi fokus net op Christus want sy liefde vir ons het ons vry gemaak.

Om te glo, hoop en lief te he vereis harde werk en ons kan dit alleenlike doen met die hulp van Bo. Laat die Here jou lewenspad vir jou loop en gee beheer oor aan Hom en die pad vorentoe sal so veel makliker wees. Ons is mensekinders en God weet dit, daar sal Hy jou nooit alleen laat nie. Volhard tot die einde en God gee jou die ewige lewe.

Hy is die Alfa en Omega, Begin en die Einde, Eerste en Laaste.
Amen