Showing posts with label lied. Show all posts
Showing posts with label lied. Show all posts

Saturday, 22 November 2014

Lewe met 'n gebed en 'n loflied in jou hart.


Psalm 30 - Vir altyd sal ek U loof: 2-3,5 - Ek wil U lof verkondig, Here, want U het my gered en my vyande nie laat bly wees nie. Here, my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. - Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof Sy heilige Naam ! 

 Ek maak nou my hart oop voor U dat U daarin kan woon. Vergewe my my sondes en maak alles skoon. Ek wil graag U kind wees en rein voor U staan op nuut.
 
Ek sing 'n nuwe lied uit my hart. Hy is die Koning, Hy is die Here. Kom sing 'n nuwe lied vir Hom!.

Wat ons bid, weerspieël wat ons glo. Ons geloofsoortuiginge bepaal egter ook ons gebede.

Ons gebede weerspieël hoe ons leef. Ons gebede bepaal ons etiek, ons visie van die soort samelewing wat ons wil hê, ons waardes, ons karakters, ons deugde, ons keuses, ons gedrag. Ons sien wat ons bid. Ons hang dit aan wat ons bid. Ons wórd wat ons bid. Ons ís wat ons bid. Ons lééf wat ons bid. Ons visie, ons waardes en karakter, ons deugde en gedrag bepaal, aan die ander kant, ook weer die inhoud van ons gebede.
Here ek wil stil word hier voor U voete. Ek wil hoor wat U vir my sê. Ek wil my hart vir U Gees oopmaak. Daar is soveel vrae wat ek U wil vra, oor dinge wat gebeur hier in my eie lewe en ook in die wêreld wat ek nie verstaan nie, maar ek besef dat dit U wil is, en daarom wil ek 'n loflied vir U sing. 
 
Psalm 134-1:3 - 'Pelgrimslied'. "Kom prys die Here, julle almal wat Hom dien, julle wat in die nag in die tempel van die Here staan! Hef julle hande in gebed op na die heiligdom en prys die Here. Mag die Here jou seën
uit Sion. Hy wat hemel en aarde gemaak het."
 
 Dankie dat U my vryspreek en leer my nou om te lewe, om soos Jesus te wees. Ek gee my lewe aan U as 'n offer, en alles wat ek is Heer, kom gee ek vir U. U is die Koning wat in my woon en regeer.

Talle mense ken nie die vreugdevolle lewe van vergeefdes nie en ervaar nie die bevryding van die bose in al sy vorme nie.
 
 "Onse Vader wat in die Hemel is, laat U wil Naam geheilig word, laat U wil geskied, laat U Koningryk kom"..
 
Amen!
 

Wednesday, 15 August 2012

My Dank Lied

'n Enkele gedagte van dankbaarheid wat opstyg na die Hemel, is 'n volmaakte gebed.

Here, ek sing 'n danklied tot U eer vir al die seeninge, genade en liefde wat u so getrou, my deur die lewe dra.

Ek word so baie oorval met emosies en gedagtes wat my moedeloos en ontevrede maak, maar dan gee U my, U beloftes, elke dag dat U my sal dra tot die einde. Ek is opreg dankbaar vir U seeninge en wonderlike liefde. Ek is dankbaar dat U my gedagtes ken nog voor ek dit tot werklikheid gebring het.
 U is 'n wonderlike Vader en wanneer ek stil word in U teenwoordigheid en na al die goeie dinge kyk wat U my voorsien het, voel ek klein en nederig.

Psalm 145
"Ek wil U lof verkondig, my God en Koning,
ek wil U Naam altyd loof, elke dag wil ek U loof,
ek wil U Naam altyd prys, die Here is groot,
alle lof kom Hom toe, Sy grootheid is ondeurgrondelik"

U is in volkome beheer van my lewe en daarom kan ek met volle vertroue in U leef. Prys die Here aan U kom al die eer toe.

Dankie dat U altyd oral om my is - Dankie vir genade - Dankie dat ek veilig by U kan skuil.
Dankie dat ek my hart tot U kan oopmaak,
Dankie dat U my liefhet, en leer my om lief te he soos U my liefhet.
Amen