Showing posts with label gebed. Show all posts
Showing posts with label gebed. Show all posts

Tuesday, 11 November 2014

As die storms oor jou woed - Buig jou kop in gebed !


Jesaja 43:2-3 - "Äs jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder...."

God is steeds daar in ons donker dae. Daar is dae dat dit voel of al die getye teen jou draai. Storms woed oor en om jou -  in jou persoonlike lewe, werkomstandighede, familie en vriende.

'n Vriendin het vir my die ander vertel, dat dit voel vir haar of almal iets van haar wil hê en hoe meer sy gee, hoe meer vra hulle nog van haar. Sy voel leeg. Is dit nie ook hoe ons almal, partykeer voel nie! Jy voel jy gee en gee maar kry niks terug nie.
 
Sodra dit lyk of jou lewe net mooi aan die gang is, en die son blink buite skyn, bars 'n storm ewe skielik uit oor jou met allerhande probleme en jy weet nie waar om te begin om al die vure dood te slaan nie. Jy wil op 'n hopie gaan sit en huil. Dit voel of jou lewe uit mekaar val.
 
Dan sê die Here "Ek is by jou, as jy deur diep waters moet gaan, is Ek by jou."
 
Dis wanneer ons, ons kop moet buig en bid. Ons moet mekaar toelaat om ook die smart van die werêld op ons harte te dra en te verwerk, met die genade van die Here.
 
God het ons trane gegee om ons blydskap, smart, pyn,  rou en treur, uiting aan te gee. Dis 'n proses waardeur ons moet gaan. Ons leef in 'n gebroke werêld, maar in die hande van 'n almagtige God.
 
Al wat Hy vra is dat jy, wanneer die storms woed, nie vir een oomblik moet vergeet, dat die Here, jou God, daar vir jou en my is nie. Jy is nie alleen nie.
 
God is in beheer van jou lewe en vertrou op Hom. Berus in Hom en moet nooit jou geloof en hoop laat vaar nie.
 
So, - as die storms oor jou woed, buig jou kop in gebed en loof die Here. !
 
My gebed: "Here, Almagtige Vader, dankie dat U daar is my, wanneer die storms kom, ek weet dat ek nie alleen is in donker dae nie en dat ek my berusting in U kan vind".
Amen!
 
 
 
 

Wednesday, 15 August 2012

My Dank Lied

'n Enkele gedagte van dankbaarheid wat opstyg na die Hemel, is 'n volmaakte gebed.

Here, ek sing 'n danklied tot U eer vir al die seeninge, genade en liefde wat u so getrou, my deur die lewe dra.

Ek word so baie oorval met emosies en gedagtes wat my moedeloos en ontevrede maak, maar dan gee U my, U beloftes, elke dag dat U my sal dra tot die einde. Ek is opreg dankbaar vir U seeninge en wonderlike liefde. Ek is dankbaar dat U my gedagtes ken nog voor ek dit tot werklikheid gebring het.
 U is 'n wonderlike Vader en wanneer ek stil word in U teenwoordigheid en na al die goeie dinge kyk wat U my voorsien het, voel ek klein en nederig.

Psalm 145
"Ek wil U lof verkondig, my God en Koning,
ek wil U Naam altyd loof, elke dag wil ek U loof,
ek wil U Naam altyd prys, die Here is groot,
alle lof kom Hom toe, Sy grootheid is ondeurgrondelik"

U is in volkome beheer van my lewe en daarom kan ek met volle vertroue in U leef. Prys die Here aan U kom al die eer toe.

Dankie dat U altyd oral om my is - Dankie vir genade - Dankie dat ek veilig by U kan skuil.
Dankie dat ek my hart tot U kan oopmaak,
Dankie dat U my liefhet, en leer my om lief te he soos U my liefhet.
Amen



Monday, 16 April 2012

Poort na God is smal en moeilik, maar geloofwaardig

Die Poort na God is smal.
God is almagtig. Neem al jou bekommernisse een vir een na Hom en omring jou met geloofsmentors wat jou kan help in moeilike tye. Onthou, die pad na God is nie maklik nie. Wanneer jy jouself aan Hom oorgegee het en die pad begin loop, is dit smal en  moeilik en baie kere verloor jy geliefdes en vriende  op die pad, want jou lewe het drasties verander. Daarom het jy geloofmaats nodig. Maar wees verskeker God is met jou al die pad.

Wanneer jy in ondenkbare situasies beland, moenie moed opgee nie, soek onmiddelik God se leiding. Plaas jou self onder die Heilige Gees se leiding. Mense sal nie altyd verstaan waarom jy nie wil ingee op versoekings nie, maar God sal jou lei en hou net vas aan sy hand, bid gedurig en loof Hom.  Rig jou denke volgens die waarheid. Dis so maklik om af te dwaal in moeilike tye, en dan kan ons soms tydelik ons greep op die samelewing verloor.Hou in sulke tye aan sy Woord vas.

Wanneer jy nie weet wat om te doen nie, onttrek jou van druk en reik in vertroue na God vir antwoorde. Herriner jouself voortdurend aan Sy goedheid. Vra hom soggends en saans om jou vrese weg te neem. Vra die Here om jou te help om die regte pad in hierdie samelewing te loop. Vervang kommer met lofprysende gebede want dit verlig jou siel en verdryf kommer.

Voeg elke dag 'n dankie by vir sy Goedheid. Ek het geleer dat wanneer ek worstel met 'n probleem, net eenkant toe te staan, my oe op Hom hef en vra dat Hy my moet help. Ek kan dit nie alleen doen nie. Hoe wonderlik is dit as wanneer ek weer probeer met dieslfde probleem, dinge anders en so maklik lyk. U is 'n wonderlike Vader en ek Loof U. Glo dat jou Vader se getrouheid is ook vir jou beskore, want dit maak dit so maklik om Sy seen raak te sien.  

 God gun jou soveel omdraaikanse. Draai jou rug op wat was en kweek aan gebed, as reddingsboei. Leef in dankbaarheid en  maak vrede jou anker. Die pad vorentoe mag smal en moeilik wees, maar met al jou geloof, hoop en liefde kan jy verseker wees dat jy die poort sal bereik. Laat sy Heilige Lig oor jou skyn en ek bid dat jy vrede in jou hart sal vind.
Amen.