Showing posts with label liefde. Show all posts
Showing posts with label liefde. Show all posts

Saturday, 8 February 2014

Liefde is 'n daad !

             1 Johannes 3:18 - "Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid".

Elke goeie werk wat ons doen is 'n daad van liefde ...Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde, God in hom wees.
 
Februarie is gewoonlik die maand van liefde.. Ons is almal maar mense, party mense glo in "Valentyn'sdag" en ander nie  - maar as ons die vraag stel, waar kom liefde vandaan, dan kan ons net aan een ding dink, God is liefde en Hy woon in ons harte.  
 
Wanneer die liefde in ons harte is, is dit soveel makliker om ook liefde aan ander te bewys en goeie dade te doen.

 
Die belangrikste is, as jy maar net in Jesus Christus bly glo, solank jy net in sy liefde bly, dan sal liefde ook in jou hart bly leef. Vra God om jou te help om liefde ook aan ander te bewys en daardeur jou goeie dade voort te sit. Wanneer die liefde 'n werklikheid geword het, dan kan ons ook vanuit die liefde, gaan lewe in alle goeie werke.
 
Elke goeie werk is 'n daad van liefde - Laat ons uitgaan en liefde bewys in ons dade sodat die regterhand nie weet wat die linkerhand doen nie.  Ons probeer partykeer uitbasuim wanneer ons 'n goeie daad verrig het, want almal moet daarvan weet. Wees verseker, jou Vader in die Hemel weet alles wat jy doen. Prys God! -  Moenie toelaat dat ons liefde vir ander, afwater nie.
 
Larry Grabb -"liefde beteken om sonder selfbeskerming nader aan ander te beweeg. Deur lief te hê word ons kwesbaar vir die seerkry, omdat ons geloof in die krag van die liefde groter word as ons vrees vir verwerping. Natuurlik maak dit seer om lief te hê, maar om nie lief te hê nie, maak nog seerder".
 
Geloof, Hoop en Liefde - bly hierdie drie - en die grootste hiervan is die Liefde
 
My gebed: "Hemelse Vader, God van liefde, help my om liefdesdade aan ander, deur dade te wys en uit te gaan om goeie werke alleenlik in U naam te doen".
Amen.

 

 

Tuesday, 17 December 2013

Die wonder van Jesus se geboorte !

 

Lukas 2:  Maria was 'n maagd en verloof aan Joseph -  Vers 28 - "Toe die engel by haar kom sê
hy; "ek groet jou, benagenadigde! Hie Here is by jou". - Vers 31-33 - "Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word.  Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader David gee, en Hy sal koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie". 

Elke persoon wat die wonderboodskap van Jesus se geboorte gehoor het, was verwonderd. 'n Maagd bring 'n kind in die lewe. Hoe sterk moet jou geloof wees om dit te verwerk!. - God het ons so lief gehad dat Hy 'n mensekind geword het om ons te verlos van ons sondes.
Ons almal se lewens was onherroeplik verander.
 
Die kersfeeswonder is nie 'n wonder wat ons vir ons self moet hou nie.
Hoe lank gelede het dit gebeur en tog elke Desember vier ons Sy geboorte of jy glo of nie. Alle eer kom God toe.
Gaan uit en kondig die boodsap  aan almal wat jy teekom!
Jesus is die seun van God. Die wonder van sy geboorte sal vir ewig leef.  Jesus se blye boodskap is steeds vir almal bedoel.
 
 "Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het".
 
As jy bereid is om te lewe tot sy eer, sal God vrede in jou hart en lewe gee.
 
Kersfees is die tyd dat jy en ek ons verhouding met God hernu, en saam met die Engele 'n loflied tot Sy eer sing.
Het jy al vrede gemaak met die mense om jou ? - God is vrede en liefde. 
Mag die vrede en vreugde van Kersfees deur die hele jaar elke dag by jou wees.
 
My gebed: "Hemelse Vader, dankie vir U liefde en dat U vrede op aarde bewerkstel. Help my om vrede in my lewe te handhaaf en ek wil U eer elke dag van my lewe. Dankie vir Jesus se geboorte sodat ek U kind kon word."
Amen!
 

Saturday, 9 February 2013

U vee my trane af.

Daar is donker tye in my lewe en U vee my trane af.. Hoe dankbaar is ek vir U bestaan. Alleen kan ek dit nie doen nie. O Here, wees my genadig. U alleen kan die seer in my hart regmaak.


Dit is goed dat ek swaarkry, want daardeur het ek U voorskrifte geleer. Dat U my laat swaarkry, is 'n teken van U trou.. - Ps.119:71.
 
Ontferm u oor my, dat ek kan lewe volgens U voorskrifte. Ek smag na U redding en ek vertrou op U woord.
 
Nie een van ons kan swaarkry vryspring nie. As jy onderneem om God se wet na te kom, sal Hy jou beskerm in alle gevaarsituasie en ook jou seer uit jou lewe neem. In Psalm 42,  is daar 'n versugting na God. "Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God".
 
 
Siekte en hartseer kan verreiklike gevolge he, en jou selfs aan God se liefde laat twyfel. Plaas jou lewe in God se hande en jou gebede sal verhoor word. Ek het ondervind dat God altyd aan Sy woord getrou is.
Dankie Here, dat my hoop nog op U is en dankie dat ek na U toe kan kom, en soos U belofte, vee U my trane af en omsirkel U my met U liefde en beskerming.
 
'Here vandag bid ek vir U beskerming oor almal wat hierdie woord lees en hartseer en trane het wat afgevee moet word. Seen elkeen van ons en laat U lig oor ons straal sodat ons ons hoop op U sal plaas".
 
Amen!
 

Friday, 28 December 2012

Geloof, Hoop en Liefde - drie kragtige woorde

Drie kragtige woorde - Geloof, Hoop en Liefde
 
1 Kor. 13:13 - En nou: geloof, hoop en liefde bly,  hierdie drie..En die grootste hiervan is die liefde!.
 Hierdie drie woorde is die spil waarom alles draai in God se plan met ons, maar onthou die belangrikste hiervan is Liefde. Liefde kan nie gemeet word nie.
  
Geloof is wanneer jy die sprong van jou lewe wil doen en hoop dat dat jy sagkins sal land, maar dit nie kan doen sonder die liefde van God se arms om jou nie. Wanneer jy blindens jou toekoms in die Vader se Hande plaas en weet dat jou geloof so sterk is dat geen haar van jou kop sal val nie, maar onthou dat Hy sal egter jou ook in konflik van die wereld  plaas, maar as jy getrou en gelowig bly, sal jy die oorwinning van Sy liefde ontvang en ervaar.
 
Moet nooit bang wees on 'n onbekende toekoms aan God toe vertrou nie.  Die pad kan wel eensaam en gevaarlik wees. Partykeer sal jy twyfel dat jy die regte besluit geneem het, maar by God is niks ontmoontlik nie en die belofte van Hom om jou te dra wanneer jy Hom nodig het, sal altyd op jou lewenspad wees. Om die regte geloofsverhouding met Christus te onderhou, is om jou hoop op Hom te plaas ter alle tye.
 
In jou oomblik van wanhoop draai na God toe en vertrou op die liefde van Hom, met die versekering dat Hy op jou roepstem sal antwoord. Laat die Heilige Gees toe om jou te lei en ervaar Sy onuitputlike krag en liefde en aanskou se reddingsdade met bewusvordering van sy krag. Dit is altyd 'n moeilike deel om alle beheer van ons lewens aan God oor te gee, want ons dink ons kan dit self regmaak, maar wanneer jy hierdie geloofstap neem en jou lewe aan Hom toevertrou, sal God die leiding neem en in alle omstandighede jou vertroos en versterk.
 
Wanneer jou geloof so sterk geanker is, waar jy ook al is, of wat ook met jou gebeur, wees verseker, God is met jou.
 Glo in God, Hy is jou Rots, jou redder al is Hy 'n onsigbare God.
 
Al die skatte in die wereld kan vergaan, maar Geloof, Hoop en Liefde sal altyd bly staan. Niks en niemand kan dit koop nie. 
 
God van liefde, help my om my geloof en hoop op U te rig en versterk my geloof van dag tot dag deur U werke. Amen.
 
 

Wednesday, 15 August 2012

My Dank Lied

'n Enkele gedagte van dankbaarheid wat opstyg na die Hemel, is 'n volmaakte gebed.

Here, ek sing 'n danklied tot U eer vir al die seeninge, genade en liefde wat u so getrou, my deur die lewe dra.

Ek word so baie oorval met emosies en gedagtes wat my moedeloos en ontevrede maak, maar dan gee U my, U beloftes, elke dag dat U my sal dra tot die einde. Ek is opreg dankbaar vir U seeninge en wonderlike liefde. Ek is dankbaar dat U my gedagtes ken nog voor ek dit tot werklikheid gebring het.
 U is 'n wonderlike Vader en wanneer ek stil word in U teenwoordigheid en na al die goeie dinge kyk wat U my voorsien het, voel ek klein en nederig.

Psalm 145
"Ek wil U lof verkondig, my God en Koning,
ek wil U Naam altyd loof, elke dag wil ek U loof,
ek wil U Naam altyd prys, die Here is groot,
alle lof kom Hom toe, Sy grootheid is ondeurgrondelik"

U is in volkome beheer van my lewe en daarom kan ek met volle vertroue in U leef. Prys die Here aan U kom al die eer toe.

Dankie dat U altyd oral om my is - Dankie vir genade - Dankie dat ek veilig by U kan skuil.
Dankie dat ek my hart tot U kan oopmaak,
Dankie dat U my liefhet, en leer my om lief te he soos U my liefhet.
Amen



Friday, 30 March 2012

Vestig jou Hoop op God

In 1 Korintiers 15:19-20 is Christus uit die dood opgewek, as eersteling uit die wat gesterf het.

Ons almal sien dinge nie vanuit dieselfde perspektief nie. - Geloof in God stel jou in staat om dinge te sien en te ervaar wat ander nie kan sien of ervaar nie. Daar is geen situasie wat so desperaat is dat God nie die geboorte van nuwe hoop kan skep nie.
Al is die lewenstorm hoe woedend en teisterend bly Hy die anker van hoop.

 
"Ek dank U, heilige Here Jesus, dat u liefde my hoop in sekerheid omskep".

Hef jou oe op van die posisie waar jy nou is en maak voorraadopnames. Vra jou dan af waarvandaan jy kom en waar jy is.
Die magte van die bose wat jou wil ontsenu, en wanneer jy magte en krage teen jou en alles wat vir jou kosbaar is, opgestel sien, jou moed jou begewe tensy jy jou geestelike visie verby die verskynsels kyk en die groot waardhede van die Gees raaksien, Onthou ook dat die heilige Vader in die donkerste oomblikke, wanneer dit lyk asof die stryd teen jou gemik is, op sy naaste aan jou as Sy kind is.

"Here Jesus ek vestig my Hoop op U en glo onwrikbaar op U en Here Jesus, herstel die hoop in daardie mense wie se lewens besig is om uitmekaar te val".

Hou vas aan die hoop en die versekering van Christus wat gegaan het om vir ons plek te berei en wat ons dan sal kom haal sodat ons ook kan wees waar Hy is. Ons het ook die verskering dat ons met ons dierbares verenig sal word. Wat 'n heilige hoop om te koester.


  Vir ewig by U, Heer!  - Amen


Friday, 30 December 2011

Beloftes van God


Bekommernisse: Moet nooit toelaat dat enigiets of iemand God se plek in jou lewe inneem nie.

Wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng - Matteus 6:27

 Dankbaarheid: Ons moet vir God dankie se vir elkeen van sy seeninge.

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag - 1 Tessalonisense 5:18


Gebed: Maak seker dat al jou gebede op God gefokus is.

Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp. Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor. - Jesaja 30:19

Geduld: As jy getrou is aan jou roeping as volgeling van Jesus, sal jy nooit ongeduld toon wanneer jy met die nood and ander te doen het nie.

'n Verstandige mens beteuel sy humeur en stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees. - Spreuke 19:11

Hoop: Hou die hoop brandend in jou hart en vas aan die sekerheid daarvan.

Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig jou hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. - 1 Petrus 1:13

Liefde: Laat ons ons lewe in liefde leef onder die leiding van God.

God het die wereld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal he. - Johannes 3:16

Geloof: Dit is juis in oomblikke van terneergedrukheid en depressie dat ons die Here moet loof.

Ek wil U lof verkondig, my God en Koning, ek wil U Naam altyd loof. Elke dag wil ek U loof, ek wil U Naam altyd prys. Die Here is groot, alle lof kom Hom toe.

Vrede:  Dit vorm 'n belangrike komponent in 'n Christen se karakter. Hierdie vrede stel ons instaat om met ons medemens te lewe.

Geseend is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. - Matteus 9.9

Se nee vir kommer en laat vertroue opnuut in jou siel bot

Reik uit vir hulp;
Beheer jou emosies;
Maak vrede jou anker;
Kweek vertroue;
Klou aan gebed as reddingsboei;
Leef in dankbaarheid;
Draai jou rug op wat was;

Word stil en moenie toelaat dat vrae, bekommernisse en vrese jou gees van Hom afsluit nie.