Monday 18 August 2014

Moenie bang wees nie - neem die eerste sprong.

Jesaja 41:13 - "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek help jou".

Die lewe is veronderstel om 'n avontuur te wees - maar ons is so bang om die eerste stappie te neem - ons vrese vir die onwerklikheid maak ons bang en hou ons gekelder.

Jesus leer ons dat deur geloof en vertroue in Hom, 'n mens enige vrees kan oorwin.  Jy hoef nie skaam te wees as jy bang is nie - dit is deel van ons menslike natuur.

Ons val vas in angs as ons nie na Sy stem luister nie. Onthou jy is nooit alleen nie -
 
Moenie bang wees nie - plaas jou hand in Sy hand en Hy sal jou help om sonder vrees jou lewenspad te bewandel. Die Heilige Gees het mos juis gekom om ons te versterk. Deur die Gees se krag kan ons, ons angs oorwin.
 
Onthou, Jesus sit mense om ons, mede-gelowiges om mee te gesels. Dit help baie as jy hulle vertel van jou vrese en vra dat julle saam bid. Ons kan mekaar aanmoedig en bystaan. - Ondersteuningsgroepe is van groot waarde. Neem die eerste sprong en begin om 'n verhouding met gelowiges te kweek.

Psalm 23:4 - staan geskrywe, "al gaan ek ook in 'n dal van doodskadewee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my, U stok en U staf, die vertroos my"!
 
God ontferm Hom oor ons, In elke moeilikheid help Hy ons, daarom moenie bang wees nie en moenie ophou om jou troos by Hom te soek nie.
 
My gebed: "Here Jesus, dankie dat U vir my sorg en beskerm. Dankie dat wanneer ek bang is, U my met die krag van U liefde omring, sodat ek nie in angs verval nie".
 
Amen!
 
 
 


Wednesday 13 August 2014

As jy val - moenie moed verloor nie - staan op

2 Samuel 22:2-7- "Die Here is my rots, my skuilplek en redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk Verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder. Van geweld het U my verlos".

Die lewe kan soms baie hard en ongenaakbaar wees. As dinge te veel en woes raak, gaan skuil by die Here, want op Hom kan jy vertrou.
Moenie moed verloor as jy val nie, dis nie hoe hard jy val nie, maar hoeveel keer jy opstaan wat saak maak. Dit is ook nie wat die lewe na jou toe gooi nie, maar wat jy daarvan maak.
Die onderskeiding is, hoe ons reageer as ons val. Partykeer verwyt ons, onsself,  sommige van ons bly  en voel jammer vir onsself en vertel dan hoe onregverdig die lewe is. Die grootste deel van ons pad is ons eie keuses wat ons maak en moet dit dan hanteer met die krag en genade van die Here.
 
Ons bly maar menslik, swak en vol foute. Ons is nie volmaak nie en almal maak een of ander tyd foute, verkeerde keuses wat jou hard grond toe bring, maar as God jou anker en skuilplek is, kan jy verseker wees, jy gaan sterk anderkant uitkom. 
 
God het steeds 'n plan met jou en soms wil wil ons net moed verloor - ons lewens is so gejaag, daarom verander die Here ons rigting soms en word ons gedwing om stil te sit, om ons te laat besef wat Hy vir ons wil sê, in ons omstandighede.
 
Die Here het Sy oë oral op die aarde, sodat Hy die kan help wat op Hom vertrou met hul hele hart.
 
Daarom moenie moed verloor nie, ons almal struikel soms, staan weer op en leer daaruit en hou jou oë gerig op die Here. 
 Onthou daar is altyd hoop en as jy bly lê dan sien jy dit nie raak nie.
 
Die Here is jou rots en anker.

My gebed: "Here, Jesus help my om weer op te staan as ek val en  om nie moed te verloor nie. U is my rots en ek hou my oë stewig op U gerig".
 
Amen!
 






Friday 8 August 2014

Here, dankie vir vrou-wees


          Vrouedag-maand- Augustus


Hooglied 4:7-  'Alles aan jou is mooi, my liefling, aan jou is niks verkeerd nie'.


Ek is ‘n Vrou -  
Here, ek verruil die wonder van vrou-wees vir niks
Help my om in  elke faset daarvan ‘n kanaal te wees van U Goddelike liefde, lig en lewe, soos net ‘n vrou kan.

Ek is Ek –
Ek is menslik, Here-
Ek het foute en gebreke. Dankie dat U my aanvaar net soos ek is en my foute vergewe.

Ek is ‘n Maat –
Dankie vir die vervulling van ‘n huweliksmaat-wees, Here.
Dankie vir die gee en neem. Help my om nog meer te word wat die ander nodig het. Seën ons verhouding.

Ek is ‘n Ma -
Dankie vir die voorreg van ma wees –
Die wonder en pyn daarvan is soms te veel, maar ek is dankbaar dat ek dit kan deel met U, wat ook ‘n Vader is.

My-Dag –
Dankie dat ek ‘n af-dag kan hê, Here –
‘n dag om te doen wat lekker is – As dit dan nie vandag kan wees nie, neem ek later ‘n "ek-dag”.

Ek is ‘n Vriendin –
Here Jesus, dankie vir my wonderlike vriendinne -
Maak my ook ‘n ware vriendin vir hulle.  Ek wil ook ‘n vriendin wees vir diegene wat ek minder goed ken.

Ek is U sin, Here –
Ek is U volgeling Here Jesus . U is my Verlosser en Here.
Help my om te doen soos U gedoen het en te praat soos U gepraat het.
Vul my met U Heilige Gees.

 Amen!