Showing posts with label probleme. Show all posts
Showing posts with label probleme. Show all posts

Tuesday, 4 August 2015

Wanneer jy seer het, wees stil voor die Heer.

Sagaria 2:13 - Wees stil voor die Here, al wat leef. Hy kom uit sy heilige woning te voorskyn.

Wanneer jy voel dat alles te veel word en jy kan jou seer nie meer alleen dra nie, raak stil voor die Heer. Hy sal jou toevou in Sy genade en jy sal besef dat jy nie sonder Hom kan wees nie.

Hierdie pragtige woorde is een van die gesange - Lied 519

Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek spreek, en die wind en golwe bedaar, 
Ek sal ook jou getrou bewaar.

Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.
Ek is by jou, Ek gee jou krag.

Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Kom bring na My jou kommer en vrees.
Ek sal vir jou 'n toevlug wees.

Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou soos ek beloof.

My Heer, rustig sit ek by U Voete, want ek weet U sal my genade gee en my seer weer heel maak.
Dankie vir die belofte dat u my pyn en vrees ken.
U luister na my stem elke dag Heer.

My gebed: Dankie Hemelse Vader dat ek elke dag vir U tyd kan inruim en stil voor U kan word. Dankie dat ek my probleme, my seer, my wese met U kan bespreek, en weet dat U my dra elke dag.
Amen!


Monday, 20 April 2015

Sit jou probleme is Jesus se Hande


Psalm 40:2 - "Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor".
 
"Vertrou of die Here! Wees sterk en hou goeie moed".(Psalm 27:14)
  As die son voel dat dit nie meer wil skyn in jou lewe nie en sekere dinge jou ontstel, hou moed want Jesus is daar. Sit al jou probleme in Sy Hande en sien hoe die werkinge van Gods se lewenskrag in jou lewe werk.
 
 Moed en geloof is al wat nodig is,  om die grootste twyfel en vrese te oorbrug.

God, en die  Heilige Gees woon in jou en my, en ons moet net op Hom vertrou. Dit behels 'n sterk wil, deursettingsvermoë en baie vasberandenheid, maar met Jesus in jou midde, is alles moontlik. Al is ons struikelblokke hoe groot, en voel dat daar duisternis is,  is dit steeds aan God wie jou hart behoort en weet dat Hy sal voorsien elke nuwe dag.
 
God is ons verlosser, redder en leidsman en jy kan met 'n geruste hart al jou probleme in Sy Hande sit. Dit is vandag steeds die Almagtige se begeerte dat ons Hom sal dien.  
 
My gebed vir jou vandag is dat jy met jou oë op Hom gerig, sal vasbyt, en Hy sal jou saggies toevou in Sy Ewige Liefde.
 
Gebed: Vader in die Naam van Jesus bid ek, bind my asseblief vandag vas aan U Wil, U Waarheid en U Gedagtes. Dankie dat ek met oorgawe al my probleme In U Hande kan sit en weet dat ek nie verder daaroor bekommerd hoef te wees nie.
 
Amen!

Tuesday, 11 November 2014

As die storms oor jou woed - Buig jou kop in gebed !


Jesaja 43:2-3 - "Äs jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder...."

God is steeds daar in ons donker dae. Daar is dae dat dit voel of al die getye teen jou draai. Storms woed oor en om jou -  in jou persoonlike lewe, werkomstandighede, familie en vriende.

'n Vriendin het vir my die ander vertel, dat dit voel vir haar of almal iets van haar wil hê en hoe meer sy gee, hoe meer vra hulle nog van haar. Sy voel leeg. Is dit nie ook hoe ons almal, partykeer voel nie! Jy voel jy gee en gee maar kry niks terug nie.
 
Sodra dit lyk of jou lewe net mooi aan die gang is, en die son blink buite skyn, bars 'n storm ewe skielik uit oor jou met allerhande probleme en jy weet nie waar om te begin om al die vure dood te slaan nie. Jy wil op 'n hopie gaan sit en huil. Dit voel of jou lewe uit mekaar val.
 
Dan sê die Here "Ek is by jou, as jy deur diep waters moet gaan, is Ek by jou."
 
Dis wanneer ons, ons kop moet buig en bid. Ons moet mekaar toelaat om ook die smart van die werêld op ons harte te dra en te verwerk, met die genade van die Here.
 
God het ons trane gegee om ons blydskap, smart, pyn,  rou en treur, uiting aan te gee. Dis 'n proses waardeur ons moet gaan. Ons leef in 'n gebroke werêld, maar in die hande van 'n almagtige God.
 
Al wat Hy vra is dat jy, wanneer die storms woed, nie vir een oomblik moet vergeet, dat die Here, jou God, daar vir jou en my is nie. Jy is nie alleen nie.
 
God is in beheer van jou lewe en vertrou op Hom. Berus in Hom en moet nooit jou geloof en hoop laat vaar nie.
 
So, - as die storms oor jou woed, buig jou kop in gebed en loof die Here. !
 
My gebed: "Here, Almagtige Vader, dankie dat U daar is my, wanneer die storms kom, ek weet dat ek nie alleen is in donker dae nie en dat ek my berusting in U kan vind".
Amen!
 
 
 
 

Sunday, 3 November 2013

Die Here is altyd naby jou !

   Sefanja 3:17 - "Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat jou red. Hy is vol vreugde oor  jou, Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou".
       
Die Here is altyd by jou.  Die Heilige Gees het gekom om oor ons te waak. Hy is altyd daar.

Wanneer jy voel dat jy alleen is met jou probleme en ook jou vreugde, wees verseker dat God altyd by jou is. Moet nooit daaraan twyfel nie al voel dit soms dat God jou verlaat het. As jy in die dieptes van ellende en eensaamheid verkeer, roep net Sy Naam  en God sal jou nie teleurstel nie. Hy sal afbuig en jou hand vat en jou terug op die pad sit. Geen swaarkry is heeltemal onuithoudbaar as jy weet God is met jou.
 
Johannes 14:13 - Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.
 
Kyk op na die hemel en roep Sy Naam en besef dat Hy majestieuse krag besit en ontdek sy omhelsing.

Partykeer raak ek so gefrustreerd en geirriteerd as dinge nie reg loop nie, veral wanneer ek haastig by 'n plek of die werk moet kom en dan wonder hoekom ek so gestraf word, maar dan hang ek my kop in skaamte want besef dan, dalk was daar iets anders op my pad wat my sou verhinder om veilig my eindstemming te bereik, want die Here was naby en wou my laat besef dat my lewe in gevaar was en sodoende het Hy iets oor my pad laat kom.

"Here help my om net geduldiger en rustiger te lewe, om nie so haastig is en omgekrap word as iets verkeerd gaan nie", want ek besef U is met my".  

Die lewe se belangrikste strewe is nie om jouself te ken nie, maar om God te ken. As God nie die dryfveer van ons lewe is nie, is alle ander dinge wat ons najaag doodloopstrate, ook die poging om onsself te ken.

God se nabyheid kan 'n vervelige lewe opwindend maak en wees verseker Hy is altyd by jou.

Amen!
 

Monday, 1 July 2013

Lewende Hoop wat net God alleen jou kan gee


    1 Petrus 1:3 - Die lewende hoop en die egte geloof

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk, deur die opstanding van Jesus Christus, uit die dood. Nou het ons 'n lewende Hoop.

Almal van ons het hoop nodig. Iets om vas aan te hou. Sonder hoop sterf die mens. Maar rig ons, ons hoop op God?. Baie keer sê ons net wanneer dinge nie goed gaan nie; - "Öns hoop maar vir die beste". hoop dat dinge beter sal gaan - dit is wanneer ons 'n ander soort hoop nodig het; 'n hoop wat net God alleen vir ons kan gee. Ons word nuut wanneer God aan ons die geloof gee saam met sy Heilige Gees. Hou vas daaraan. Wanneer jy hoop deur die Gees van God kry, verander jou natuur en jy lewe nuut.

Deur jou hoop op God te plaas, teen alle omstandighede, kan jy alleen nuut word as God jou 'n lewende hoop gegee het. Dit vervul jou met nuwe blydskap as jy jou probleme en hoop op God gerig het. Jou toekoms sal verander en jy sal vind dat alles weer die moeite werd is.

Moenie bang wees nie, gryp die geleentheid aan en gesels met jou Vader in die Hemel want Hy sal Hom oor jou ontferm en elke dag saam met jou stap.

"Hemelse Vader, dankie dat ek my Hoop net op U kan plaas en weet dat U die Lewende Hoop aan my sal gee deur U Gees en dat ek weer nuut gebore sal wees".


Tuesday, 26 February 2013

Lewenspad - nie sonder probleme

                                                         

 Rig jou oe op  na God! - Hy is jou verlosser
Wanneer dit voel of jou lewenspad net nie wil vlam vat nie, moenie tou opgooi nie. - Ons is geroep deur God wat altyd daar is vir ons. Ons lewenspad is alreeds vir ons uitgele, al is daar dae dat jy bedroef word en voel dat daar geen lig aan die einde is nie.


Here, my God, op U vertrou ek met my hele hart. Ek weet dat dit partykeer voel of my lewenspad hier op aarde net vol probleme is en ek wil handdoek ingooi. Net U teenwoordigheid maak dit moontlik om helder te dink".

Waar jy nie meer kan loop nie, daar sal Hy jou dra.
Hebreers 12:11-13 - Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir die wat daardeur gevorm is, 'n goeie vrug: vrede sodat julle gehoorsaam is aan die wil van God. Versterk daarom die slap hande en die lam kniee, en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word".
Ons moet leef vir die dag. Wat verby is kan jy niks aan doen nie, wat voorle weet ons nie, maar elke dag wat aan jou geskenk word, leef dit volgens die wil van die Here. Die Here ontferm Hom oor sy kinders wat Hom dien.

Here, vir die reis wat voorle, laat U genade en liefde soos 'n ligte bries oor my waai sodat ek U innerlike krag en vrede kan vind. My lewenspad is vir my uitgele, op U vertrou ek,  al vind ek daaglikse probleme op my pad, my kruis sal ek dra met vreugde, want U is met my al die dae van my lewe tot die einde van die wereld.
Amen!

Thursday, 1 March 2012

Geloof

Die wyse man bid in die storm tot God, nie vir veiligheid van gevaar nie, maar vir verlossing van vrees - Ralph W Ewerson.

God werk in ons lewens op geen ander wyse as deur dit wat Hy in sy Woord belowe nie.
Vir ons is dit net so maklik om te se dat ons glo in Jesus, die Seun van die lewende God, maar wanneer die storms en rampe van die lewe om ons woed en aan ons fondamente ruk, dink ons wanhopig dat ons verlore is en voel ons van God verlate. Kan jou geloof altyd die storms van die lewe trotseer?

Met jou geloof stewig geanker in jou Verlosser en Redder, Jesus Christus, kan die storms maar kom. Jy sal veilig en gekoeser die oorkant bereik.
"Here Jesus, spreuk u gesagwoord en kalmeer die storms wat ek vandag moet hanteer" Amen

Om te leef deur geloof en op God te vertrou om op Sy tyd Sy werk deur ons te doen kan ons dalk die instrurment wees wat God gebruik om genesing en hoop te bring in die lewe van iemand wat desperaat daarop wag. Selfs geloof so groot as 'n mostertsaadjie is vir Hom meer as genoeg om uit te reik na mense.

Om te gee nog voordat jy terugontvang het, is 'n daad van geloof. Hy gee oorvloedig aan hulle wat niks verdien nie. As jy getrou is, God bly getrou. Mag God gee dat jou geloof sterk sal wees.  Moenie probeer om dinge op jou eie manier te doen nie, vertrou op Hom en plaas al jou worstelinge in sy hande. Erken aan jouself dat jy nie alle probleme self kan oplos nie.  Soek God se leiding in alles wat jy doen.
So keer geloof in die mooi van die lewe weer bietjie vir bietjie terug.

"Dankie, Here Jesus dat ek deur U verlossing elke dag in die geloof kan lewe"

Amen!