Showing posts with label nood. Show all posts
Showing posts with label nood. Show all posts

Monday, 8 June 2015

Voetspore

Voetspore

 


Psalm 63:8 - "U is vir my 'n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels".

Here, ek is besig om 'n pad te loop nader aan U en weet dat U my dag na dag sal dra.

Soms oor lang dae en lang nagte wonder ek waarheen my lewe my sal lei, dae vol kommer, maar as ek aan U dink en oor U peins in die nag, dan weet ek U is vir my 'n hulpbron. 

U belofte dat U vir my die regte pad sal aanwys maak dit soveel makliker. By U vind ek beskerming en U dra my.

En die Here antwoord - "My liewe kind, ek het jou nooit verlaat nie! Die tye toe jy slegs een ry voetspore gesien het, was dit die tye toe ek jou gedra het".

Het jy al gewonder as jy op die strand loop en al die voetspore in die sand sien, wie se spore dit is ! - Was hulle alleen en diep in gedagte - eensaam, hartseer of was dit paartjies wat hand in hand geloop het,  baie verlief en gelukkig. Ons almal laat onvermydelik fisiese voetspore in die werêld om hooplik 'n verskil te maak.

So loop Jesus die pad vir ons ook vooruit. Hy dra ons in tye van nood. Hy hou ons voetspore dop en ontferming Hom oor ons. Ons moet Hom net volg. 

Petrus 1 - 2:21 staan geskryf;  "Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg".

My gebed: - "Hemelse Vader, dankie, dat U dit vir my moontlik maak om die voetspore van gister te kan vergeet en 'n nuwe pad vorêntoe met U aan my sy te loop.  Here, ek bid dat U weer vir my openbaar hoe belangrik U Woord in my lewe is."

Amen!

 

Friday, 17 May 2013

Moenie bang wees nie, Luister as God fluister.



Josua 1:9 - "Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is oral waar jy gaan."


Hoe anders kan ons nie wil bang wees in die samelewing wat ons in lewe nie. Met al die koerant berigtes en nuus oor verkragting, kaping, pyn, molestering en oproer in die wêreld, maak dit baie moeilik om nie te vrees nie. Miskien is dit nie hoe menslik dit is om bang te wees nie, maar oor die hantering daarvan.

Pyn en trauma kan nie altyd vermy word nie, dit kom oor ons pad, een of ander tyd, maar as jy vasklou aan Jesus se hand, sal Hy jou vertroos in tye van pyn en nood. Vra vir die Here vir krag wanneer jy voel dat al jou kragte ingee en al bewe jy van vrees, want met Sy hulp kan jy met vasberandenheid glo dat ons lewens nie met vrees oorheers word nie, maar deur die Woord van God!

In Psalm 118:  lees ons "Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?"

Wanneer jy bang is, luister as God vir jou fluister en sê; "my kind, vertrou volkome op My en moenie bang wees nie,  Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipte gelei het".

Onthou God fluister gereeld vir ons, as ons net wil luister, deur 'n sagte aanraking van die wind, 'n warmte op jou gesig van 'n son se straal, 'n bloeisel wat oopgaan, 'n stem in ons hart  en eweskielik 'n fladering binne ons, dis alles tekens dat God met ons is.  Kyk om jou en sien die tekens van God raak.

God gebruik soms dramatiese gebeurtenisse om ons te kry om ons ore oop te maak en na Hom te luister.

Moenie bang wees nie!

"Dankie Hemelse Vader, dat ek volkome weet dat dit nie nodig is om bang te wees nie, want U is daar om my te beskerm teen enige onheil". Help my om te luister, as U, fluister".
Amen.

Tuesday, 30 April 2013

U, is my lig op my pad

Psalm 119:105 -  "U woord is die lamp wat my die lig wys, die lig op my pad"

Daar is soveel onsekerheid in ons wêreld en op ons pad dat ons partykeer wonder hoe kan ons die toekoms aanpak, as ons nie seker is waarheen ons gaan nie.  God gee ons die versekering dat Hy altyd daar is in tye van teёspoed en nood. Die Here verstoot nie sy volk wat aan Hom behoort nie.

Met die lig van God se woord kan ons met vertroue die lewe ingaan sonder om bang en angstig te wees.


 Wanneer Jesus Christus deel is van my lewe dan kan ek met die Woord van die Here as lig selfs in my donker tye van my lewe sonder bekommernisse ingaan. Ons het lig nodig en die Here gee vir ons 'n lamp...."sy Woord, sy Wet".

God se Woord is die Lig wat ons moet saamdra op ons pelgrimreis na die onbekende want dan is die lewe nie so donker nie, want die woord is die lamp van God wat die duisternisse van jou lewenspad lig gee.

Wat 'n wonderlike gedagte om te weet dat ons nooit weer in die donker sal struikel nie, want God is met ons en Sy lig sal altyd oor ons skyn.

"Dankie Hemelse Vader vir die lig van U lamp wat U ons gee om saam met ons te dra om die donkerte tye van ons lewe op te lig."
Amen!

Wednesday, 17 April 2013

Vind Beskerming onder God se Vleuels

Psalm 63:8 - U is 'n hulp vir my, in die skadu van U vleuels sal ek jubel.
 
Onthou God is by ons. Hy neem ons in sy arms of sit in stilte by ons, totdat ons nie langer kan ontken dat God ook hierin by ons is nie. Sy teenwoordigheid maak dit moontlik vir ons om berusting te vind en volkome te weet dat Hy ons beskerm. God se liefde ken geen perke nie.


Daar is 'n plek waar 'n mens niks besit sit nie, maar waar niks jou ooit ontbreek nie, omdat God daar teenwoordig is en die beste en hoogste doelwit in hierdie lewe is om stil te wees en om God toe te laat om deur jou te werk en te praat. Hy sal jou beskerm teen alle aanvalle.
 
Ons moet die Here waarlik ken en in die lig van Sy aangesig wandel.  Wanneer ons voel dat ons bedreig word, moet ons die Here in gebed aanroep en  ook elke dag vir ons veiligheid en beskerming vertrou - nie net op 'n geestelike vlak van die duiwel se versoekings nie, maar ook op 'n fisiese vlak van bose mense.
 
As ons egter ons toevlug by die Here neem, sal Hy ons beskut en bewaak onder Sy vleuels .
 
God is lief vir jou en my. Hy is die bewaarder van almal wat in Hom glo. God sal jou bewaar en beskerm omdat Hy jou naam ken en Hy sal jou aanroep in nood en sal altyd by jou wees.
 
Psalm 1:1-3 - Gelukkig is die mens wat vreugde vind in die gebooie van die Here. Hy is soos 'n boom geplant langs waterstrome, wat vrugte dra op die regte tyd. Sy blare verwelk nie; in alles wat Hy doen, is Hy voorspoedig.
 
My gebed: "Here, dankie dat U die Bewaarder en Beskermer is van almal wat toevlug by U neem.  Dankie dat ons veilig is by U want ons is diep van U afhanklik. Dankie dat U ons onder U vleuels neem wanneer ons berskerming soek, in Jesus naam alleen."
Amen