Showing posts with label vreugde. Show all posts
Showing posts with label vreugde. Show all posts

Sunday, 18 January 2015

Dans jy ook in die reen as die storms woed !


 
 
 
 

Matthews 5:3  - "Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koningryk van die hemel".

Wanneer ons deur moeilike tye gaan en die storms woed oor jou, gaan lê
jy en rol jou op in 'n bondeltjie en wag dat die storms oor jou kop weggaan of gaan jy uit en dans in die reën.
Ons is partykeer soos die aarde, dor en uitgedroog van al ons probleme en kan nie nugter dink nie. Die donderweer, weerligte is vir ons ongemaklik en ons kry koud.
Daarom is dit ons natuurlike instink, om die storms te ontvlug, êrens onder ’n skuiling te gaan wegkruip.

God maak partykeer die sluise oop van Bo en laat die reën uit die hemel op ons neersif, sodoende om ons te genees van ons smarte en dan ons weer silwerskoon te was. Wees spontaan en gaan dans in die reën en voel die vreugde van geluk weer oor jou spoel. Moenie bang wees om nat te word nie. Weet net dat iets groots besig is om met jou te gebeur.
 
Wanneer jy in God se seënreën beland, word jy nie ongerief gespaar nie; - God wil net laat weet, Hy, is nog daar vir jou en Hy, sal jou bystaan deur al jou droefheid en hartseer. Dis om ons weer bewus te maak, hoe afhanklik ons van Hom is.
 
God se genade is met jou.
 
Wanneer jy besef dat God besig is om, deur Jesus, sy genade  uit te giet, dan word hier ’n vreemde geluk in jou hart wakker. Dan besef jy dat Jesus ’n nuwe en vreemde werklikheid gebring het. God gebruik jou en my, om soms soos verlepte plante wat water nodig het, sy seëninge oor ons te laat reën sodat ons weer kan groei en met vreugde in ons harte, te gaan dans in die reën.
 
Die lewe is nie om te wag vir die storms om  weg te gaan nie, maar om uit te gaan en te leer om te dans in die reën onder sy seëninge.
 
My gebed: "Here, my Hemelse Vader, dankie dat ons kan dans onder U seëninge van reën, wanneer die storms oor ons woed en ook weer te besef hoe afhanklik ons van U is."
Amen!

Friday, 10 January 2014

God is altyd in beheer

      
Sefanja 3:17 – Die Here jou God is by jou. Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou. Hy is stil tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.                       

God is jou anker en om Hom draai alles. God is vir jou en my baie lief. Onthou, wat ook al gebeur in jou eie lewe, Hy is altyd in beheer. Niks groot en niks kleins sal in hierdie skepping gebeur, sonder die wil van God, onse Vader nie. –

Ons lewenspad is alreeds vir ons uitgelê. 

Tog vra ons die vraag, Hoekom!, as iets verkeerd gaan in ons lewens. Hoekom, ek!  - dan wonder ons, waarom gebeur daar slegte dinge met God se kinders? – waarom sorg Hy dan nie, dat sy kinders, nooit hartseer en pyn beleef nie? -

God sê in Jeremia 29:11 - “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: - voorspoed, en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting” – God wil vir ons ‘n goeie lewe gee. Hy is in beheer van elke enkele ding wat orals in die werêld gebeur. God ken die nagevolge van die effek daarvan - Hy het al die wysheid en Hy weet waarom Hy dit doen en toelaat. God het alreeds alle moontlike nagevolge reeds bereken, en Hy het die beste een gekies. Sy plan is alreeds uitgewerk - Hy is almagtig en is in beheer van hierdie werêld. 
Dis Hy wat jou krag gee om elke dag se druk te hanteer en die moed gee om soggens op te staan en die dag aan te durf.

Die vraag is net;- is jy bereid om voor God te buig, en te aanvaar, wat Hy oor jou pad, vandag en more, laat kom!  - Onthou, al wat God van jou en my vra, is om in Hom te glo en vaste vertroue en geloof te handhaaf. Hou vas aan jou geloof, en wees verseker dat Hy altyd daar sal wees. 

Matteus 10: 29-31 – “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? – en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. -  Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel – Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies”.

Sy beloftes hou stand, want Hy is in Beheer van jou, en ook die lewens van jou gesin! – God kom altyd sy beloftes na. 

“Here, ek vertrou jou met my hele hart, wat U ook al vir my beplan, is goed. Waar U my ook al heen lei, daar sal ek gaan”.

Amen!



 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

Tuesday, 3 December 2013

Kersfees vreugde !



Lukas 2:10-11- Toe sê
die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van David, die Verlosser gebore. Christus, die Here!"


Dis die tyd van die jaar wat ons almal ons vrese eenkant sit en met vreugde uitsien na Kersdag. Wanneer ons gereed maak vir Advent, die geboorte van Jesus Christus. Dit is tyd vir stil word en saam met al die gelowiges ons te verwonder oor die liefde van Jesus Christus - wanneer ons gereedmaak vir Sy wederkoms.

Dis die tyd nou wat ons die gejaagheid opsy moet sit, rustig raak en ons harte voorberei vir die Kersfees tyd. Maak tyd vir gesindheid, familie en vriende en 'n nuwe fokus vir die nuwe jaar wat voorlê.  Gee vir die minderbevoorregtes en konsentreer om liefde in mekaar se lewens te vestig.
 
Vir baie van ons is dit

die hoogte punt van die jaar. Kinders is vol verwagtinge. geskenke, koekies, lag en liggies weerspiëel orals.
 
Laat hierdie Adventyd waarin ons ons bevind, ons ook herinner dat Christus vir ons in die Vaderhuis plek gereed gemaak het - wees voorbereid op Sy koms soos 'n bruid wat wag op haar bruidegom.
 
Met Kersfees kom God naby jou. Christus se geboorte beteken vir ons lig, vreugde, fees en egte blydskap. Ware blydskap kom van God af. Deel vanjaar die vreugdeboodskap met almal om jou.
 
My gebed - "Mag die Here hierdie fees - vreugde en blydskap aan al sy kinders skenk. Here, help ons om rustig te word en tyd met U te spandeer. Dankie vir die wete dat U weer sal kom. Dankie vir Kersfees vreugde en liefde. Help my ook dat ek mede-deelsaam sal wees met my medemens, en U liefde en genade aan hulle sal uitstort."
Amen !
 

Sunday, 1 December 2013

Die groot vreugde – (saamgestel deur Marita Op’t Hof)


 
Om in ‘n koor te kan sing is een van daardie dinge in die lewe wat oneindig vreugde verskaf. Daar is ‘n soort terapie daarin wat ‘n mens heelmaak – wat jou laat vergeet van jou sorge en wat jou na ‘n hoër vlak van bestaan neem. Wanneer die liedere wat jy sing dan ook geestelike liedere is – Psalms en Gesange, of liedere uit die ryke skat van die Christelike musiek, het koorsang ‘n dubbele doel. Nie net is dit terapeuties nie, maar bring dit jou baie nader aan jou Skepper. Jy sing van jou Skepper, jy sing vir jou Skepper, en jy kom nader aan jou Skepper.

Die afgelope tyd het daar ‘n paar films verskyn wat hierdie betowering van koorsang vir ons uitbeeld, soos “As it is in Heaven en A song for Marion”. Maar die persoon wat die wonder van koorsang die mooiste kon beskryf, is die Franse skryfster, Muriel Barbery, in die hoofstuk “A Choir is a beautiful thing” in haar boek – The Elegance of the Hedgehog (Gallic 2008 – p.180-181) "

Ek vertaal vrylik:-
In ons pragtige woonbuurt is daar ‘n skool, en die skool het ‘n koor. Gister-middag was dit die skoolkoor se uitvoering.

Niemand dink dat dit vreemd is om in hierdie koor te sing nie, intendeel, almal wil graag deelneem, maar Monsieur Trianon, die musiekonderwyser, kies sy koorlede met die hand. Monsieur Trianon is jonk en musikaal en hy laat die koor nie slegs die tradisionele liedere sing nie, maar ook diè van moderne komponiste. Verder word die koor begelei deur uiters stylvolle orkestrasie.  

Die middag van die die uitvoering is die skoolsaal stampvol en daar heers ‘n atmosfeer van gedempte opwinding.

Uiteindelik verskyn die koor geklee in rooi en wit, met strikdassies vir die seuns en lang rokke met skouerbandjies vir die meisies. Orrweldigende applous volg.

Monsieur Trianon maak sy verskyning, gaan sit op ‘n hoë stoeltjie, sy rug na die gehoor, in sy hand ‘n dirigentstokkie met ‘n flitsende rooi liggie aan die punt. Stilte daal op die gehoor neer en die uitvoering begin.

Elke keer is dit van vooraf ‘n wonderwerk. Hier is al die mense met hulle hartseer, drome, wense, hoop en verwagtinge. Die skooljaar is gevul met programme en aksies en onbenuttighede.. Hier is al die onderwysers en al die kinders – almal besig om deur die ‘ lewe’ te stoei’ – die lewe vol hoop en trane en lag en verlore drome en onvervulde wense… Al hierdie dinge verdwyn in ‘n oogwink wanneer die koor begin sing.

Die alledaagse lewe verdwyn en word opgeneem in die wonder van die musiek. ‘n Mens word oorweldig deur ‘n gees van broederskap, ‘n diepte eenheid. Dit verander die wreedheid van die alledaagse lewe in ‘n gees van perfekte harmonie. Selfs die koorlede se gesigte word getransformeer. Ek sien nie meer vir Achille Grand-Fernet of Deborah Lemeur of Segolene Rachet of Charles Saint-Sauveur nie. Hulle verander in mense wat oorgegee is aan musiek.

Dit is elke keer dieselfde ding: Die huil wel binne in my op. My keel trek toe en ek probeer my uiterste om myself te beheer. Partymaal kan ek amper nie. Ek wil uitbars in snikke. Dus, wanneer hulle die kanon sing, kyk ek af an die grond: Dit is net te veel emosie op een slag – dit is soveel skoonheid tegelyk op een keer. Dit is wonderskoon – hierdie samesang en die gedeelde moment.
Ek is nie meer ek nie. Ek word ‘n deeltjie van ‘n verhewe eenheid waarvan die ander ook deel is. En ek wonder altyd in hierdie oomblikke waarom dit nie die realiteit van die daaglikse lewe kan wees nie – waarom dit slegs ‘n uitsonderlike oomblik moet wees wanneer die koor sing.

Wanneer die koor ophou, breek daar ‘n oorverdowende applous uit. Almal se gesigte is opgelig, die koor stralend. Dit is so pragtig.

Aan die einde wonder ek of die ware wenteling van die aarde nie dalk net ‘n  mensestem, verhef, in sang is  nie…

"Dankie Marita – ek is ook meegevoer met die pragtige klanke van musiek"..
 
Dankie dat jy die artikel ons my deel . !

 

 

Monday, 29 July 2013

Beleef jy dalk 'n geeslike seisoen in jou lewe !

       Seisoene wat kruis in ons eie lewens     


Ons lewens is partykeer soos die seisoene van die natuur - naamlik; Winter (depressie); - Herfs (hartseer/moegheid); Lente (opgewondenheid); en dan Somer (vreugde /liefde).

                 Winter: -   Is die tyd wanneer ons voel dat niks meer sin maak nie. Wanneer ons in 'n diep depressie gaan,  en ons onttrek onsself van alles en almal, hoop dat ons probleme sal verdwyn. Jy voel kaal gestroop soos die bome in die winter. - Soms wonder jy of God nog daar is en vra dikwels die vraag, hoekom / waarom?

 Psalm 10:1 Waarom staan U so ver weg, Here? Waarom trek U, U terug in tye van nood? Dis wanneer ons moet uitreik na God - Sy hand neem.-  in Matthews 27:46 het Jesus ook uitgeroep "My God, My God, waarom het U my verlaat?" toe Hy aan die kruis gesterf het.
Bly op die Here vertrou en bid gedurig. Dis nie maklik nie, maar kry 'n vriend/in om vir jou te bid as jy dit nie self meer kan doen nie. God is altyd met jou.


                  Herfs: - Jy het 'n geliefde verloor, voel harseer en partykeer voel jy so moeg van al die stampe en stote wat jou lewenspad kruis. Kyk dan na die pragtige kleure van die blare aan die bome en plante en weet dat God Sy hand oor jou gesit het. Dis soos 'n kaleidoskoop met al the wonderlike kleure. Ons moet deur die herfs in ons lewens gaan en beproewings sal aan ons gegee word, want dit beteken dat ons geeslik groei en jy kan al die probleme wat oor jou kom, afgegooi, en vorentoe beweeg. Dis so maklik om in versoekings te kom dat.

Lukas 24:38 - "Waarom is julle so verskrik en waarom kom daar twyfel in jul harte"
 Wees standvastig en pas stiltetyd toe saam met God en bid dat Hy Sy Heilige Gees oor jou sal neerdaal. 
             Lente: - Sodra die eerste bloeisels aan die bome verskyn en jy sien skoenlappers vlieg, kom daar 'n diepe opgewondenheid van binne-af oor jou. Dit borrel van opgewondenheid vir geen rede nie. Jy weet die tyd het aangebreek vir skoonmaak. Dis die tyd dat jy ook al die spinnerakke wat nog in jou lewe is, moet afstof, asook ons verhoudings met die Here regstel. Vergifnis gee aan diegene wat onreg teen jou gepleeg het. Dit is 'n seisoen wat jy jou gebedslewe weer moet opkikker en daagliks tyd wegsit saam met God. Sing 'n loflied tot Sy eer. Dit voel of dit nie so moelik is om versoekings te weerstaan nie.

Psalm 36:10 -  U is die bron van die lewe, deur U lig lewe ons. 
Dank die Here dat Hy hierdie wonderlike seisoen in jou lewe gebring het.



                Somer: - Jy voel die wonderlike son se strale sag op jou gesig skyn. Hemels!. Daar is 'n stappie in jou stap. Dis ook wanneer ons geeslike lewe vol sonskyn is. Ons voel gesond en daar is 'n lied in ons hart. Nou is die tyd dat ons voluit lewe en doen wat die Here ons vra om te doen. Nou sing ons soos voёltjies en ons hart is vol liefde vir mekaar. Daar is ook versoekings, maar dit is makliker om te weerstaan, want jy vertrou nou weer volkome op God. Ons sien dinge raak wat ons andersins nie wou, of kon raaksien nie, en daar is meer standvastigheid in ons verhoudings.

Psalm 18:33 - God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig.
Kom ons sing 'n lied tot God oor die somer in ons lewens.

Wat ook al die seisoen is waarin jy jou bevind op die oomblik, wees dankbaar, want elke seisoen moet kom en gaan, want dis hoe ons, ons self voorbery tot God se liefde en genade, en ons ons volkome vertroue op Hom plaas.

"Here, my God, - ons is nie altyd in die somer seisoen van ons lewens nie, maar ons weet dat U ons beskerm teen die aanslae van die wêreld. Dankie dat U soveel omgee vir ons en ons help deur elke seisoen van ons lewens. Ons dank U."
Amen!

Tuesday, 14 May 2013

Blydskap, vreugde en 'n glimlag weerspieёl deur die oё !

Spreuke 15:13 - Blydskap laat 'n mens se gesig straal.

Sodra ons opgewonde en bly is skep ons vreugde wat ons gesig laat straal en dit maak nie saak wat die dag bring nie, dit verander ons gesig, en 'n opregte glimlag is baie aansteeklik.

'n Glimlag wat ook in die oё sigbaar is, is die maklikste manier om ander te laat glimlag, want dit dra die vriendelikheid aan ander oor en skep vreugde oral waar jy mag gaan. Die vreugde van, om God by jouself te ervaar, ondanks jou omstandighede wat ook al, verander dikwels dat mense jou deur ander oё sien. Die glimlag sal nie die omstandighede waarin jy jou bevind verander nie, maar dit sê vir almal wat jy teёkom dat God nog in beheer is van Sy kinders.

Vreugde kan ook,  hoe negatief ons omstandighede is,  in die lewe van God se kinders laat besef,  dat God met ons is, want ware vreugde en blywende blydskap is alleen in die Here te vind.  Ons is God se kinders en wat 'n wonderlike geskenk is dit nie.  Blydskap maak ons kommer en laste ligter.  Om vrolik en opgeruim te wees, skep ons vreugde aan ander so ver ons gaan.
Meer nog, as jy die dag verslae voor God staan en jou sondes bely wat jy teen God oortree het, en God sê, "my kind, jy kan gaan want jou sondes is vergewe", bars die vreugde deur jou want jy is weer nuut, want Jesus het gesterf vir ons sondes.

Vriendelikheid en 'n glimlag kan nie met geld gekoop word nie, maar jy kan 'n verskil in iemand anders se lewe maak wanneer jy met opregte warmte en vriendelikheid na hom/haar kyk, maak nie saak wie die persoon is nie.

Dit is waar dat dit nie altyd maklik is om vrolik te wees nie, want alle verhoudings is broos, ons raak ouer, jy staan partykeer alleen en ander versaak jou, maar onthou God sal jou nooit versaak nie.

Psalm 43:4 - "vreugde, bring my na 'n heilige berg, na U woning, dat ek by U kan ingaan en met vreugde oor U kan jubel en juig!

Dankie Hemelse Vader dat ek met opregte vriendelikheid en blydskap na ander kan kyk want ek weet U is met my en my glimlag weerspieёl in my oё.
 Amen!

Wednesday, 17 April 2013

Vind Beskerming onder God se Vleuels

Psalm 63:8 - U is 'n hulp vir my, in die skadu van U vleuels sal ek jubel.
 
Onthou God is by ons. Hy neem ons in sy arms of sit in stilte by ons, totdat ons nie langer kan ontken dat God ook hierin by ons is nie. Sy teenwoordigheid maak dit moontlik vir ons om berusting te vind en volkome te weet dat Hy ons beskerm. God se liefde ken geen perke nie.


Daar is 'n plek waar 'n mens niks besit sit nie, maar waar niks jou ooit ontbreek nie, omdat God daar teenwoordig is en die beste en hoogste doelwit in hierdie lewe is om stil te wees en om God toe te laat om deur jou te werk en te praat. Hy sal jou beskerm teen alle aanvalle.
 
Ons moet die Here waarlik ken en in die lig van Sy aangesig wandel.  Wanneer ons voel dat ons bedreig word, moet ons die Here in gebed aanroep en  ook elke dag vir ons veiligheid en beskerming vertrou - nie net op 'n geestelike vlak van die duiwel se versoekings nie, maar ook op 'n fisiese vlak van bose mense.
 
As ons egter ons toevlug by die Here neem, sal Hy ons beskut en bewaak onder Sy vleuels .
 
God is lief vir jou en my. Hy is die bewaarder van almal wat in Hom glo. God sal jou bewaar en beskerm omdat Hy jou naam ken en Hy sal jou aanroep in nood en sal altyd by jou wees.
 
Psalm 1:1-3 - Gelukkig is die mens wat vreugde vind in die gebooie van die Here. Hy is soos 'n boom geplant langs waterstrome, wat vrugte dra op die regte tyd. Sy blare verwelk nie; in alles wat Hy doen, is Hy voorspoedig.
 
My gebed: "Here, dankie dat U die Bewaarder en Beskermer is van almal wat toevlug by U neem.  Dankie dat ons veilig is by U want ons is diep van U afhanklik. Dankie dat U ons onder U vleuels neem wanneer ons berskerming soek, in Jesus naam alleen."
Amen