Showing posts with label woed. Show all posts
Showing posts with label woed. Show all posts

Sunday, 18 January 2015

Dans jy ook in die reen as die storms woed !


 
 
 
 

Matthews 5:3  - "Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koningryk van die hemel".

Wanneer ons deur moeilike tye gaan en die storms woed oor jou, gaan lê
jy en rol jou op in 'n bondeltjie en wag dat die storms oor jou kop weggaan of gaan jy uit en dans in die reën.
Ons is partykeer soos die aarde, dor en uitgedroog van al ons probleme en kan nie nugter dink nie. Die donderweer, weerligte is vir ons ongemaklik en ons kry koud.
Daarom is dit ons natuurlike instink, om die storms te ontvlug, êrens onder ’n skuiling te gaan wegkruip.

God maak partykeer die sluise oop van Bo en laat die reën uit die hemel op ons neersif, sodoende om ons te genees van ons smarte en dan ons weer silwerskoon te was. Wees spontaan en gaan dans in die reën en voel die vreugde van geluk weer oor jou spoel. Moenie bang wees om nat te word nie. Weet net dat iets groots besig is om met jou te gebeur.
 
Wanneer jy in God se seënreën beland, word jy nie ongerief gespaar nie; - God wil net laat weet, Hy, is nog daar vir jou en Hy, sal jou bystaan deur al jou droefheid en hartseer. Dis om ons weer bewus te maak, hoe afhanklik ons van Hom is.
 
God se genade is met jou.
 
Wanneer jy besef dat God besig is om, deur Jesus, sy genade  uit te giet, dan word hier ’n vreemde geluk in jou hart wakker. Dan besef jy dat Jesus ’n nuwe en vreemde werklikheid gebring het. God gebruik jou en my, om soms soos verlepte plante wat water nodig het, sy seëninge oor ons te laat reën sodat ons weer kan groei en met vreugde in ons harte, te gaan dans in die reën.
 
Die lewe is nie om te wag vir die storms om  weg te gaan nie, maar om uit te gaan en te leer om te dans in die reën onder sy seëninge.
 
My gebed: "Here, my Hemelse Vader, dankie dat ons kan dans onder U seëninge van reën, wanneer die storms oor ons woed en ook weer te besef hoe afhanklik ons van U is."
Amen!

Tuesday, 11 November 2014

As die storms oor jou woed - Buig jou kop in gebed !


Jesaja 43:2-3 - "Äs jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder...."

God is steeds daar in ons donker dae. Daar is dae dat dit voel of al die getye teen jou draai. Storms woed oor en om jou -  in jou persoonlike lewe, werkomstandighede, familie en vriende.

'n Vriendin het vir my die ander vertel, dat dit voel vir haar of almal iets van haar wil hê en hoe meer sy gee, hoe meer vra hulle nog van haar. Sy voel leeg. Is dit nie ook hoe ons almal, partykeer voel nie! Jy voel jy gee en gee maar kry niks terug nie.
 
Sodra dit lyk of jou lewe net mooi aan die gang is, en die son blink buite skyn, bars 'n storm ewe skielik uit oor jou met allerhande probleme en jy weet nie waar om te begin om al die vure dood te slaan nie. Jy wil op 'n hopie gaan sit en huil. Dit voel of jou lewe uit mekaar val.
 
Dan sê die Here "Ek is by jou, as jy deur diep waters moet gaan, is Ek by jou."
 
Dis wanneer ons, ons kop moet buig en bid. Ons moet mekaar toelaat om ook die smart van die werêld op ons harte te dra en te verwerk, met die genade van die Here.
 
God het ons trane gegee om ons blydskap, smart, pyn,  rou en treur, uiting aan te gee. Dis 'n proses waardeur ons moet gaan. Ons leef in 'n gebroke werêld, maar in die hande van 'n almagtige God.
 
Al wat Hy vra is dat jy, wanneer die storms woed, nie vir een oomblik moet vergeet, dat die Here, jou God, daar vir jou en my is nie. Jy is nie alleen nie.
 
God is in beheer van jou lewe en vertrou op Hom. Berus in Hom en moet nooit jou geloof en hoop laat vaar nie.
 
So, - as die storms oor jou woed, buig jou kop in gebed en loof die Here. !
 
My gebed: "Here, Almagtige Vader, dankie dat U daar is my, wanneer die storms kom, ek weet dat ek nie alleen is in donker dae nie en dat ek my berusting in U kan vind".
Amen!