Showing posts with label trane. Show all posts
Showing posts with label trane. Show all posts

Tuesday, 11 November 2014

As die storms oor jou woed - Buig jou kop in gebed !


Jesaja 43:2-3 - "Äs jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder...."

God is steeds daar in ons donker dae. Daar is dae dat dit voel of al die getye teen jou draai. Storms woed oor en om jou -  in jou persoonlike lewe, werkomstandighede, familie en vriende.

'n Vriendin het vir my die ander vertel, dat dit voel vir haar of almal iets van haar wil hê en hoe meer sy gee, hoe meer vra hulle nog van haar. Sy voel leeg. Is dit nie ook hoe ons almal, partykeer voel nie! Jy voel jy gee en gee maar kry niks terug nie.
 
Sodra dit lyk of jou lewe net mooi aan die gang is, en die son blink buite skyn, bars 'n storm ewe skielik uit oor jou met allerhande probleme en jy weet nie waar om te begin om al die vure dood te slaan nie. Jy wil op 'n hopie gaan sit en huil. Dit voel of jou lewe uit mekaar val.
 
Dan sê die Here "Ek is by jou, as jy deur diep waters moet gaan, is Ek by jou."
 
Dis wanneer ons, ons kop moet buig en bid. Ons moet mekaar toelaat om ook die smart van die werêld op ons harte te dra en te verwerk, met die genade van die Here.
 
God het ons trane gegee om ons blydskap, smart, pyn,  rou en treur, uiting aan te gee. Dis 'n proses waardeur ons moet gaan. Ons leef in 'n gebroke werêld, maar in die hande van 'n almagtige God.
 
Al wat Hy vra is dat jy, wanneer die storms woed, nie vir een oomblik moet vergeet, dat die Here, jou God, daar vir jou en my is nie. Jy is nie alleen nie.
 
God is in beheer van jou lewe en vertrou op Hom. Berus in Hom en moet nooit jou geloof en hoop laat vaar nie.
 
So, - as die storms oor jou woed, buig jou kop in gebed en loof die Here. !
 
My gebed: "Here, Almagtige Vader, dankie dat U daar is my, wanneer die storms kom, ek weet dat ek nie alleen is in donker dae nie en dat ek my berusting in U kan vind".
Amen!
 
 
 
 

Sunday, 29 December 2013

Hou vas aan jou Geloof in God vir Nuwe Jaar

Judas 24-25;  Lof aan God : Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid!
 
Met die jaar wat verby is, het ons almal trane van hartseertye, en trane van blydskap gehad, verlies van vriende en familie, maar wees verseker, God hou jou vas. Loof Hom dat Hy jou gedra het deur die jaar, en wees verseker dat Hy daar sal wees vir die nuwe jaar wat voorlê.
 
Al die struikelblokke, seerkry en uitdagings sal nog daar wees vorentoe - maar God verseker ons, dat Hy ons sal beskerm, ons sal dra dag na dag vir die jaar wat voorlê. Sy liefde ken geen perke nie.

Nie een van ons weet presies wat die nuwe jaar vir ons inhou nie, maar ons weet wel dat as ons aan ons geloof vashou, Hy die pad vorentoe, jou sal lei.
 
Ervaar 'n nuwe diepte in jou verhouding met God en beleef Sy onbeperkte goedheid.
God nooi elkeen van ons om gereed te maak vir dit wat Hy van plan is om in ons lewe te doen.

Praat gedurig met Hom, aanbid Hom en Loof Hom en dank Hom vir al die werke wat Hy vir jou doen.

   Psalm 63:8 - U is 'n hulp vir my, in die skadu van U vleuels sal ek jubel.

 My gebed: "Here, dankie dat U my Herder is. Ek loof U en dank U my gedra het deur swaarkrytye, en tye van blydskap, deur die jaar. Wees asseblief ook met my in die nuwe jaar wat voorlê. Help my om vas te hou aan my geloof in U"
Amen!
 

 


 

Sunday, 1 December 2013

Die groot vreugde – (saamgestel deur Marita Op’t Hof)


 
Om in ‘n koor te kan sing is een van daardie dinge in die lewe wat oneindig vreugde verskaf. Daar is ‘n soort terapie daarin wat ‘n mens heelmaak – wat jou laat vergeet van jou sorge en wat jou na ‘n hoër vlak van bestaan neem. Wanneer die liedere wat jy sing dan ook geestelike liedere is – Psalms en Gesange, of liedere uit die ryke skat van die Christelike musiek, het koorsang ‘n dubbele doel. Nie net is dit terapeuties nie, maar bring dit jou baie nader aan jou Skepper. Jy sing van jou Skepper, jy sing vir jou Skepper, en jy kom nader aan jou Skepper.

Die afgelope tyd het daar ‘n paar films verskyn wat hierdie betowering van koorsang vir ons uitbeeld, soos “As it is in Heaven en A song for Marion”. Maar die persoon wat die wonder van koorsang die mooiste kon beskryf, is die Franse skryfster, Muriel Barbery, in die hoofstuk “A Choir is a beautiful thing” in haar boek – The Elegance of the Hedgehog (Gallic 2008 – p.180-181) "

Ek vertaal vrylik:-
In ons pragtige woonbuurt is daar ‘n skool, en die skool het ‘n koor. Gister-middag was dit die skoolkoor se uitvoering.

Niemand dink dat dit vreemd is om in hierdie koor te sing nie, intendeel, almal wil graag deelneem, maar Monsieur Trianon, die musiekonderwyser, kies sy koorlede met die hand. Monsieur Trianon is jonk en musikaal en hy laat die koor nie slegs die tradisionele liedere sing nie, maar ook diè van moderne komponiste. Verder word die koor begelei deur uiters stylvolle orkestrasie.  

Die middag van die die uitvoering is die skoolsaal stampvol en daar heers ‘n atmosfeer van gedempte opwinding.

Uiteindelik verskyn die koor geklee in rooi en wit, met strikdassies vir die seuns en lang rokke met skouerbandjies vir die meisies. Orrweldigende applous volg.

Monsieur Trianon maak sy verskyning, gaan sit op ‘n hoë stoeltjie, sy rug na die gehoor, in sy hand ‘n dirigentstokkie met ‘n flitsende rooi liggie aan die punt. Stilte daal op die gehoor neer en die uitvoering begin.

Elke keer is dit van vooraf ‘n wonderwerk. Hier is al die mense met hulle hartseer, drome, wense, hoop en verwagtinge. Die skooljaar is gevul met programme en aksies en onbenuttighede.. Hier is al die onderwysers en al die kinders – almal besig om deur die ‘ lewe’ te stoei’ – die lewe vol hoop en trane en lag en verlore drome en onvervulde wense… Al hierdie dinge verdwyn in ‘n oogwink wanneer die koor begin sing.

Die alledaagse lewe verdwyn en word opgeneem in die wonder van die musiek. ‘n Mens word oorweldig deur ‘n gees van broederskap, ‘n diepte eenheid. Dit verander die wreedheid van die alledaagse lewe in ‘n gees van perfekte harmonie. Selfs die koorlede se gesigte word getransformeer. Ek sien nie meer vir Achille Grand-Fernet of Deborah Lemeur of Segolene Rachet of Charles Saint-Sauveur nie. Hulle verander in mense wat oorgegee is aan musiek.

Dit is elke keer dieselfde ding: Die huil wel binne in my op. My keel trek toe en ek probeer my uiterste om myself te beheer. Partymaal kan ek amper nie. Ek wil uitbars in snikke. Dus, wanneer hulle die kanon sing, kyk ek af an die grond: Dit is net te veel emosie op een slag – dit is soveel skoonheid tegelyk op een keer. Dit is wonderskoon – hierdie samesang en die gedeelde moment.
Ek is nie meer ek nie. Ek word ‘n deeltjie van ‘n verhewe eenheid waarvan die ander ook deel is. En ek wonder altyd in hierdie oomblikke waarom dit nie die realiteit van die daaglikse lewe kan wees nie – waarom dit slegs ‘n uitsonderlike oomblik moet wees wanneer die koor sing.

Wanneer die koor ophou, breek daar ‘n oorverdowende applous uit. Almal se gesigte is opgelig, die koor stralend. Dit is so pragtig.

Aan die einde wonder ek of die ware wenteling van die aarde nie dalk net ‘n  mensestem, verhef, in sang is  nie…

"Dankie Marita – ek is ook meegevoer met die pragtige klanke van musiek"..
 
Dankie dat jy die artikel ons my deel . !

 

 

Saturday, 9 February 2013

U vee my trane af.

Daar is donker tye in my lewe en U vee my trane af.. Hoe dankbaar is ek vir U bestaan. Alleen kan ek dit nie doen nie. O Here, wees my genadig. U alleen kan die seer in my hart regmaak.


Dit is goed dat ek swaarkry, want daardeur het ek U voorskrifte geleer. Dat U my laat swaarkry, is 'n teken van U trou.. - Ps.119:71.
 
Ontferm u oor my, dat ek kan lewe volgens U voorskrifte. Ek smag na U redding en ek vertrou op U woord.
 
Nie een van ons kan swaarkry vryspring nie. As jy onderneem om God se wet na te kom, sal Hy jou beskerm in alle gevaarsituasie en ook jou seer uit jou lewe neem. In Psalm 42,  is daar 'n versugting na God. "Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God".
 
 
Siekte en hartseer kan verreiklike gevolge he, en jou selfs aan God se liefde laat twyfel. Plaas jou lewe in God se hande en jou gebede sal verhoor word. Ek het ondervind dat God altyd aan Sy woord getrou is.
Dankie Here, dat my hoop nog op U is en dankie dat ek na U toe kan kom, en soos U belofte, vee U my trane af en omsirkel U my met U liefde en beskerming.
 
'Here vandag bid ek vir U beskerming oor almal wat hierdie woord lees en hartseer en trane het wat afgevee moet word. Seen elkeen van ons en laat U lig oor ons straal sodat ons ons hoop op U sal plaas".
 
Amen!