Sunday 29 December 2013

Hou vas aan jou Geloof in God vir Nuwe Jaar

Judas 24-25;  Lof aan God : Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid!
 
Met die jaar wat verby is, het ons almal trane van hartseertye, en trane van blydskap gehad, verlies van vriende en familie, maar wees verseker, God hou jou vas. Loof Hom dat Hy jou gedra het deur die jaar, en wees verseker dat Hy daar sal wees vir die nuwe jaar wat voorlê.
 
Al die struikelblokke, seerkry en uitdagings sal nog daar wees vorentoe - maar God verseker ons, dat Hy ons sal beskerm, ons sal dra dag na dag vir die jaar wat voorlê. Sy liefde ken geen perke nie.

Nie een van ons weet presies wat die nuwe jaar vir ons inhou nie, maar ons weet wel dat as ons aan ons geloof vashou, Hy die pad vorentoe, jou sal lei.
 
Ervaar 'n nuwe diepte in jou verhouding met God en beleef Sy onbeperkte goedheid.
God nooi elkeen van ons om gereed te maak vir dit wat Hy van plan is om in ons lewe te doen.

Praat gedurig met Hom, aanbid Hom en Loof Hom en dank Hom vir al die werke wat Hy vir jou doen.

   Psalm 63:8 - U is 'n hulp vir my, in die skadu van U vleuels sal ek jubel.

 My gebed: "Here, dankie dat U my Herder is. Ek loof U en dank U my gedra het deur swaarkrytye, en tye van blydskap, deur die jaar. Wees asseblief ook met my in die nuwe jaar wat voorlê. Help my om vas te hou aan my geloof in U"
Amen!
 

 


 

Tuesday 17 December 2013

Die wonder van Jesus se geboorte !

 

Lukas 2:  Maria was 'n maagd en verloof aan Joseph -  Vers 28 - "Toe die engel by haar kom sê
hy; "ek groet jou, benagenadigde! Hie Here is by jou". - Vers 31-33 - "Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word.  Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader David gee, en Hy sal koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie". 

Elke persoon wat die wonderboodskap van Jesus se geboorte gehoor het, was verwonderd. 'n Maagd bring 'n kind in die lewe. Hoe sterk moet jou geloof wees om dit te verwerk!. - God het ons so lief gehad dat Hy 'n mensekind geword het om ons te verlos van ons sondes.
Ons almal se lewens was onherroeplik verander.
 
Die kersfeeswonder is nie 'n wonder wat ons vir ons self moet hou nie.
Hoe lank gelede het dit gebeur en tog elke Desember vier ons Sy geboorte of jy glo of nie. Alle eer kom God toe.
Gaan uit en kondig die boodsap  aan almal wat jy teekom!
Jesus is die seun van God. Die wonder van sy geboorte sal vir ewig leef.  Jesus se blye boodskap is steeds vir almal bedoel.
 
 "Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het".
 
As jy bereid is om te lewe tot sy eer, sal God vrede in jou hart en lewe gee.
 
Kersfees is die tyd dat jy en ek ons verhouding met God hernu, en saam met die Engele 'n loflied tot Sy eer sing.
Het jy al vrede gemaak met die mense om jou ? - God is vrede en liefde. 
Mag die vrede en vreugde van Kersfees deur die hele jaar elke dag by jou wees.
 
My gebed: "Hemelse Vader, dankie vir U liefde en dat U vrede op aarde bewerkstel. Help my om vrede in my lewe te handhaaf en ek wil U eer elke dag van my lewe. Dankie vir Jesus se geboorte sodat ek U kind kon word."
Amen!
 

Tuesday 3 December 2013

Kersfees vreugde !



Lukas 2:10-11- Toe sê
die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van David, die Verlosser gebore. Christus, die Here!"


Dis die tyd van die jaar wat ons almal ons vrese eenkant sit en met vreugde uitsien na Kersdag. Wanneer ons gereed maak vir Advent, die geboorte van Jesus Christus. Dit is tyd vir stil word en saam met al die gelowiges ons te verwonder oor die liefde van Jesus Christus - wanneer ons gereedmaak vir Sy wederkoms.

Dis die tyd nou wat ons die gejaagheid opsy moet sit, rustig raak en ons harte voorberei vir die Kersfees tyd. Maak tyd vir gesindheid, familie en vriende en 'n nuwe fokus vir die nuwe jaar wat voorlê.  Gee vir die minderbevoorregtes en konsentreer om liefde in mekaar se lewens te vestig.
 
Vir baie van ons is dit

die hoogte punt van die jaar. Kinders is vol verwagtinge. geskenke, koekies, lag en liggies weerspiëel orals.
 
Laat hierdie Adventyd waarin ons ons bevind, ons ook herinner dat Christus vir ons in die Vaderhuis plek gereed gemaak het - wees voorbereid op Sy koms soos 'n bruid wat wag op haar bruidegom.
 
Met Kersfees kom God naby jou. Christus se geboorte beteken vir ons lig, vreugde, fees en egte blydskap. Ware blydskap kom van God af. Deel vanjaar die vreugdeboodskap met almal om jou.
 
My gebed - "Mag die Here hierdie fees - vreugde en blydskap aan al sy kinders skenk. Here, help ons om rustig te word en tyd met U te spandeer. Dankie vir die wete dat U weer sal kom. Dankie vir Kersfees vreugde en liefde. Help my ook dat ek mede-deelsaam sal wees met my medemens, en U liefde en genade aan hulle sal uitstort."
Amen !
 

Sunday 1 December 2013

Die groot vreugde – (saamgestel deur Marita Op’t Hof)


 
Om in ‘n koor te kan sing is een van daardie dinge in die lewe wat oneindig vreugde verskaf. Daar is ‘n soort terapie daarin wat ‘n mens heelmaak – wat jou laat vergeet van jou sorge en wat jou na ‘n hoër vlak van bestaan neem. Wanneer die liedere wat jy sing dan ook geestelike liedere is – Psalms en Gesange, of liedere uit die ryke skat van die Christelike musiek, het koorsang ‘n dubbele doel. Nie net is dit terapeuties nie, maar bring dit jou baie nader aan jou Skepper. Jy sing van jou Skepper, jy sing vir jou Skepper, en jy kom nader aan jou Skepper.

Die afgelope tyd het daar ‘n paar films verskyn wat hierdie betowering van koorsang vir ons uitbeeld, soos “As it is in Heaven en A song for Marion”. Maar die persoon wat die wonder van koorsang die mooiste kon beskryf, is die Franse skryfster, Muriel Barbery, in die hoofstuk “A Choir is a beautiful thing” in haar boek – The Elegance of the Hedgehog (Gallic 2008 – p.180-181) "

Ek vertaal vrylik:-
In ons pragtige woonbuurt is daar ‘n skool, en die skool het ‘n koor. Gister-middag was dit die skoolkoor se uitvoering.

Niemand dink dat dit vreemd is om in hierdie koor te sing nie, intendeel, almal wil graag deelneem, maar Monsieur Trianon, die musiekonderwyser, kies sy koorlede met die hand. Monsieur Trianon is jonk en musikaal en hy laat die koor nie slegs die tradisionele liedere sing nie, maar ook diè van moderne komponiste. Verder word die koor begelei deur uiters stylvolle orkestrasie.  

Die middag van die die uitvoering is die skoolsaal stampvol en daar heers ‘n atmosfeer van gedempte opwinding.

Uiteindelik verskyn die koor geklee in rooi en wit, met strikdassies vir die seuns en lang rokke met skouerbandjies vir die meisies. Orrweldigende applous volg.

Monsieur Trianon maak sy verskyning, gaan sit op ‘n hoë stoeltjie, sy rug na die gehoor, in sy hand ‘n dirigentstokkie met ‘n flitsende rooi liggie aan die punt. Stilte daal op die gehoor neer en die uitvoering begin.

Elke keer is dit van vooraf ‘n wonderwerk. Hier is al die mense met hulle hartseer, drome, wense, hoop en verwagtinge. Die skooljaar is gevul met programme en aksies en onbenuttighede.. Hier is al die onderwysers en al die kinders – almal besig om deur die ‘ lewe’ te stoei’ – die lewe vol hoop en trane en lag en verlore drome en onvervulde wense… Al hierdie dinge verdwyn in ‘n oogwink wanneer die koor begin sing.

Die alledaagse lewe verdwyn en word opgeneem in die wonder van die musiek. ‘n Mens word oorweldig deur ‘n gees van broederskap, ‘n diepte eenheid. Dit verander die wreedheid van die alledaagse lewe in ‘n gees van perfekte harmonie. Selfs die koorlede se gesigte word getransformeer. Ek sien nie meer vir Achille Grand-Fernet of Deborah Lemeur of Segolene Rachet of Charles Saint-Sauveur nie. Hulle verander in mense wat oorgegee is aan musiek.

Dit is elke keer dieselfde ding: Die huil wel binne in my op. My keel trek toe en ek probeer my uiterste om myself te beheer. Partymaal kan ek amper nie. Ek wil uitbars in snikke. Dus, wanneer hulle die kanon sing, kyk ek af an die grond: Dit is net te veel emosie op een slag – dit is soveel skoonheid tegelyk op een keer. Dit is wonderskoon – hierdie samesang en die gedeelde moment.
Ek is nie meer ek nie. Ek word ‘n deeltjie van ‘n verhewe eenheid waarvan die ander ook deel is. En ek wonder altyd in hierdie oomblikke waarom dit nie die realiteit van die daaglikse lewe kan wees nie – waarom dit slegs ‘n uitsonderlike oomblik moet wees wanneer die koor sing.

Wanneer die koor ophou, breek daar ‘n oorverdowende applous uit. Almal se gesigte is opgelig, die koor stralend. Dit is so pragtig.

Aan die einde wonder ek of die ware wenteling van die aarde nie dalk net ‘n  mensestem, verhef, in sang is  nie…

"Dankie Marita – ek is ook meegevoer met die pragtige klanke van musiek"..
 
Dankie dat jy die artikel ons my deel . !