Wednesday, 13 August 2014

As jy val - moenie moed verloor nie - staan op

2 Samuel 22:2-7- "Die Here is my rots, my skuilplek en redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk Verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder. Van geweld het U my verlos".

Die lewe kan soms baie hard en ongenaakbaar wees. As dinge te veel en woes raak, gaan skuil by die Here, want op Hom kan jy vertrou.
Moenie moed verloor as jy val nie, dis nie hoe hard jy val nie, maar hoeveel keer jy opstaan wat saak maak. Dit is ook nie wat die lewe na jou toe gooi nie, maar wat jy daarvan maak.
Die onderskeiding is, hoe ons reageer as ons val. Partykeer verwyt ons, onsself,  sommige van ons bly lê en voel jammer vir onsself en vertel dan hoe onregverdig die lewe is. Die grootste deel van ons pad is ons eie keuses wat ons maak en moet dit dan hanteer met die krag en genade van die Here.
 
Ons bly maar menslik, swak en vol foute. Ons is nie volmaak nie en almal maak een of ander tyd foute, verkeerde keuses wat jou hard grond toe bring, maar as God jou anker en skuilplek is, kan jy verseker wees, jy gaan sterk anderkant uitkom. 
 
God het steeds 'n plan met jou en soms wil wil ons net moed verloor - ons lewens is so gejaag, daarom verander die Here ons rigting soms en word ons gedwing om stil te sit, om ons te laat besef wat Hy vir ons wil sê, in ons omstandighede.
 
Die Here het Sy oë oral op die aarde, sodat Hy die kan help wat op Hom vertrou met hul hele hart.
 
Daarom moenie moed verloor nie, ons almal struikel soms, staan weer op en leer daaruit en hou jou oë gerig op die Here. 
 Onthou daar is altyd hoop en as jy bly lê dan sien jy dit nie raak nie.
 
Die Here is jou rots en anker.

My gebed: "Here, Jesus help my om weer op te staan as ek val en  om nie moed te verloor nie. U is my rots en ek hou my oë stewig op U gerig".
 
Amen!
 






Friday, 8 August 2014

Here, dankie vir vrou-wees


          Vrouedag-maand- Augustus


Hooglied 4:7-  'Alles aan jou is mooi, my liefling, aan jou is niks verkeerd nie'.


Ek is ‘n Vrou -  
Here, ek verruil die wonder van vrou-wees vir niks –
Help my om in  elke faset daarvan ‘n kanaal te wees van U Goddelike liefde, lig en lewe, soos net ‘n vrou kan.

Ek is Ek –
Ek is menslik, Here-
Ek het foute en gebreke. Dankie dat U my aanvaar net soos ek is en my foute vergewe.

Ek is ‘n Maat –
Dankie vir die vervulling van ‘n huweliksmaat-wees, Here.
Dankie vir die gee en neem. Help my om nog meer te word wat die ander nodig het. Seën ons verhouding.

Ek is ‘n Ma -
Dankie vir die voorreg van ma wees –
Die wonder en pyn daarvan is soms te veel, maar ek is dankbaar dat ek dit kan deel met U, wat ook ‘n Vader is.

My-Dag –
Dankie dat ek ‘n af-dag kan hê, Here –
‘n dag om te doen wat lekker is – As dit dan nie vandag kan wees nie, neem ek later ‘n "ek-dag”.

Ek is ‘n Vriendin –
Here Jesus, dankie vir my wonderlike vriendinne -
Maak my ook ‘n ware vriendin vir hulle.  Ek wil ook ‘n vriendin wees vir diegene wat ek minder goed ken.

Ek is U sin, Here –
Ek is U volgeling Here Jesus . U is my Verlosser en Here.
Help my om te doen soos U gedoen het en te praat soos U gepraat het.
Vul my met U Heilige Gees.

 Amen!

Monday, 16 June 2014

Geweeg en te lig gevind?


Esegiel 45:10-12 - Julle moet skale gebruik wat reg weeg en julle moet die regte inhoudsmate vir droëstowwe en vir vloeistowwe gebruik. 1nhoudsmate moet deurgaans dieselfde bly, volgens 'n vaste maatskaf. Gewig moet volgens 'n vaste maatstaf bepaal word.
 
Telkens as ek na my eie lewe kyk, is daar soveel dinge waaraan ek myself meet en telkens is die resultate; "te lig".
 
Daar is soveel dinge waar ek voel ek het nie hard genoeg probeer nie en voldoen nie aan die standaarde nie. Probeer ons om die standaarde van die lewe te handhaaf ?, -  of om God se skaal se balans te behou -  die regte hoeveelheid te handhaaf!.  Hoe doen ons dit in hierdie deurmekaar wêreld ..
 
Ons gebruik almal 'n skaal om onsself te weeg en sal wat wil gee om 'lig' te wees, dis in gewig; maar dit werk nie altyd so in die werklike lewe nie.
 
Hoe meet ons, onsself om balans te bepaal en die waarde daarvan?.
 
Vir meeste van ons is dit maar moeilik om die waarheid te erken. Daar is soveel haat, vyhandskap, leuens, valsheid, jaloesie,  huigelary in hierdie hedendaagse lewe, dat dit baie moeilik gaan om vol te hou, aan jou eie balans.
 
In Psalm 62:10 staan geskrywe -  "Mense is verganglik, mense is niks : op 'n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks". -
 
Al wat ek kan dink is,  om ons besig te hou met die dinge wat tot eer van die Skepper is. Enige ding wat nie daarmee te doen het nie, sal altyd 'n wanbalans tot gevolg hê.
 
Net God ken my gedagtes en ook my opregte bedoelens, my berou, trane en smart. Hy weet waarheen ek oppad is en waarmee ek gelouter moet word om die skaal weer in balans te plaas.
 
"Hemelse Genadige Vader, help my om elke dag so te leef, dat ek die regte balans sal vind op die skaal waaraan ek gemeet word".
Amen!
 

Wednesday, 28 May 2014

Is jou Oliekannetjie vol ?

Matteus 25:1- "Dan sal dit met die Koningkryk van die Hemel gaan soos wat die tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag".
 
Vyf van hulle was verstandig en het ekstra olie saam geneem en vyf was dwaas want hulle het nie voorsiening gemaak vir ekstra olie nie.
 
Maak ek en jy voorsiening vir die dag van môre! -  of is ons ook soos die vyf dwase meisies wat hoop dat daar iemand is wat hulle lampe vir ons sal laat skyn.
 
As jy ver gaan reis, versien jy tog jou voertuig om seker te maak dat daar genoeg olie  in jou motor is,  dat daar nie olielekke is nie. Jy wil nie langs die pad onverhoeds betrap word met nie genoeg olie wat jou voertuig kan beskadig nie, want die olie beskerm die enjin en is een van die belangrikste middels wat die voertuig nodig het om voort te gaan.
 
In ons persoonlike lewens -  maak ons seker dat ons olievlak reg is!. Versorg ons, ons geestelike lewe met God se woord, om seker te maak dat daar altyd genoeg olie byderhand is ! - Is jy gereed vir die wederkoms van Christus? - of is ek en jy traak-my-nie-agtig en kom loer maar kort kort om te kyk of God al naby is.
 
Die Here waarsku ons om gereed te wees wanneer Hy kom om ons op te eis. Sal jy gereed wees? - waarmee sal ek besig wees as die Here kom! Die Woord sê ook dat ons moet ons lampe laat skyn,  so wanneer die Bruidegom afdaal na die aarde, daar genoeg lig sal wees vir ander ook om die pad te kan sien. Die keuse is ons sin om reg te wees, want jy moet self voor die Vader gaan staan. Sal jy reg wees vir die Bruilof saam met jou Vader ? - of gaan jy iemand anders se lig gebruik.
 
God stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink ons so. Nee, Hy is geduldig met ons, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie. Daarom gee Hy ons tyd om ons olievlakke reg te kry en die lampies aan hou te laat skyn.
 
Leef in verwagtig vir die dag wanneer God kom, en beywer jou die dag,  in verwagtig, van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde, wat God belowe het.
 
Onthou ons lampe moet altyd, maar altyd vol olie wees:- soos deur -
 
Stiltetyd saam met God deur te bring;
Geestelike gesprekke te hê met Hom';
in gebed;
lofprysing;
getuig van God
en ander te vertel van God !
 
my gebed: "Here, Vader gee my die wysheid om seker te maak dat my lampie altyd sal skyn en dat ek voorbereid sal wees, om ekstra olie saam te neem sodat ander ook my lig sal sien skyn.".
Amen !
 

Thursday, 1 May 2014

Steel kommer jou krag ?

Johannes 16:33 - Dit sê ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. "In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed. Ek het klaar die wêreld oorwin".
 
Ek wonder gedurig, hoekom is my lewe nie soos ek dit altyd wil hê
nie - Die kommer oor wat môre gaan gebeur is partykeer baie swaar op my hart. - Gaan ek nog 'n werk hê oor 'n paar jaar, waar gaan my brood vandaan kom - wat van bly plek. Wat gaan met ons land gebeur?.  Daar is soveel twyfel in my hart soms, dat ek baie keer sommer moeg voel.
 
 Dan kyk ek na buite; en as ek die pragtige dag aanskou, raak ek skoon skaam. God gee al hierdie wonderlike dinge vir my en tog is ek nog nie gelukkig nie. Hoekom bekommerd ek my oor die dag van môre?
 
Onthou,  kommer vat nie môre se sorge weg nie - dit steel vandag se krag. Lê al jou bekommerse voor Sy voete. Glo soos 'n kind. Stres en kommer kan jou in depressie sit en die sleutel is om die lewe ten volle te geniet tenspyte van al die kommer en teleurstellings.  Moenie dat kommer jou krag steel nie.
 
In 1 Petrus 5:7 staan - "Werp al jou bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle."
 
God is die een wat vir ons sorg! Ons moet ons nie bekommerd oor môre nie en net op Hom vertrou, want Hy sal jou bystaan in die tyd van kommer en sal jou krag gee om voort te gaan.
 
Psalm 121 : Ek kyk op na die berge; waarvandaan sal daar vr my hulp kom? . My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
 
Bly blymoedig want vreugde hou jou sterk.

My gebed: "Here Jesus, dankie dat ek my kommer voor U voete kan neerlê en die wete het dat U my al die krag sal gee om elke dag voort te gaan".
Amen!
 

Wednesday, 26 March 2014

Geestelike Reis - op pad waarheen!

  
.
 
 
 

Lukas 9, 51-53 - Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin en boodskappers voor Hom uit gestuur.  Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël - maar die inwoners wou Hom nie ontvang  nie, omdat Hy na Jerusalem op pad was.
 
Meeste van ons is ook maar op pad erêns heen:- reis na die werk, vakansies, begrafnisse, troues en so voorts.
Daar is altyd 'n gevoel van opgewondenheid as jy op reis is na jou vakansie bestemming;
Gevoel van stilte vir 'n begrafnis; - afwagting na troues - dan na jou werk, 'n plig, tog sien jy uit daarna.
 
Maar wat van ons geestelike reis ! - waarheen is ons oppad?
 Wanneer ons 'n bepaalde geestelike reis wil begin, het ons mekaar as gelowiges nodig. Ons kan van mekaar leer en verantwoordelikheid  neem vir die geestelike reis wat ons met mekaar en ander moet loop. Dit gee 'n geestelike volwassenheid tot ons gelowiges, wat weet hoeveel hulp ons nodig het, om met ons geloofsreis te stap.
 
 
Tog wonder ons partykeer, waarheen is God met ons oppad! - Wat verwag Hy van ons - God se opdrag vir ons is om in Hom te glo en Hom te volg bo alles. Hy is die Alfa en Omega, die Begin en die Einde.
 
Daar is soms dae dat ek wonder waarvoor leef ek? vir wie leef ek? Hoekom leef ek? - en weet ek wat my doel hier op aarde is, en wat die uitkoms van lewe is!. - Maar dan kyk ek om my heen na Sy wonderwerke en weet ek smag na 'n dieper verhouding met God, in Jesus Christus.
 
Al wat ons kan doen is om besig te raak met God, soos Hy besig is met ons. Neem jou kruis en volg Hom wat die hemel en aarde gemaak het. Raak besig met sy Woord. Ons moet altyd net die groter prentjie in gedagte hou op ons geestelike reis, en dit sal die moeite werd wees en ook die doel van ons lewe. - die pad na God breek nuwe dinge in 'n mense se lewe oop, al weet jy nie waarheen jy soms op pad is nie.. God se pad is nie altyd maklik nie, - dis anders en onbekend. Ons geestelike reis saam met God maak jou vry, want om saam met God te wees, is mos genoeg en opwindend totdat ons eendag by Hom kan wees.
 
Nou is my vraag weer:-  "Waarheen is ek oppad? - die antwoord is:, saam met God, vrolik, vol hoop, vol lewe en vreugde, want God is met my!".
 
  My gebed: "Here, Vader, help my,  sodat my geestelike reis na U toe oppad kan wees,  al is die pad nie so gelyk en maklik nie, want ek weet dat U vir my wag, by my eindbestemming".
Amen! 
 

 

 
 
 
 

Friday, 21 March 2014

Bruid van God - Die Heerlikheid


Wie is die bruid van God

Openbaring 21:2; "En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is."  
 
  Openbaring 21:9-11;  Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het, waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat, "Kom het hy gesê; ek sal jou die bruid wys,  die vrou van die Lam." - Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na 'n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad, Jerusalem, vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom. Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos van die korsbaarste edelsteen, soos 'n kristalhelder paal. 
 
Johannes was die getuie van God, soos Jesus Christus bevestig het; en hy getuig van alles wat hy gesien het.
 
 Om 'n bruid te wees is seker een van die opwindenste gebeure in 'n vrou se lewe. - Die bruidegom wag vir jou voor die preekstoel. Die pragtige stralende bruid, geklee in spierwit, met sterre in die oë, wat die paadjie afstap na haar bruidegom, wat vol verwagtinge en verwonderinge na haar staar - hier in die aardse werêld.
 

 
Hoe is ons verhouding met God  
 Hoe sal die voel om die bruid van God te wees gekleed in 'n vlekkeloos bruidskleed - maak ons, ons gereed vir Hom, wat as die hemelse bruidegom vir ons wag. Lewe ons volgens die standaarde van God, sodat ons 'n glans kan uitskyn vir ander om te sien dat ek en jy 'n bruid van die Hemelse Bruidegom is. Is ons lewens onberispelik, regverdig en opreg? - As gelowiges en kinders van God, is ons sonder gebrek?, - en skyn ons soos ligte in die werêld. - Sal ons gereed wees as ons Hemelse Bruidegom kom, om ons op te eis! - of sal ons beskaamd voor Hom staan!. 
 
So doen God vandag nog steeds met sy kerk, deur Christus. Christus maak self Sy bruid mooi vir die bruilof. Hy wil hê dat ons sonder vlek wees, heilig en sonder gebrek, stralend soos 'n bruid. - en dan; as eendag die bruilof van die Lam aanbreek, dan sal dit wees soos Johannes dit gesien het in sy visioene; - aan die bruid is gegee om bekleed te wees met rein en fyn linne, want die fyn linne beeld die regverdige dade van die heiliges af.
 
Christus is die hemelse bruidegom wat van Sy Vaderhuis af uit die Hemel kom,  om ons te soek en te red wat verlore is, sodat ons die erfenis van Sy hemelse koninkryk, met Hom te deel. 
Ons moet goeie werke doen. Ons moet verander dat ons 'n waardige bruid vir Christus kan wees. 
 
My gebed: "Jesus, Christus help my om rein en vlekkeloos te lewe soos U van my verwag, sodat ek gereed sal wees as U, die Hemelse Bruidekom, my kom opeis as U bruid".
Amen!