Wednesday, 28 May 2014

Is jou Oliekannetjie vol ?

Matteus 25:1- "Dan sal dit met die Koningkryk van die Hemel gaan soos wat die tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag".
 
Vyf van hulle was verstandig en het ekstra olie saam geneem en vyf was dwaas want hulle het nie voorsiening gemaak vir ekstra olie nie.
 
Maak ek en jy voorsiening vir die dag van môre! -  of is ons ook soos die vyf dwase meisies wat hoop dat daar iemand is wat hulle lampe vir ons sal laat skyn.
 
As jy ver gaan reis, versien jy tog jou voertuig om seker te maak dat daar genoeg olie  in jou motor is,  dat daar nie olielekke is nie. Jy wil nie langs die pad onverhoeds betrap word met nie genoeg olie wat jou voertuig kan beskadig nie, want die olie beskerm die enjin en is een van die belangrikste middels wat die voertuig nodig het om voort te gaan.
 
In ons persoonlike lewens -  maak ons seker dat ons olievlak reg is!. Versorg ons, ons geestelike lewe met God se woord, om seker te maak dat daar altyd genoeg olie byderhand is ! - Is jy gereed vir die wederkoms van Christus? - of is ek en jy traak-my-nie-agtig en kom loer maar kort kort om te kyk of God al naby is.
 
Die Here waarsku ons om gereed te wees wanneer Hy kom om ons op te eis. Sal jy gereed wees? - waarmee sal ek besig wees as die Here kom! Die Woord sê ook dat ons moet ons lampe laat skyn,  so wanneer die Bruidegom afdaal na die aarde, daar genoeg lig sal wees vir ander ook om die pad te kan sien. Die keuse is ons sin om reg te wees, want jy moet self voor die Vader gaan staan. Sal jy reg wees vir die Bruilof saam met jou Vader ? - of gaan jy iemand anders se lig gebruik.
 
God stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink ons so. Nee, Hy is geduldig met ons, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie. Daarom gee Hy ons tyd om ons olievlakke reg te kry en die lampies aan hou te laat skyn.
 
Leef in verwagtig vir die dag wanneer God kom, en beywer jou die dag,  in verwagtig, van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde, wat God belowe het.
 
Onthou ons lampe moet altyd, maar altyd vol olie wees:- soos deur -
 
Stiltetyd saam met God deur te bring;
Geestelike gesprekke te hê met Hom';
in gebed;
lofprysing;
getuig van God
en ander te vertel van God !
 
my gebed: "Here, Vader gee my die wysheid om seker te maak dat my lampie altyd sal skyn en dat ek voorbereid sal wees, om ekstra olie saam te neem sodat ander ook my lig sal sien skyn.".
Amen !
 

Thursday, 1 May 2014

Steel kommer jou krag ?

Johannes 16:33 - Dit sê ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. "In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed. Ek het klaar die wêreld oorwin".
 
Ek wonder gedurig, hoekom is my lewe nie soos ek dit altyd wil hê
nie - Die kommer oor wat môre gaan gebeur is partykeer baie swaar op my hart. - Gaan ek nog 'n werk hê oor 'n paar jaar, waar gaan my brood vandaan kom - wat van bly plek. Wat gaan met ons land gebeur?.  Daar is soveel twyfel in my hart soms, dat ek baie keer sommer moeg voel.
 
 Dan kyk ek na buite; en as ek die pragtige dag aanskou, raak ek skoon skaam. God gee al hierdie wonderlike dinge vir my en tog is ek nog nie gelukkig nie. Hoekom bekommerd ek my oor die dag van môre?
 
Onthou,  kommer vat nie môre se sorge weg nie - dit steel vandag se krag. Lê al jou bekommerse voor Sy voete. Glo soos 'n kind. Stres en kommer kan jou in depressie sit en die sleutel is om die lewe ten volle te geniet tenspyte van al die kommer en teleurstellings.  Moenie dat kommer jou krag steel nie.
 
In 1 Petrus 5:7 staan - "Werp al jou bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle."
 
God is die een wat vir ons sorg! Ons moet ons nie bekommerd oor môre nie en net op Hom vertrou, want Hy sal jou bystaan in die tyd van kommer en sal jou krag gee om voort te gaan.
 
Psalm 121 : Ek kyk op na die berge; waarvandaan sal daar vr my hulp kom? . My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
 
Bly blymoedig want vreugde hou jou sterk.

My gebed: "Here Jesus, dankie dat ek my kommer voor U voete kan neerlê en die wete het dat U my al die krag sal gee om elke dag voort te gaan".
Amen!
 

Wednesday, 26 March 2014

Geestelike Reis - op pad waarheen!

  
.
 
 
 

Lukas 9, 51-53 - Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin en boodskappers voor Hom uit gestuur.  Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël - maar die inwoners wou Hom nie ontvang  nie, omdat Hy na Jerusalem op pad was.
 
Meeste van ons is ook maar op pad erêns heen:- reis na die werk, vakansies, begrafnisse, troues en so voorts.
Daar is altyd 'n gevoel van opgewondenheid as jy op reis is na jou vakansie bestemming;
Gevoel van stilte vir 'n begrafnis; - afwagting na troues - dan na jou werk, 'n plig, tog sien jy uit daarna.
 
Maar wat van ons geestelike reis ! - waarheen is ons oppad?
 Wanneer ons 'n bepaalde geestelike reis wil begin, het ons mekaar as gelowiges nodig. Ons kan van mekaar leer en verantwoordelikheid  neem vir die geestelike reis wat ons met mekaar en ander moet loop. Dit gee 'n geestelike volwassenheid tot ons gelowiges, wat weet hoeveel hulp ons nodig het, om met ons geloofsreis te stap.
 
 
Tog wonder ons partykeer, waarheen is God met ons oppad! - Wat verwag Hy van ons - God se opdrag vir ons is om in Hom te glo en Hom te volg bo alles. Hy is die Alfa en Omega, die Begin en die Einde.
 
Daar is soms dae dat ek wonder waarvoor leef ek? vir wie leef ek? Hoekom leef ek? - en weet ek wat my doel hier op aarde is, en wat die uitkoms van lewe is!. - Maar dan kyk ek om my heen na Sy wonderwerke en weet ek smag na 'n dieper verhouding met God, in Jesus Christus.
 
Al wat ons kan doen is om besig te raak met God, soos Hy besig is met ons. Neem jou kruis en volg Hom wat die hemel en aarde gemaak het. Raak besig met sy Woord. Ons moet altyd net die groter prentjie in gedagte hou op ons geestelike reis, en dit sal die moeite werd wees en ook die doel van ons lewe. - die pad na God breek nuwe dinge in 'n mense se lewe oop, al weet jy nie waarheen jy soms op pad is nie.. God se pad is nie altyd maklik nie, - dis anders en onbekend. Ons geestelike reis saam met God maak jou vry, want om saam met God te wees, is mos genoeg en opwindend totdat ons eendag by Hom kan wees.
 
Nou is my vraag weer:-  "Waarheen is ek oppad? - die antwoord is:, saam met God, vrolik, vol hoop, vol lewe en vreugde, want God is met my!".
 
  My gebed: "Here, Vader, help my,  sodat my geestelike reis na U toe oppad kan wees,  al is die pad nie so gelyk en maklik nie, want ek weet dat U vir my wag, by my eindbestemming".
Amen! 
 

 

 
 
 
 

Friday, 21 March 2014

Bruid van God - Die Heerlikheid


Wie is die bruid van God

Openbaring 21:2; "En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is."  
 
  Openbaring 21:9-11;  Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het, waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat, "Kom het hy gesê; ek sal jou die bruid wys,  die vrou van die Lam." - Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na 'n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad, Jerusalem, vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom. Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos van die korsbaarste edelsteen, soos 'n kristalhelder paal. 
 
Johannes was die getuie van God, soos Jesus Christus bevestig het; en hy getuig van alles wat hy gesien het.
 
 Om 'n bruid te wees is seker een van die opwindenste gebeure in 'n vrou se lewe. - Die bruidegom wag vir jou voor die preekstoel. Die pragtige stralende bruid, geklee in spierwit, met sterre in die oë, wat die paadjie afstap na haar bruidegom, wat vol verwagtinge en verwonderinge na haar staar - hier in die aardse werêld.
 

 
Hoe is ons verhouding met God  
 Hoe sal die voel om die bruid van God te wees gekleed in 'n vlekkeloos bruidskleed - maak ons, ons gereed vir Hom, wat as die hemelse bruidegom vir ons wag. Lewe ons volgens die standaarde van God, sodat ons 'n glans kan uitskyn vir ander om te sien dat ek en jy 'n bruid van die Hemelse Bruidegom is. Is ons lewens onberispelik, regverdig en opreg? - As gelowiges en kinders van God, is ons sonder gebrek?, - en skyn ons soos ligte in die werêld. - Sal ons gereed wees as ons Hemelse Bruidegom kom, om ons op te eis! - of sal ons beskaamd voor Hom staan!. 
 
So doen God vandag nog steeds met sy kerk, deur Christus. Christus maak self Sy bruid mooi vir die bruilof. Hy wil hê dat ons sonder vlek wees, heilig en sonder gebrek, stralend soos 'n bruid. - en dan; as eendag die bruilof van die Lam aanbreek, dan sal dit wees soos Johannes dit gesien het in sy visioene; - aan die bruid is gegee om bekleed te wees met rein en fyn linne, want die fyn linne beeld die regverdige dade van die heiliges af.
 
Christus is die hemelse bruidegom wat van Sy Vaderhuis af uit die Hemel kom,  om ons te soek en te red wat verlore is, sodat ons die erfenis van Sy hemelse koninkryk, met Hom te deel. 
Ons moet goeie werke doen. Ons moet verander dat ons 'n waardige bruid vir Christus kan wees. 
 
My gebed: "Jesus, Christus help my om rein en vlekkeloos te lewe soos U van my verwag, sodat ek gereed sal wees as U, die Hemelse Bruidekom, my kom opeis as U bruid".
Amen!




Saturday, 22 February 2014

Hoe belangrik is ware vriendskap



    
Spreuke 27:17 – Yster slyp yster; vriende vorm mekaar. 

Ons het almal vriende; maar jy kry werklike vriende en mooiweersvriende. Onder watter groep tel ek en jy. 

Daar is niks soos ware vriendskap wat jou hand neem en saam met jou huil as jy hartseer is - luister as jy net ‘n oor nodig het wanneer jy net wil stoom afblaas. Dikwels, saam met jou die kronkelende pad van jou lewe loop. Vriendskap, is iets wat gegee word, sonder dat dit gemeet word en iemand anders se behoeftes bo jouself te stel. Julle staan saam deur dik en dun.wat nie net jou foute raaksien nie, maar die dieper mens binne jou; en jou hart beter ken as jyself. 

In ons samelewing vandag, wat met rykdom, sukses, roem en geld, hand aan hand loop, is dit baie keer moeilik om te weet of jy werklik ware vriende het, of is dit mooiweersvriende!.. Party sien net jou prestasies en besittings raak en nie meer vir jou as persoon nie. Sodra jy in die moeilikheid raak verdwyn baie van hulle. 

Maar daar is iemand wat jou ken net soos jy is.- Jesus het jou lief omdat jy jy is en nie iemand wat in die oë van die werêld suksesvol, mooi of ryk is nie. 

Dwarsdeer die Bybel lees ons van ware vriendskappe en die waarde wat hulle in mekaar se lewens gehad het - Kyk na Dawid en Jonathan, Daniël en sy drie vriende wat by hom gestaan het. Job 2:11-12; lees ons van drie van Job se vriende wat afgespreek het om hom te betuig en te vertroos.   Hulle het hardop gehuil toe hulle hom sien, hulle klere geskeur en stof in die lug op en oor hulle koppe gegooi van droefheid. Jesus was ook bewoë oor Lasarus se dood en wou weet waar hy begrawe is.

Om vriende te kies is ‘n keuse – ‘n mens kan kies met wie jy vriende wil wees, en as jy nie tuis voel in ‘n vriendekring wat jou net altyd afbreek en selfsugtig is, maak dat jy wegkom. Dis mooiweersvriende. 

Vriende vorm mekaar, is altyd eerlik met mekaar, al verskil julle ook soms. Hulle weet wanneer om hul woorde te tel sonder om seer te maak en vriende respekteer mekaar. Hulle ken jou wonde; jou foute en weet ook hoe om ‘n geheim te bewaar.

In Johannes 15:13-15  staan – Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek, noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 

Die waarde van vriendskap moet nie onderskat word nie want dis goud werd;  dis nie te koop nie - is onselfsugtig.

My gebed: Dankie, Here, vir ware vriendskappe wat ek het. Help my om ‘n vriendin duisend te wees en ware vriende te waardeer.

Amen!

 

Saturday, 8 February 2014

Liefde is 'n daad !

             1 Johannes 3:18 - "Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid".

Elke goeie werk wat ons doen is 'n daad van liefde ...Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde, God in hom wees.
 
Februarie is gewoonlik die maand van liefde.. Ons is almal maar mense, party mense glo in "Valentyn'sdag" en ander nie  - maar as ons die vraag stel, waar kom liefde vandaan, dan kan ons net aan een ding dink, God is liefde en Hy woon in ons harte.  
 
Wanneer die liefde in ons harte is, is dit soveel makliker om ook liefde aan ander te bewys en goeie dade te doen.

 
Die belangrikste is, as jy maar net in Jesus Christus bly glo, solank jy net in sy liefde bly, dan sal liefde ook in jou hart bly leef. Vra God om jou te help om liefde ook aan ander te bewys en daardeur jou goeie dade voort te sit. Wanneer die liefde 'n werklikheid geword het, dan kan ons ook vanuit die liefde, gaan lewe in alle goeie werke.
 
Elke goeie werk is 'n daad van liefde - Laat ons uitgaan en liefde bewys in ons dade sodat die regterhand nie weet wat die linkerhand doen nie.  Ons probeer partykeer uitbasuim wanneer ons 'n goeie daad verrig het, want almal moet daarvan weet. Wees verseker, jou Vader in die Hemel weet alles wat jy doen. Prys God! -  Moenie toelaat dat ons liefde vir ander, afwater nie.
 
Larry Grabb -"liefde beteken om sonder selfbeskerming nader aan ander te beweeg. Deur lief te hê word ons kwesbaar vir die seerkry, omdat ons geloof in die krag van die liefde groter word as ons vrees vir verwerping. Natuurlik maak dit seer om lief te hê, maar om nie lief te hê nie, maak nog seerder".
 
Geloof, Hoop en Liefde - bly hierdie drie - en die grootste hiervan is die Liefde
 
My gebed: "Hemelse Vader, God van liefde, help my om liefdesdade aan ander, deur dade te wys en uit te gaan om goeie werke alleenlik in U naam te doen".
Amen.

 

 

Wednesday, 22 January 2014

Die Here is God en betroubaar

Johannes 3:5-6 -  Jesus het geantwoord : "Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees".

Drie eenheid : Die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
 
As die Heilige Gees ons lewe vervul, verander ons en dan kom die eienskappe van Christus al duideliker in ons lewens na vore. Die Here sorg vir ons. Hy is almagtig. Ons sien dit in ons eie lewens en ook in ander. Niks is vir Hom onmoontlik nie.

 Deuteronomium 32:39 - "Ëk, Ek is die Here!. Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond, uit My mag word niemand bevry nie".

Lees ook Johannes 5:6 - Ons moet ons nie laat mislei deur ander mense nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat ongehoorsaam is..

God is Heilig, Hy is vir ewig, alwetend en volmaak. Die Here is 'n regverdige God. Hy is Liefde en wie in die Liefde bly, bly in God.  Selfs wanneer dit sleg gaan met ons, is Hy naby. God openbaar Hom deur sy liefde vir jou. Moenie  toelaat dat materiële skatte op aarde jou van Hom af weg hou nie. Versamel jou skatte in die Hemel. Onthou waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Die Here is betroubaar en jy kan op Hom vertrou. Dis Hy wat wonderwerke doen. Sy liefde oortref alles. God sorg vir ons almal. Nie een van ons is volmaak nie, maar God het ons 'n Wet gegee om daar volgends te leef en Hy is genadig.

"Here, God, U is Heilig. Dankie dat ek op U kan vertrou en die wete dat U vir my sal sorg".
Amen!