Tuesday, 19 November 2013

Geestelik & Liggaamlik moeg ?


                           Saggies en teer is die roepstem van Jesus - Hy roep vir my en vir jou - "Almal wat moeg is kom in My arms en rus".
 
Dis November maand, en ook die maand wat ons voel dat die jaar sy tol gevat het. Ons is moeg, emosioneel, geestelik en liggaamlik. Alles voel betekenisloos.

Jy staan met 'n swaar hart op in die oggend en dink aan al die take wat vir jou voorlê en wonder hoe jy deur die dag sal kom ! Partykeer raak jy beangs en paniekbevange.

In 2 Korintiers 12:9, lees ons : "My genade is vir jou genoeg, My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is".

Gee jouself oor aan die Here en bid vir Sy krag, want uit Sy krag sal ons kan lewe.
Net God alleen kan ons die krag en genade gee om elke dag, met vreugde aan te pak. 

Gebruik die  'áf-tyd' en laat die Heilige Gees vrylik in jou lewe werk. Hou jou program eenvoudig - Bid elke oomblik vir krag en glipweg vir 'n oomblik in jou besig dag en gesels met God. Jy sal vind dat jou gees verfris en vernuwe sal voel en jy weer jou dagtake makliker kan aanpak.

Psalm 6:3-4 - "Ontferm U oor my, Here, want ek kwyn weg, maak my gesond, Here, want my liggaam is uitgeteer. Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?" 

As jy op die oomblik self op moedverloor se vlakte sit, kan jy aan die God, "wat jou altyd help", vashou en op Hom bly hoop.
 
"Hemelse Vader, baie dankie vir die ontdekking van swaarkry omdat dit my leer om aan U vas te hou en nie nodig is om op myself te vertrou nie".
Amen! 
 
 

Sunday, 3 November 2013

Die Here is altyd naby jou !

   Sefanja 3:17 - "Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat jou red. Hy is vol vreugde oor  jou, Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou".
       
Die Here is altyd by jou.  Die Heilige Gees het gekom om oor ons te waak. Hy is altyd daar.

Wanneer jy voel dat jy alleen is met jou probleme en ook jou vreugde, wees verseker dat God altyd by jou is. Moet nooit daaraan twyfel nie al voel dit soms dat God jou verlaat het. As jy in die dieptes van ellende en eensaamheid verkeer, roep net Sy Naam  en God sal jou nie teleurstel nie. Hy sal afbuig en jou hand vat en jou terug op die pad sit. Geen swaarkry is heeltemal onuithoudbaar as jy weet God is met jou.
 
Johannes 14:13 - Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.
 
Kyk op na die hemel en roep Sy Naam en besef dat Hy majestieuse krag besit en ontdek sy omhelsing.

Partykeer raak ek so gefrustreerd en geirriteerd as dinge nie reg loop nie, veral wanneer ek haastig by 'n plek of die werk moet kom en dan wonder hoekom ek so gestraf word, maar dan hang ek my kop in skaamte want besef dan, dalk was daar iets anders op my pad wat my sou verhinder om veilig my eindstemming te bereik, want die Here was naby en wou my laat besef dat my lewe in gevaar was en sodoende het Hy iets oor my pad laat kom.

"Here help my om net geduldiger en rustiger te lewe, om nie so haastig is en omgekrap word as iets verkeerd gaan nie", want ek besef U is met my".  

Die lewe se belangrikste strewe is nie om jouself te ken nie, maar om God te ken. As God nie die dryfveer van ons lewe is nie, is alle ander dinge wat ons najaag doodloopstrate, ook die poging om onsself te ken.

God se nabyheid kan 'n vervelige lewe opwindend maak en wees verseker Hy is altyd by jou.

Amen!
 

Saturday, 19 October 2013

Wet van God (Die tien Gebooie)

Exodus 20:1-17 & Deuteronomium 5:6-21                                   

                 God het vir Moses na die top van Sinaiberg toe geroep en in 'n donker wolk voor Hom verskyn. Toe het God al hierdie gebooie aangekondig. - Onderhou ek en jy nog die gebooie, (wette van God),  soos voorgeskrewe !

Loof die Here!  Hy is almagtig!

  • Ek  is die Here jou God wat jou uit Egipte uit die plek van slawerny, bevry het;
  • Jy mag na My geen ander gode hê nie;
  • Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak wat bo in in Hemel is, of van wat onder op die aarde is nie, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van diẻ wat My haat,  maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van die wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam;
  • Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een van sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie;
  • Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou;
  • Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie.
  • Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig;
  • Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee;
  • Jy mag nie moord pleeg nie;
  • Jy mag nie egbreuk pleeg nie;
  • Jy mag nie steel nie;
  • Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie.
  • Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nié 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets wat aan hom behoort nie.
Ons sien die gebooie as 'n stel reëls, maar eindelik is die doel van die Tien Gebooie om te bewys dat ons almal gesondig het en derhalwe God se genade en seën nodig het.  Ons is sondaars en daarom kan ons nie die gebooie stiptelik onderhou nie.   
 
Johannes 3:16 - "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê".
   
"Here, my God, as 'n sondaar vra ek dat U my sal help om gehoorsaam te wees aan U wette, maar ek weet net deur U genade  en deur geloof in Jesus Christus, U my sal bevry".
Amen! 
                      

Monday, 7 October 2013

Hoe sterk glo jy in die onsienbare God.

 
 
               2 Korintiërs 4:18 - Ons oog is nie op die sigbare gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare, ewig.
 
Ons vra baie keer vir wondertekens omdat ons nie glo nie, daarom red God diẻ wat glo. God se Woord is lewend en kragtig.

In Johannes 1,1:4 staan daar. " In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was God self. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom. Ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense".

God gee vir ons krag wanneer Hy die Heilige Gees oor ons laat kom. Daar is baie mense wat ongelowig is en nie glo in die hiernamaals nie, want dis onsigbaar.  Baie kan nie verstaan dat ons as Christene die pad saam met God loop en Hom blindenins volg nie.
 
Al wat God vra, is vir ons om te glo in Hom,  want Hy vat jou na die wenstreep toe. Tog glo ons as ons op ons knieë gaan en 'n gebed tot God rig. Vra God deur die Heilige Gees, om jou geesteoë oop te maak.

Het God al jou bede verhoor? Ons almal het al een of ander iets gevoel...Waar het dit vandaan gekom? God sê wie in My glo, het die ewige lewe.

Hebreërs 11:1 - Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop,om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

Ja, ek kan onomwonde sê : EK GLO.
 Hemelse Vader, in 'n wereld van ongeloof en twyfel, bely ek vandag my geloof in U. Ek kan U nie wetenskaplik bewys nie, maar ek kan U beleef. U leef in my hart!
Amen!
                                         

Wednesday, 18 September 2013

"Jy is myne"; sê die Here.

                     
   Jesaja 43:1 - Luister, so sê die Here wat jou geskep het,  Jakob, wat jou gevorm het, Israel; Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep,  jy is Myne.
 
 
                                                          
Ons is almal kosbaar vir die Here. Al gaan jy deur 'n smeltkroes en krisisse, hou vas aan jou geloof en vertrou op die Here en glo aan Sy Woord.  
 
As ons dit doen en werklik in God se trou glo, dan kan ons opstaan en die treë
neem wat God vra. Ons word geroep om God op Sy woord te neem.
Jesaja 43: 10 - "Israel, julle is my getuies, sê  die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is; Voor My was daar geen God nie, en na My sal daar ook nie een wees nie. Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie".
 
Jesus het aan die kruis gesterf vir ons, daarom behoort ons aan God. Ons is geskep na Sy beeld.

Onthou altyd: Die Here het gesê; " Jy is Myne"!

 
Gee jou hart aan God en wees sy bruid. Wees nedering en help ander, want God gee aan die nederiges sy genade.
Daarom moet ons, ons lewe aan God toevertrou,
 
"Onse Here, dankie dat ek U bruid kan wees en dat U my opge-ein het as U kind, met die woorde; "Jy behoort aan My en is Myne"!
Amen!

Sunday, 8 September 2013

Prys die Here - Alle eer en lof kom U toe

Psalm 145; 1 - 21
        

Ek wil u lof verkondig, my God en Koning, ek wil u Naam altyd loof.
Elke dag wil ek U loof, ek wil u Naam altyd prys.
Die Here is groot, alle lof kom Hom toe. Sy grootheid is ondeurgrondelik,
 
Geslag na geslag prys wat U doen en vertel van u magtige dade, van die luister, die heerlikheid van U majesteit. Ek wil getuig van U magtige dade, sodat die mense oor U wonderdade sal praat.
Ek wil van U grootheid vertel. Sonder ophou moet hulle U groot goedheid verkondig en oor U reddingsdade jubel.
 
Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het.
 
Almal wat deur U geskep is, loof U, die Here, en u troue dienaars prys U! Hulle vertel van U koninklike mag en getuig van U groot krag. Die mense moet weet van Sy krag van Sy koninklike mag, en majesteit, U koningskap is 'n koningskap vir alle tye, U heerskappy strek oor die geslagte heen.
 
Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun die wat bedruk is.
Die oë van almal is op U gerig en U gee hulle kos op hulle tyd. U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed oor al wat leef.
 
Die Here is regverdig in al sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen. Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep. Aan die wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra. Hy hoor as hulle om hulp roep en Hy red hulle. Die Here beskerm almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses verdelg Hy.
 
Ek sal die lof van die Here verkondig. Laat al wat leef, sy Heilige Naam vir altyd prys. 
 
Amen!
My Here my God, aan U kom alle eer en lof toe.

Saturday, 31 August 2013

Jy is vrygestel deur Jesus Christus.

Christus Jesus het ons sondes oorwin en ons vrygestel deur sy bloed.
 
Romeine 6:22-23; Maar nou - julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee is die ewige lewe in Christus Jesus, ons Here.
 
Ons behoort nou aan niemand anders wat beheer het oor ons lewens. Christus is ons verlosser en ons behoort nou aan die drie enige, God; "Vader, Seun en Heilige Gees".

Ons weet dat Christus wat deur die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie, want die dood het geen mag oor hom  nie.

Ons is vrygespreek van ons sondes, daarom moet ons nou vir Christus lewe en in sy diens wees.
 Jesus gee vir ons genade, daarom moet nie meer sondes doen nie.

God het sy liefde vir jou en my in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. God bewys sy liefde vir ons juis hierin deurdat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Ons het ook ons versoening deur ons Here, Jesus Christus ontvang.
 
Ons moet sorg dat alles wat jy het, aan God beskikbaar te stel. Dan sal Hy jou ryklik in al jou behoeftes voorsien en jou seën in alles wat jy aanpak. Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.
 
Romeine 6: 5-6; Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.
 
Ons is dood vir die sonde, maar lewend vir God.
 
 "Here Jesus, ek wil graag meer toegewyd wees in U. Help my asseblief om nie meer sondes te pleeg nie, sodat my lewe van nou af net in U Naam toegewyd kan word. Baie dankie dat U my vrygestel het van my sondes".
Amen!