Tuesday, 11 November 2014

As die storms oor jou woed - Buig jou kop in gebed !


Jesaja 43:2-3 - "Äs jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder...."

God is steeds daar in ons donker dae. Daar is dae dat dit voel of al die getye teen jou draai. Storms woed oor en om jou -  in jou persoonlike lewe, werkomstandighede, familie en vriende.

'n Vriendin het vir my die ander vertel, dat dit voel vir haar of almal iets van haar wil hê en hoe meer sy gee, hoe meer vra hulle nog van haar. Sy voel leeg. Is dit nie ook hoe ons almal, partykeer voel nie! Jy voel jy gee en gee maar kry niks terug nie.
 
Sodra dit lyk of jou lewe net mooi aan die gang is, en die son blink buite skyn, bars 'n storm ewe skielik uit oor jou met allerhande probleme en jy weet nie waar om te begin om al die vure dood te slaan nie. Jy wil op 'n hopie gaan sit en huil. Dit voel of jou lewe uit mekaar val.
 
Dan sê die Here "Ek is by jou, as jy deur diep waters moet gaan, is Ek by jou."
 
Dis wanneer ons, ons kop moet buig en bid. Ons moet mekaar toelaat om ook die smart van die werêld op ons harte te dra en te verwerk, met die genade van die Here.
 
God het ons trane gegee om ons blydskap, smart, pyn,  rou en treur, uiting aan te gee. Dis 'n proses waardeur ons moet gaan. Ons leef in 'n gebroke werêld, maar in die hande van 'n almagtige God.
 
Al wat Hy vra is dat jy, wanneer die storms woed, nie vir een oomblik moet vergeet, dat die Here, jou God, daar vir jou en my is nie. Jy is nie alleen nie.
 
God is in beheer van jou lewe en vertrou op Hom. Berus in Hom en moet nooit jou geloof en hoop laat vaar nie.
 
So, - as die storms oor jou woed, buig jou kop in gebed en loof die Here. !
 
My gebed: "Here, Almagtige Vader, dankie dat U daar is my, wanneer die storms kom, ek weet dat ek nie alleen is in donker dae nie en dat ek my berusting in U kan vind".
Amen!
 
 
 
 

Tuesday, 28 October 2014

Kommunikasie - Praat ons mekaar se taal !


Spreuke 16:21,23-24 – “'n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem, en as hy sy woorde reg kies, kan hy ook ander leer. ‘n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens.”
Die belangrikste aspek van kommunikasie is om te hoor wat nie gesê word nie. 
Kommunikasie is seker een van die mees gebruikte woorde in enige taal, want wanneer iets verkeerd gaan, word daar gesê dat dit gebeur het as gevolg van ớf te min ớf geen kommunikasie. 
By kommunikasie gaan dit dus om veel meer as net tegnieke. Ons hele menswees is by die kommunikasieproses betrokke vir die “boodskappe” wat ons uitsein en die boodskappe wat ons waarneem en verstaan. 
Wanneer iemand anders praat, luister dan met aandag, want die meeste mense luister nie regtig nie, daarom die groot misverstande wat plaasvind. Ons hoor wat ons wil hoor! – daagliks verbrokkel gesinne, sluit maatskappye hul deure en lande val mekaar aan, en wanneer jy die oorsaak soek, is dit in die meeste gevalle, dat dit nie is omdat iemand gepraat het nie, maar bloot omdat ons nie geluister het nie.
Ons is almal so verskillend en elkeen dra ‘n boodskap op hy / sy manier oor. – daarom moet ons seker maak dat ons luister na WAT gesê word, en nie net na HOE dit gesê word nie.
God het ons een mond gegee om mee te gesels, en twee ore om mee te luister. As die boodskap opskrif is, het Hy ons twee oë gegee om te lees om daaraan gehoor te gee. God het ons wonderlike gawes gegee, maar maak ons gebruik hiervan!  en ook, doen ons dit op die regte manier.
Dink jy nie dit het tyd geword dat ons ‘n slag net stil bly en na die werêld om ons kyk, seker maak, dat ons oop is vir kommunikasie met mekaar, sodat ons mekaar se taal kan praat en verstaan (praat nie van tale nie, maar wanneer ons met mekaar kommunikeer, ons regtig  sal luister wat die ander person wil oorbring). Dit sal soveel misverstande uitwis. 
Kyk na die blindes en dowes om ons – die manier hoe hulle boodskappe uitstuur en ook hoe hulle probeer om te kommunikeer met ander. Hoe dankbaar moet ons, die wat kan sien, hoor en praat, nie moet wees nie.
 
My gebed: “Here, gee my die leiding om met ander op die regte manier te kommunikeer en dat ek sal luister en hoor wat aan my oorgedra word, sodat daar geen misverstande sal wees nie.”
Amen!
 

Tuesday, 7 October 2014

God verbreed jou horisonne !


Jesaja 62: 10-11 - "Gaan uit, gaan uit by die poorte, maak die pad gereed vir die volk! Vul die grootpad op, vul dit op! Vat weg die klippe! Steek die banier op dat die volke dit kan sien"!...

Die gesegde wat sê; "Jy is nooit te oud om te leer nie" is baie waar!

Meeste van ons loop maar met oogklappe aan. Ons verkeer so in ons eie werêldtjie. - daarom laat God ons met nuwe insig na die werêld kyk om sodoende ons horisonne te verbreed! Verkeerdelike insig oor wat aangaan in die werêld laat ons ons oë toemaak, - Onthou, God tref nie onderskeid tussen mense nie. Hy is lief vir almal wat na Hom hunker.
 
Gooi jou bagasie af en haal jou oogklappe af.
 
 Ons moet nuut en vars dink en nooit ophou groei nie, veral in ons geestelike groei; - droom drome -  kyk met opgewondenheid na die wonderlike landskappe om jou en begin met jou geestelike groei.
 
Onthou, alles gaan oor Christus - niemand se groeiproses is klaar nie, maak nie saak hoe oud, jonk en wie jy is nie. As jou hart aan die Here behoort sal jy almal met dieselfde respek en liefde behandel.
 
God werk met ons harte - Hy gebruik ander mense om ons na die hoogtes te neem, sodat jy jou reis van selfontdekking te kan ervaar.
 
Verbreed jou horisonne en gaan uit na die werêld en moet nie blind staar, na wat om jou omgaan nie.
As jy 'n hand uitreik na iemand, sal jy verbaas wees hoe hy / sy daarop sal reageer en met graagte jou helpende hand aanvaar!
 
Hou vas aan jou geloof. -
Ons kan soveel skatte ontdek as kinders van God as ons ons oogklappe afhaal en nie neersien op mense wat anders as jy is nie. 
God IS ALTYD beskikbaar as jy Hom nodig het.
My gebed: "U is ons Vader, Here, ons is klei, en U het ons almal gevorm., ons is almal die werk van U hande.  Verbreed asseblief ons, ons horisonne, Heer, sodat ons verder kan sien as gister".
Amen!

Wednesday, 10 September 2014

Jou woorde het die mag om jou bestemming te bepaal!



Spreuke 18:20-21 - "Deur die regte woorde te gebruik, kan 'n mens sy honger stil, hy kan genoeg kry om te eet deur wat hy sê;- Die tong het mag oor dood en lewe; die wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.".
 
Ons woorde wat ons spreek en hoe ons dit oorbring op 'n daaglikse basis kan mag hê  oor wat jy kan bereik in die lewe.

Jou woorde vorm jou lot. Dit is waarom dit noodsaaklik is, dat jy jou woorde versigtig kies.

 Die woord van God bevat elke positiewe ding wat jy ooit nodig kan hê - van beloftes oor gesondheid, voorspoed, vrede en verlossing. Deur gehoor te gee aan die Skrif, kan jy die sluise van die hemel oopmaak om God in staat te stel om die bekentenisse te bring.
Jou mond is die skakel tussen die dinge wat God julle beloof het, of om sonder dit te leef. As jy die behoefte en erkening in elke area van jou lewe wil ervaar, begin vandag die beloftes in Sy Woorde te spreek en jy is gewaarborg suksesvolle resultate elke keer.
In Jesaja 55:11 staan geskryf - "so sal die woord wat uit My mond kom ook wees : dit sal nie onverigte sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en totstand bring waarvoor Ek dit gestuur het".
Jy kan ook nie net sê wat jy voel en wat in jou opkom nie!  - want dan praat jy net oor die oomblik - as jy kwaad is en in 'n blik gedruk word, kan jy dalk vroom redeneer en dan sê dis hoe jy op die oomblik voel, maar as jy die volgende dag anders voel, kan jy weer anders praat. Wees dus liewers versigtig wat jy sê, anders kan jou woorde teen jou tel en jou lot bepaal in die toekoms.
Onthou, Die tong is magtiger as die swaard !

My Gebed: "Almagtige Vader, help my om 'n wag voor my mond te plaas en dat die woorde wat uit my mond kom, net lof liedere sal wees tot U. Hou my tong in toom sodat ek ander nie sal seermaak nie".
Amen!
 
 
 
 
 
.



Die tong is magtiger as die swaard

 
 


 


Monday, 18 August 2014

Moenie bang wees nie - neem die eerste sprong.

Jesaja 41:13 - "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek help jou".

Die lewe is veronderstel om 'n avontuur te wees - maar ons is so bang om die eerste stappie te neem - ons vrese vir die onwerklikheid maak ons bang en hou ons gekelder.

Jesus leer ons dat deur geloof en vertroue in Hom, 'n mens enige vrees kan oorwin.  Jy hoef nie skaam te wees as jy bang is nie - dit is deel van ons menslike natuur.

Ons val vas in angs as ons nie na Sy stem luister nie. Onthou jy is nooit alleen nie -
 
Moenie bang wees nie - plaas jou hand in Sy hand en Hy sal jou help om sonder vrees jou lewenspad te bewandel. Die Heilige Gees het mos juis gekom om ons te versterk. Deur die Gees se krag kan ons, ons angs oorwin.
 
Onthou, Jesus sit mense om ons, mede-gelowiges om mee te gesels. Dit help baie as jy hulle vertel van jou vrese en vra dat julle saam bid. Ons kan mekaar aanmoedig en bystaan. - Ondersteuningsgroepe is van groot waarde. Neem die eerste sprong en begin om 'n verhouding met gelowiges te kweek.

Psalm 23:4 - staan geskrywe, "al gaan ek ook in 'n dal van doodskadewee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my, U stok en U staf, die vertroos my"!
 
God ontferm Hom oor ons, In elke moeilikheid help Hy ons, daarom moenie bang wees nie en moenie ophou om jou troos by Hom te soek nie.
 
My gebed: "Here Jesus, dankie dat U vir my sorg en beskerm. Dankie dat wanneer ek bang is, U my met die krag van U liefde omring, sodat ek nie in angs verval nie".
 
Amen!
 
 
 


Wednesday, 13 August 2014

As jy val - moenie moed verloor nie - staan op

2 Samuel 22:2-7- "Die Here is my rots, my skuilplek en redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk Verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder. Van geweld het U my verlos".

Die lewe kan soms baie hard en ongenaakbaar wees. As dinge te veel en woes raak, gaan skuil by die Here, want op Hom kan jy vertrou.
Moenie moed verloor as jy val nie, dis nie hoe hard jy val nie, maar hoeveel keer jy opstaan wat saak maak. Dit is ook nie wat die lewe na jou toe gooi nie, maar wat jy daarvan maak.
Die onderskeiding is, hoe ons reageer as ons val. Partykeer verwyt ons, onsself,  sommige van ons bly lê en voel jammer vir onsself en vertel dan hoe onregverdig die lewe is. Die grootste deel van ons pad is ons eie keuses wat ons maak en moet dit dan hanteer met die krag en genade van die Here.
 
Ons bly maar menslik, swak en vol foute. Ons is nie volmaak nie en almal maak een of ander tyd foute, verkeerde keuses wat jou hard grond toe bring, maar as God jou anker en skuilplek is, kan jy verseker wees, jy gaan sterk anderkant uitkom. 
 
God het steeds 'n plan met jou en soms wil wil ons net moed verloor - ons lewens is so gejaag, daarom verander die Here ons rigting soms en word ons gedwing om stil te sit, om ons te laat besef wat Hy vir ons wil sê, in ons omstandighede.
 
Die Here het Sy oë oral op die aarde, sodat Hy die kan help wat op Hom vertrou met hul hele hart.
 
Daarom moenie moed verloor nie, ons almal struikel soms, staan weer op en leer daaruit en hou jou oë gerig op die Here. 
 Onthou daar is altyd hoop en as jy bly lê dan sien jy dit nie raak nie.
 
Die Here is jou rots en anker.

My gebed: "Here, Jesus help my om weer op te staan as ek val en  om nie moed te verloor nie. U is my rots en ek hou my oë stewig op U gerig".
 
Amen!
 






Friday, 8 August 2014

Here, dankie vir vrou-wees


          Vrouedag-maand- Augustus


Hooglied 4:7-  'Alles aan jou is mooi, my liefling, aan jou is niks verkeerd nie'.


Ek is ‘n Vrou -  
Here, ek verruil die wonder van vrou-wees vir niks –
Help my om in  elke faset daarvan ‘n kanaal te wees van U Goddelike liefde, lig en lewe, soos net ‘n vrou kan.

Ek is Ek –
Ek is menslik, Here-
Ek het foute en gebreke. Dankie dat U my aanvaar net soos ek is en my foute vergewe.

Ek is ‘n Maat –
Dankie vir die vervulling van ‘n huweliksmaat-wees, Here.
Dankie vir die gee en neem. Help my om nog meer te word wat die ander nodig het. Seën ons verhouding.

Ek is ‘n Ma -
Dankie vir die voorreg van ma wees –
Die wonder en pyn daarvan is soms te veel, maar ek is dankbaar dat ek dit kan deel met U, wat ook ‘n Vader is.

My-Dag –
Dankie dat ek ‘n af-dag kan hê, Here –
‘n dag om te doen wat lekker is – As dit dan nie vandag kan wees nie, neem ek later ‘n "ek-dag”.

Ek is ‘n Vriendin –
Here Jesus, dankie vir my wonderlike vriendinne -
Maak my ook ‘n ware vriendin vir hulle.  Ek wil ook ‘n vriendin wees vir diegene wat ek minder goed ken.

Ek is U sin, Here –
Ek is U volgeling Here Jesus . U is my Verlosser en Here.
Help my om te doen soos U gedoen het en te praat soos U gepraat het.
Vul my met U Heilige Gees.

 Amen!