Tuesday, 17 December 2013

Die wonder van Jesus se geboorte !

 

Lukas 2:  Maria was 'n maagd en verloof aan Joseph -  Vers 28 - "Toe die engel by haar kom sê
hy; "ek groet jou, benagenadigde! Hie Here is by jou". - Vers 31-33 - "Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word.  Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader David gee, en Hy sal koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie". 

Elke persoon wat die wonderboodskap van Jesus se geboorte gehoor het, was verwonderd. 'n Maagd bring 'n kind in die lewe. Hoe sterk moet jou geloof wees om dit te verwerk!. - God het ons so lief gehad dat Hy 'n mensekind geword het om ons te verlos van ons sondes.
Ons almal se lewens was onherroeplik verander.
 
Die kersfeeswonder is nie 'n wonder wat ons vir ons self moet hou nie.
Hoe lank gelede het dit gebeur en tog elke Desember vier ons Sy geboorte of jy glo of nie. Alle eer kom God toe.
Gaan uit en kondig die boodsap  aan almal wat jy teekom!
Jesus is die seun van God. Die wonder van sy geboorte sal vir ewig leef.  Jesus se blye boodskap is steeds vir almal bedoel.
 
 "Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het".
 
As jy bereid is om te lewe tot sy eer, sal God vrede in jou hart en lewe gee.
 
Kersfees is die tyd dat jy en ek ons verhouding met God hernu, en saam met die Engele 'n loflied tot Sy eer sing.
Het jy al vrede gemaak met die mense om jou ? - God is vrede en liefde. 
Mag die vrede en vreugde van Kersfees deur die hele jaar elke dag by jou wees.
 
My gebed: "Hemelse Vader, dankie vir U liefde en dat U vrede op aarde bewerkstel. Help my om vrede in my lewe te handhaaf en ek wil U eer elke dag van my lewe. Dankie vir Jesus se geboorte sodat ek U kind kon word."
Amen!
 

Tuesday, 3 December 2013

Kersfees vreugde !



Lukas 2:10-11- Toe sê
die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van David, die Verlosser gebore. Christus, die Here!"


Dis die tyd van die jaar wat ons almal ons vrese eenkant sit en met vreugde uitsien na Kersdag. Wanneer ons gereed maak vir Advent, die geboorte van Jesus Christus. Dit is tyd vir stil word en saam met al die gelowiges ons te verwonder oor die liefde van Jesus Christus - wanneer ons gereedmaak vir Sy wederkoms.

Dis die tyd nou wat ons die gejaagheid opsy moet sit, rustig raak en ons harte voorberei vir die Kersfees tyd. Maak tyd vir gesindheid, familie en vriende en 'n nuwe fokus vir die nuwe jaar wat voorlê.  Gee vir die minderbevoorregtes en konsentreer om liefde in mekaar se lewens te vestig.
 
Vir baie van ons is dit

die hoogte punt van die jaar. Kinders is vol verwagtinge. geskenke, koekies, lag en liggies weerspiëel orals.
 
Laat hierdie Adventyd waarin ons ons bevind, ons ook herinner dat Christus vir ons in die Vaderhuis plek gereed gemaak het - wees voorbereid op Sy koms soos 'n bruid wat wag op haar bruidegom.
 
Met Kersfees kom God naby jou. Christus se geboorte beteken vir ons lig, vreugde, fees en egte blydskap. Ware blydskap kom van God af. Deel vanjaar die vreugdeboodskap met almal om jou.
 
My gebed - "Mag die Here hierdie fees - vreugde en blydskap aan al sy kinders skenk. Here, help ons om rustig te word en tyd met U te spandeer. Dankie vir die wete dat U weer sal kom. Dankie vir Kersfees vreugde en liefde. Help my ook dat ek mede-deelsaam sal wees met my medemens, en U liefde en genade aan hulle sal uitstort."
Amen !
 

Sunday, 1 December 2013

Die groot vreugde – (saamgestel deur Marita Op’t Hof)


 
Om in ‘n koor te kan sing is een van daardie dinge in die lewe wat oneindig vreugde verskaf. Daar is ‘n soort terapie daarin wat ‘n mens heelmaak – wat jou laat vergeet van jou sorge en wat jou na ‘n hoër vlak van bestaan neem. Wanneer die liedere wat jy sing dan ook geestelike liedere is – Psalms en Gesange, of liedere uit die ryke skat van die Christelike musiek, het koorsang ‘n dubbele doel. Nie net is dit terapeuties nie, maar bring dit jou baie nader aan jou Skepper. Jy sing van jou Skepper, jy sing vir jou Skepper, en jy kom nader aan jou Skepper.

Die afgelope tyd het daar ‘n paar films verskyn wat hierdie betowering van koorsang vir ons uitbeeld, soos “As it is in Heaven en A song for Marion”. Maar die persoon wat die wonder van koorsang die mooiste kon beskryf, is die Franse skryfster, Muriel Barbery, in die hoofstuk “A Choir is a beautiful thing” in haar boek – The Elegance of the Hedgehog (Gallic 2008 – p.180-181) "

Ek vertaal vrylik:-
In ons pragtige woonbuurt is daar ‘n skool, en die skool het ‘n koor. Gister-middag was dit die skoolkoor se uitvoering.

Niemand dink dat dit vreemd is om in hierdie koor te sing nie, intendeel, almal wil graag deelneem, maar Monsieur Trianon, die musiekonderwyser, kies sy koorlede met die hand. Monsieur Trianon is jonk en musikaal en hy laat die koor nie slegs die tradisionele liedere sing nie, maar ook diè van moderne komponiste. Verder word die koor begelei deur uiters stylvolle orkestrasie.  

Die middag van die die uitvoering is die skoolsaal stampvol en daar heers ‘n atmosfeer van gedempte opwinding.

Uiteindelik verskyn die koor geklee in rooi en wit, met strikdassies vir die seuns en lang rokke met skouerbandjies vir die meisies. Orrweldigende applous volg.

Monsieur Trianon maak sy verskyning, gaan sit op ‘n hoë stoeltjie, sy rug na die gehoor, in sy hand ‘n dirigentstokkie met ‘n flitsende rooi liggie aan die punt. Stilte daal op die gehoor neer en die uitvoering begin.

Elke keer is dit van vooraf ‘n wonderwerk. Hier is al die mense met hulle hartseer, drome, wense, hoop en verwagtinge. Die skooljaar is gevul met programme en aksies en onbenuttighede.. Hier is al die onderwysers en al die kinders – almal besig om deur die ‘ lewe’ te stoei’ – die lewe vol hoop en trane en lag en verlore drome en onvervulde wense… Al hierdie dinge verdwyn in ‘n oogwink wanneer die koor begin sing.

Die alledaagse lewe verdwyn en word opgeneem in die wonder van die musiek. ‘n Mens word oorweldig deur ‘n gees van broederskap, ‘n diepte eenheid. Dit verander die wreedheid van die alledaagse lewe in ‘n gees van perfekte harmonie. Selfs die koorlede se gesigte word getransformeer. Ek sien nie meer vir Achille Grand-Fernet of Deborah Lemeur of Segolene Rachet of Charles Saint-Sauveur nie. Hulle verander in mense wat oorgegee is aan musiek.

Dit is elke keer dieselfde ding: Die huil wel binne in my op. My keel trek toe en ek probeer my uiterste om myself te beheer. Partymaal kan ek amper nie. Ek wil uitbars in snikke. Dus, wanneer hulle die kanon sing, kyk ek af an die grond: Dit is net te veel emosie op een slag – dit is soveel skoonheid tegelyk op een keer. Dit is wonderskoon – hierdie samesang en die gedeelde moment.
Ek is nie meer ek nie. Ek word ‘n deeltjie van ‘n verhewe eenheid waarvan die ander ook deel is. En ek wonder altyd in hierdie oomblikke waarom dit nie die realiteit van die daaglikse lewe kan wees nie – waarom dit slegs ‘n uitsonderlike oomblik moet wees wanneer die koor sing.

Wanneer die koor ophou, breek daar ‘n oorverdowende applous uit. Almal se gesigte is opgelig, die koor stralend. Dit is so pragtig.

Aan die einde wonder ek of die ware wenteling van die aarde nie dalk net ‘n  mensestem, verhef, in sang is  nie…

"Dankie Marita – ek is ook meegevoer met die pragtige klanke van musiek"..
 
Dankie dat jy die artikel ons my deel . !

 

 

Tuesday, 19 November 2013

Geestelik & Liggaamlik moeg ?


                           Saggies en teer is die roepstem van Jesus - Hy roep vir my en vir jou - "Almal wat moeg is kom in My arms en rus".
 
Dis November maand, en ook die maand wat ons voel dat die jaar sy tol gevat het. Ons is moeg, emosioneel, geestelik en liggaamlik. Alles voel betekenisloos.

Jy staan met 'n swaar hart op in die oggend en dink aan al die take wat vir jou voorlê en wonder hoe jy deur die dag sal kom ! Partykeer raak jy beangs en paniekbevange.

In 2 Korintiers 12:9, lees ons : "My genade is vir jou genoeg, My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is".

Gee jouself oor aan die Here en bid vir Sy krag, want uit Sy krag sal ons kan lewe.
Net God alleen kan ons die krag en genade gee om elke dag, met vreugde aan te pak. 

Gebruik die  'áf-tyd' en laat die Heilige Gees vrylik in jou lewe werk. Hou jou program eenvoudig - Bid elke oomblik vir krag en glipweg vir 'n oomblik in jou besig dag en gesels met God. Jy sal vind dat jou gees verfris en vernuwe sal voel en jy weer jou dagtake makliker kan aanpak.

Psalm 6:3-4 - "Ontferm U oor my, Here, want ek kwyn weg, maak my gesond, Here, want my liggaam is uitgeteer. Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?" 

As jy op die oomblik self op moedverloor se vlakte sit, kan jy aan die God, "wat jou altyd help", vashou en op Hom bly hoop.
 
"Hemelse Vader, baie dankie vir die ontdekking van swaarkry omdat dit my leer om aan U vas te hou en nie nodig is om op myself te vertrou nie".
Amen! 
 
 

Sunday, 3 November 2013

Die Here is altyd naby jou !

   Sefanja 3:17 - "Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat jou red. Hy is vol vreugde oor  jou, Hy is stil-tevrede in Sy liefde. Hy jubel en juig oor jou".
       
Die Here is altyd by jou.  Die Heilige Gees het gekom om oor ons te waak. Hy is altyd daar.

Wanneer jy voel dat jy alleen is met jou probleme en ook jou vreugde, wees verseker dat God altyd by jou is. Moet nooit daaraan twyfel nie al voel dit soms dat God jou verlaat het. As jy in die dieptes van ellende en eensaamheid verkeer, roep net Sy Naam  en God sal jou nie teleurstel nie. Hy sal afbuig en jou hand vat en jou terug op die pad sit. Geen swaarkry is heeltemal onuithoudbaar as jy weet God is met jou.
 
Johannes 14:13 - Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.
 
Kyk op na die hemel en roep Sy Naam en besef dat Hy majestieuse krag besit en ontdek sy omhelsing.

Partykeer raak ek so gefrustreerd en geirriteerd as dinge nie reg loop nie, veral wanneer ek haastig by 'n plek of die werk moet kom en dan wonder hoekom ek so gestraf word, maar dan hang ek my kop in skaamte want besef dan, dalk was daar iets anders op my pad wat my sou verhinder om veilig my eindstemming te bereik, want die Here was naby en wou my laat besef dat my lewe in gevaar was en sodoende het Hy iets oor my pad laat kom.

"Here help my om net geduldiger en rustiger te lewe, om nie so haastig is en omgekrap word as iets verkeerd gaan nie", want ek besef U is met my".  

Die lewe se belangrikste strewe is nie om jouself te ken nie, maar om God te ken. As God nie die dryfveer van ons lewe is nie, is alle ander dinge wat ons najaag doodloopstrate, ook die poging om onsself te ken.

God se nabyheid kan 'n vervelige lewe opwindend maak en wees verseker Hy is altyd by jou.

Amen!
 

Saturday, 19 October 2013

Wet van God (Die tien Gebooie)

Exodus 20:1-17 & Deuteronomium 5:6-21                                   

                 God het vir Moses na die top van Sinaiberg toe geroep en in 'n donker wolk voor Hom verskyn. Toe het God al hierdie gebooie aangekondig. - Onderhou ek en jy nog die gebooie, (wette van God),  soos voorgeskrewe !

Loof die Here!  Hy is almagtig!

  • Ek  is die Here jou God wat jou uit Egipte uit die plek van slawerny, bevry het;
  • Jy mag na My geen ander gode hê nie;
  • Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak wat bo in in Hemel is, of van wat onder op die aarde is nie, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van diẻ wat My haat,  maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van die wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam;
  • Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een van sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie;
  • Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou;
  • Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie.
  • Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig;
  • Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee;
  • Jy mag nie moord pleeg nie;
  • Jy mag nie egbreuk pleeg nie;
  • Jy mag nie steel nie;
  • Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie.
  • Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nié 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of enigiets wat aan hom behoort nie.
Ons sien die gebooie as 'n stel reëls, maar eindelik is die doel van die Tien Gebooie om te bewys dat ons almal gesondig het en derhalwe God se genade en seën nodig het.  Ons is sondaars en daarom kan ons nie die gebooie stiptelik onderhou nie.   
 
Johannes 3:16 - "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê".
   
"Here, my God, as 'n sondaar vra ek dat U my sal help om gehoorsaam te wees aan U wette, maar ek weet net deur U genade  en deur geloof in Jesus Christus, U my sal bevry".
Amen! 
                      

Monday, 7 October 2013

Hoe sterk glo jy in die onsienbare God.

 
 
               2 Korintiërs 4:18 - Ons oog is nie op die sigbare gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare, ewig.
 
Ons vra baie keer vir wondertekens omdat ons nie glo nie, daarom red God diẻ wat glo. God se Woord is lewend en kragtig.

In Johannes 1,1:4 staan daar. " In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was God self. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom. Ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense".

God gee vir ons krag wanneer Hy die Heilige Gees oor ons laat kom. Daar is baie mense wat ongelowig is en nie glo in die hiernamaals nie, want dis onsigbaar.  Baie kan nie verstaan dat ons as Christene die pad saam met God loop en Hom blindenins volg nie.
 
Al wat God vra, is vir ons om te glo in Hom,  want Hy vat jou na die wenstreep toe. Tog glo ons as ons op ons knieë gaan en 'n gebed tot God rig. Vra God deur die Heilige Gees, om jou geesteoë oop te maak.

Het God al jou bede verhoor? Ons almal het al een of ander iets gevoel...Waar het dit vandaan gekom? God sê wie in My glo, het die ewige lewe.

Hebreërs 11:1 - Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop,om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

Ja, ek kan onomwonde sê : EK GLO.
 Hemelse Vader, in 'n wereld van ongeloof en twyfel, bely ek vandag my geloof in U. Ek kan U nie wetenskaplik bewys nie, maar ek kan U beleef. U leef in my hart!
Amen!