Thursday 18 December 2014

Raak stil by Jesus se Voete.

         
     
Lukas 10:38-42; Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. Sy het'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: "Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!" Maar die Here antwoord haar; "Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig, Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie."

Hoe wonderlik moet dit wees, om te weet dat jy rustig by Jesus se voete kan sit, om elke woord met vertroue te kan inneem en te weet dat ons veilig is - jou oë toe te maak en geen sorge te ken nie.
 
Wanneer die dae vir ons te veel word, vat die Bybel en lees daaruit en vind al jou antwoorde wat jy verlang. Raak rustig by Jesus se voete en fokus net op Hom. Niks is vir Hom onmootlik nie.
 
Staak jou dolle haas. Om in Jesus se voetspoere te volg, beteken om gelei te word. Jesus was ook baie besig, maar het altyd tyd gehad vir almal wat moeg en belas was.
 
Die Here is goed vir die wat op Hom bly hoop en geduldig te wag op die hulp van die Here. Daar is geen einde aan Sy ontferming nie.
 
Onthou, al verlaat almal jou, GOD sal nie.
 
My gebed: "Here Jesus, hoe rustig is dit om my net by U voete neer te vel en te weet dat daar geen bekommernisse is nie,  as net na U Woord te luister".
 
Amen!
 

Saturday 22 November 2014

Lewe met 'n gebed en 'n loflied in jou hart.


Psalm 30 - Vir altyd sal ek U loof: 2-3,5 - Ek wil U lof verkondig, Here, want U het my gered en my vyande nie laat bly wees nie. Here, my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. - Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof Sy heilige Naam ! 

 Ek maak nou my hart oop voor U dat U daarin kan woon. Vergewe my my sondes en maak alles skoon. Ek wil graag U kind wees en rein voor U staan op nuut.
 
Ek sing 'n nuwe lied uit my hart. Hy is die Koning, Hy is die Here. Kom sing 'n nuwe lied vir Hom!.

Wat ons bid, weerspieël wat ons glo. Ons geloofsoortuiginge bepaal egter ook ons gebede.

Ons gebede weerspieël hoe ons leef. Ons gebede bepaal ons etiek, ons visie van die soort samelewing wat ons wil hê, ons waardes, ons karakters, ons deugde, ons keuses, ons gedrag. Ons sien wat ons bid. Ons hang dit aan wat ons bid. Ons wórd wat ons bid. Ons ís wat ons bid. Ons lééf wat ons bid. Ons visie, ons waardes en karakter, ons deugde en gedrag bepaal, aan die ander kant, ook weer die inhoud van ons gebede.
Here ek wil stil word hier voor U voete. Ek wil hoor wat U vir my sê. Ek wil my hart vir U Gees oopmaak. Daar is soveel vrae wat ek U wil vra, oor dinge wat gebeur hier in my eie lewe en ook in die wêreld wat ek nie verstaan nie, maar ek besef dat dit U wil is, en daarom wil ek 'n loflied vir U sing. 
 
Psalm 134-1:3 - 'Pelgrimslied'. "Kom prys die Here, julle almal wat Hom dien, julle wat in die nag in die tempel van die Here staan! Hef julle hande in gebed op na die heiligdom en prys die Here. Mag die Here jou seën
uit Sion. Hy wat hemel en aarde gemaak het."
 
 Dankie dat U my vryspreek en leer my nou om te lewe, om soos Jesus te wees. Ek gee my lewe aan U as 'n offer, en alles wat ek is Heer, kom gee ek vir U. U is die Koning wat in my woon en regeer.

Talle mense ken nie die vreugdevolle lewe van vergeefdes nie en ervaar nie die bevryding van die bose in al sy vorme nie.
 
 "Onse Vader wat in die Hemel is, laat U wil Naam geheilig word, laat U wil geskied, laat U Koningryk kom"..
 
Amen!
 

Tuesday 11 November 2014

As die storms oor jou woed - Buig jou kop in gebed !


Jesaja 43:2-3 - "Äs jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder...."

God is steeds daar in ons donker dae. Daar is dae dat dit voel of al die getye teen jou draai. Storms woed oor en om jou -  in jou persoonlike lewe, werkomstandighede, familie en vriende.

'n Vriendin het vir my die ander vertel, dat dit voel vir haar of almal iets van haar wil hê en hoe meer sy gee, hoe meer vra hulle nog van haar. Sy voel leeg. Is dit nie ook hoe ons almal, partykeer voel nie! Jy voel jy gee en gee maar kry niks terug nie.
 
Sodra dit lyk of jou lewe net mooi aan die gang is, en die son blink buite skyn, bars 'n storm ewe skielik uit oor jou met allerhande probleme en jy weet nie waar om te begin om al die vure dood te slaan nie. Jy wil op 'n hopie gaan sit en huil. Dit voel of jou lewe uit mekaar val.
 
Dan sê die Here "Ek is by jou, as jy deur diep waters moet gaan, is Ek by jou."
 
Dis wanneer ons, ons kop moet buig en bid. Ons moet mekaar toelaat om ook die smart van die werêld op ons harte te dra en te verwerk, met die genade van die Here.
 
God het ons trane gegee om ons blydskap, smart, pyn,  rou en treur, uiting aan te gee. Dis 'n proses waardeur ons moet gaan. Ons leef in 'n gebroke werêld, maar in die hande van 'n almagtige God.
 
Al wat Hy vra is dat jy, wanneer die storms woed, nie vir een oomblik moet vergeet, dat die Here, jou God, daar vir jou en my is nie. Jy is nie alleen nie.
 
God is in beheer van jou lewe en vertrou op Hom. Berus in Hom en moet nooit jou geloof en hoop laat vaar nie.
 
So, - as die storms oor jou woed, buig jou kop in gebed en loof die Here. !
 
My gebed: "Here, Almagtige Vader, dankie dat U daar is my, wanneer die storms kom, ek weet dat ek nie alleen is in donker dae nie en dat ek my berusting in U kan vind".
Amen!
 
 
 
 

Tuesday 28 October 2014

Kommunikasie - Praat ons mekaar se taal !


Spreuke 16:21,23-24 – “'n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem, en as hy sy woorde reg kies, kan hy ook ander leer. ‘n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens.”
Die belangrikste aspek van kommunikasie is om te hoor wat nie gesê word nie. 
Kommunikasie is seker een van die mees gebruikte woorde in enige taal, want wanneer iets verkeerd gaan, word daar gesê dat dit gebeur het as gevolg van ớf te min ớf geen kommunikasie. 
By kommunikasie gaan dit dus om veel meer as net tegnieke. Ons hele menswees is by die kommunikasieproses betrokke vir die “boodskappe” wat ons uitsein en die boodskappe wat ons waarneem en verstaan. 
Wanneer iemand anders praat, luister dan met aandag, want die meeste mense luister nie regtig nie, daarom die groot misverstande wat plaasvind. Ons hoor wat ons wil hoor! – daagliks verbrokkel gesinne, sluit maatskappye hul deure en lande val mekaar aan, en wanneer jy die oorsaak soek, is dit in die meeste gevalle, dat dit nie is omdat iemand gepraat het nie, maar bloot omdat ons nie geluister het nie.
Ons is almal so verskillend en elkeen dra ‘n boodskap op hy / sy manier oor. – daarom moet ons seker maak dat ons luister na WAT gesê word, en nie net na HOE dit gesê word nie.
God het ons een mond gegee om mee te gesels, en twee ore om mee te luister. As die boodskap opskrif is, het Hy ons twee gegee om te lees om daaraan gehoor te gee. God het ons wonderlike gawes gegee, maar maak ons gebruik hiervan!  en ook, doen ons dit op die regte manier.
Dink jy nie dit het tyd geword dat ons ‘n slag net stil bly en na die werêld om ons kyk, seker maak, dat ons oop is vir kommunikasie met mekaar, sodat ons mekaar se taal kan praat en verstaan (praat nie van tale nie, maar wanneer ons met mekaar kommunikeer, ons regtig  sal luister wat die ander person wil oorbring). Dit sal soveel misverstande uitwis. 
Kyk na die blindes en dowes om ons – die manier hoe hulle boodskappe uitstuur en ook hoe hulle probeer om te kommunikeer met ander. Hoe dankbaar moet ons, die wat kan sien, hoor en praat, nie moet wees nie.
 
My gebed: “Here, gee my die leiding om met ander op die regte manier te kommunikeer en dat ek sal luister en hoor wat aan my oorgedra word, sodat daar geen misverstande sal wees nie.”
Amen!
 

Tuesday 7 October 2014

God verbreed jou horisonne !


Jesaja 62: 10-11 - "Gaan uit, gaan uit by die poorte, maak die pad gereed vir die volk! Vul die grootpad op, vul dit op! Vat weg die klippe! Steek die banier op dat die volke dit kan sien"!...

Die gesegde wat sê; "Jy is nooit te oud om te leer nie" is baie waar!

Meeste van ons loop maar met oogklappe aan. Ons verkeer so in ons eie werêldtjie. - daarom laat God ons met nuwe insig na die werêld kyk om sodoende ons horisonne te verbreed! Verkeerdelike insig oor wat aangaan in die werêld laat ons ons oë toemaak, - Onthou, God tref nie onderskeid tussen mense nie. Hy is lief vir almal wat na Hom hunker.
 
Gooi jou bagasie af en haal jou oogklappe af.
 
 Ons moet nuut en vars dink en nooit ophou groei nie, veral in ons geestelike groei; - droom drome -  kyk met opgewondenheid na die wonderlike landskappe om jou en begin met jou geestelike groei.
 
Onthou, alles gaan oor Christus - niemand se groeiproses is klaar nie, maak nie saak hoe oud, jonk en wie jy is nie. As jou hart aan die Here behoort sal jy almal met dieselfde respek en liefde behandel.
 
God werk met ons harte - Hy gebruik ander mense om ons na die hoogtes te neem, sodat jy jou reis van selfontdekking te kan ervaar.
 
Verbreed jou horisonne en gaan uit na die werêld en moet nie blind staar, na wat om jou omgaan nie.
As jy 'n hand uitreik na iemand, sal jy verbaas wees hoe hy / sy daarop sal reageer en met graagte jou helpende hand aanvaar!
 
Hou vas aan jou geloof. -
Ons kan soveel skatte ontdek as kinders van God as ons ons oogklappe afhaal en nie neersien op mense wat anders as jy is nie. 
God IS ALTYD beskikbaar as jy Hom nodig het.
My gebed: "U is ons Vader, Here, ons is klei, en U het ons almal gevorm., ons is almal die werk van U hande.  Verbreed asseblief ons, ons horisonne, Heer, sodat ons verder kan sien as gister".
Amen!

Wednesday 10 September 2014

Jou woorde het die mag om jou bestemming te bepaal!



Spreuke 18:20-21 - "Deur die regte woorde te gebruik, kan 'n mens sy honger stil, hy kan genoeg kry om te eet deur wat hy sê;- Die tong het mag oor dood en lewe; die wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.".
 
Ons woorde wat ons spreek en hoe ons dit oorbring op 'n daaglikse basis kan mag hê  oor wat jy kan bereik in die lewe.

Jou woorde vorm jou lot. Dit is waarom dit noodsaaklik is, dat jy jou woorde versigtig kies.

 Die woord van God bevat elke positiewe ding wat jy ooit nodig kan hê - van beloftes oor gesondheid, voorspoed, vrede en verlossing. Deur gehoor te gee aan die Skrif, kan jy die sluise van die hemel oopmaak om God in staat te stel om die bekentenisse te bring.
Jou mond is die skakel tussen die dinge wat God julle beloof het, of om sonder dit te leef. As jy die behoefte en erkening in elke area van jou lewe wil ervaar, begin vandag die beloftes in Sy Woorde te spreek en jy is gewaarborg suksesvolle resultate elke keer.
In Jesaja 55:11 staan geskryf - "so sal die woord wat uit My mond kom ook wees : dit sal nie onverigte sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil en totstand bring waarvoor Ek dit gestuur het".
Jy kan ook nie net sê wat jy voel en wat in jou opkom nie!  - want dan praat jy net oor die oomblik - as jy kwaad is en in 'n blik gedruk word, kan jy dalk vroom redeneer en dan sê dis hoe jy op die oomblik voel, maar as jy die volgende dag anders voel, kan jy weer anders praat. Wees dus liewers versigtig wat jy sê, anders kan jou woorde teen jou tel en jou lot bepaal in die toekoms.
Onthou, Die tong is magtiger as die swaard !

My Gebed: "Almagtige Vader, help my om 'n wag voor my mond te plaas en dat die woorde wat uit my mond kom, net lof liedere sal wees tot U. Hou my tong in toom sodat ek ander nie sal seermaak nie".
Amen!
 
 
 
 
 
.



Die tong is magtiger as die swaard

 
 


 


Monday 18 August 2014

Moenie bang wees nie - neem die eerste sprong.

Jesaja 41:13 - "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek help jou".

Die lewe is veronderstel om 'n avontuur te wees - maar ons is so bang om die eerste stappie te neem - ons vrese vir die onwerklikheid maak ons bang en hou ons gekelder.

Jesus leer ons dat deur geloof en vertroue in Hom, 'n mens enige vrees kan oorwin.  Jy hoef nie skaam te wees as jy bang is nie - dit is deel van ons menslike natuur.

Ons val vas in angs as ons nie na Sy stem luister nie. Onthou jy is nooit alleen nie -
 
Moenie bang wees nie - plaas jou hand in Sy hand en Hy sal jou help om sonder vrees jou lewenspad te bewandel. Die Heilige Gees het mos juis gekom om ons te versterk. Deur die Gees se krag kan ons, ons angs oorwin.
 
Onthou, Jesus sit mense om ons, mede-gelowiges om mee te gesels. Dit help baie as jy hulle vertel van jou vrese en vra dat julle saam bid. Ons kan mekaar aanmoedig en bystaan. - Ondersteuningsgroepe is van groot waarde. Neem die eerste sprong en begin om 'n verhouding met gelowiges te kweek.

Psalm 23:4 - staan geskrywe, "al gaan ek ook in 'n dal van doodskadewee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my, U stok en U staf, die vertroos my"!
 
God ontferm Hom oor ons, In elke moeilikheid help Hy ons, daarom moenie bang wees nie en moenie ophou om jou troos by Hom te soek nie.
 
My gebed: "Here Jesus, dankie dat U vir my sorg en beskerm. Dankie dat wanneer ek bang is, U my met die krag van U liefde omring, sodat ek nie in angs verval nie".
 
Amen!
 
 
 


Wednesday 13 August 2014

As jy val - moenie moed verloor nie - staan op

2 Samuel 22:2-7- "Die Here is my rots, my skuilplek en redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk Verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder. Van geweld het U my verlos".

Die lewe kan soms baie hard en ongenaakbaar wees. As dinge te veel en woes raak, gaan skuil by die Here, want op Hom kan jy vertrou.
Moenie moed verloor as jy val nie, dis nie hoe hard jy val nie, maar hoeveel keer jy opstaan wat saak maak. Dit is ook nie wat die lewe na jou toe gooi nie, maar wat jy daarvan maak.
Die onderskeiding is, hoe ons reageer as ons val. Partykeer verwyt ons, onsself,  sommige van ons bly  en voel jammer vir onsself en vertel dan hoe onregverdig die lewe is. Die grootste deel van ons pad is ons eie keuses wat ons maak en moet dit dan hanteer met die krag en genade van die Here.
 
Ons bly maar menslik, swak en vol foute. Ons is nie volmaak nie en almal maak een of ander tyd foute, verkeerde keuses wat jou hard grond toe bring, maar as God jou anker en skuilplek is, kan jy verseker wees, jy gaan sterk anderkant uitkom. 
 
God het steeds 'n plan met jou en soms wil wil ons net moed verloor - ons lewens is so gejaag, daarom verander die Here ons rigting soms en word ons gedwing om stil te sit, om ons te laat besef wat Hy vir ons wil sê, in ons omstandighede.
 
Die Here het Sy oë oral op die aarde, sodat Hy die kan help wat op Hom vertrou met hul hele hart.
 
Daarom moenie moed verloor nie, ons almal struikel soms, staan weer op en leer daaruit en hou jou oë gerig op die Here. 
 Onthou daar is altyd hoop en as jy bly lê dan sien jy dit nie raak nie.
 
Die Here is jou rots en anker.

My gebed: "Here, Jesus help my om weer op te staan as ek val en  om nie moed te verloor nie. U is my rots en ek hou my oë stewig op U gerig".
 
Amen!
 






Friday 8 August 2014

Here, dankie vir vrou-wees


          Vrouedag-maand- Augustus


Hooglied 4:7-  'Alles aan jou is mooi, my liefling, aan jou is niks verkeerd nie'.


Ek is ‘n Vrou -  
Here, ek verruil die wonder van vrou-wees vir niks
Help my om in  elke faset daarvan ‘n kanaal te wees van U Goddelike liefde, lig en lewe, soos net ‘n vrou kan.

Ek is Ek –
Ek is menslik, Here-
Ek het foute en gebreke. Dankie dat U my aanvaar net soos ek is en my foute vergewe.

Ek is ‘n Maat –
Dankie vir die vervulling van ‘n huweliksmaat-wees, Here.
Dankie vir die gee en neem. Help my om nog meer te word wat die ander nodig het. Seën ons verhouding.

Ek is ‘n Ma -
Dankie vir die voorreg van ma wees –
Die wonder en pyn daarvan is soms te veel, maar ek is dankbaar dat ek dit kan deel met U, wat ook ‘n Vader is.

My-Dag –
Dankie dat ek ‘n af-dag kan hê, Here –
‘n dag om te doen wat lekker is – As dit dan nie vandag kan wees nie, neem ek later ‘n "ek-dag”.

Ek is ‘n Vriendin –
Here Jesus, dankie vir my wonderlike vriendinne -
Maak my ook ‘n ware vriendin vir hulle.  Ek wil ook ‘n vriendin wees vir diegene wat ek minder goed ken.

Ek is U sin, Here –
Ek is U volgeling Here Jesus . U is my Verlosser en Here.
Help my om te doen soos U gedoen het en te praat soos U gepraat het.
Vul my met U Heilige Gees.

 Amen!

Monday 16 June 2014

Geweeg en te lig gevind?


Esegiel 45:10-12 - Julle moet skale gebruik wat reg weeg en julle moet die regte inhoudsmate vir droëstowwe en vir vloeistowwe gebruik. 1nhoudsmate moet deurgaans dieselfde bly, volgens 'n vaste maatskaf. Gewig moet volgens 'n vaste maatstaf bepaal word.
 
Telkens as ek na my eie lewe kyk, is daar soveel dinge waaraan ek myself meet en telkens is die resultate; "te lig".
 
Daar is soveel dinge waar ek voel ek het nie hard genoeg probeer nie en voldoen nie aan die standaarde nie. Probeer ons om die standaarde van die lewe te handhaaf ?, -  of om God se skaal se balans te behou -  die regte hoeveelheid te handhaaf!.  Hoe doen ons dit in hierdie deurmekaar wêreld ..
 
Ons gebruik almal 'n skaal om onsself te weeg en sal wat wil gee om 'lig' te wees, dis in gewig; maar dit werk nie altyd so in die werklike lewe nie.
 
Hoe meet ons, onsself om balans te bepaal en die waarde daarvan?.
 
Vir meeste van ons is dit maar moeilik om die waarheid te erken. Daar is soveel haat, vyhandskap, leuens, valsheid, jaloesie,  huigelary in hierdie hedendaagse lewe, dat dit baie moeilik gaan om vol te hou, aan jou eie balans.
 
In Psalm 62:10 staan geskrywe -  "Mense is verganglik, mense is niks : op 'n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks". -
 
Al wat ek kan dink is,  om ons besig te hou met die dinge wat tot eer van die Skepper is. Enige ding wat nie daarmee te doen het nie, sal altyd 'n wanbalans tot gevolg hê.
 
Net God ken my gedagtes en ook my opregte bedoelens, my berou, trane en smart. Hy weet waarheen ek oppad is en waarmee ek gelouter moet word om die skaal weer in balans te plaas.
 
"Hemelse Genadige Vader, help my om elke dag so te leef, dat ek die regte balans sal vind op die skaal waaraan ek gemeet word".
Amen!
 

Wednesday 28 May 2014

Is jou Oliekannetjie vol ?

Matteus 25:1- "Dan sal dit met die Koningkryk van die Hemel gaan soos wat die tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag".
 
Vyf van hulle was verstandig en het ekstra olie saam geneem en vyf was dwaas want hulle het nie voorsiening gemaak vir ekstra olie nie.
 
Maak ek en jy voorsiening vir die dag van môre! -  of is ons ook soos die vyf dwase meisies wat hoop dat daar iemand is wat hulle lampe vir ons sal laat skyn.
 
As jy ver gaan reis, versien jy tog jou voertuig om seker te maak dat daar genoeg olie  in jou motor is,  dat daar nie olielekke is nie. Jy wil nie langs die pad onverhoeds betrap word met nie genoeg olie wat jou voertuig kan beskadig nie, want die olie beskerm die enjin en is een van die belangrikste middels wat die voertuig nodig het om voort te gaan.
 
In ons persoonlike lewens -  maak ons seker dat ons olievlak reg is!. Versorg ons, ons geestelike lewe met God se woord, om seker te maak dat daar altyd genoeg olie byderhand is ! - Is jy gereed vir die wederkoms van Christus? - of is ek en jy traak-my-nie-agtig en kom loer maar kort kort om te kyk of God al naby is.
 
Die Here waarsku ons om gereed te wees wanneer Hy kom om ons op te eis. Sal jy gereed wees? - waarmee sal ek besig wees as die Here kom! Die Woord sê ook dat ons moet ons lampe laat skyn,  so wanneer die Bruidegom afdaal na die aarde, daar genoeg lig sal wees vir ander ook om die pad te kan sien. Die keuse is ons sin om reg te wees, want jy moet self voor die Vader gaan staan. Sal jy reg wees vir die Bruilof saam met jou Vader ? - of gaan jy iemand anders se lig gebruik.
 
God stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink ons so. Nee, Hy is geduldig met ons, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie. Daarom gee Hy ons tyd om ons olievlakke reg te kry en die lampies aan hou te laat skyn.
 
Leef in verwagtig vir die dag wanneer God kom, en beywer jou die dag,  in verwagtig, van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde, wat God belowe het.
 
Onthou ons lampe moet altyd, maar altyd vol olie wees:- soos deur -
 
Stiltetyd saam met God deur te bring;
Geestelike gesprekke te hê met Hom';
in gebed;
lofprysing;
getuig van God
en ander te vertel van God !
 
my gebed: "Here, Vader gee my die wysheid om seker te maak dat my lampie altyd sal skyn en dat ek voorbereid sal wees, om ekstra olie saam te neem sodat ander ook my lig sal sien skyn.".
Amen !
 

Thursday 1 May 2014

Steel kommer jou krag ?

Johannes 16:33 - Dit ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. "In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed. Ek het klaar die wêreld oorwin".
 
Ek wonder gedurig, hoekom is my lewe nie soos ek dit altyd wil hê
nie - Die kommer oor wat môre gaan gebeur is partykeer baie swaar op my hart. - Gaan ek nog 'n werk hê oor 'n paar jaar, waar gaan my brood vandaan kom - wat van bly plek. Wat gaan met ons land gebeur?.  Daar is soveel twyfel in my hart soms, dat ek baie keer sommer moeg voel.
 
 Dan kyk ek na buite; en as ek die pragtige dag aanskou, raak ek skoon skaam. God gee al hierdie wonderlike dinge vir my en tog is ek nog nie gelukkig nie. Hoekom bekommerd ek my oor die dag van môre?
 
Onthou,  kommer vat nie môre se sorge weg nie - dit steel vandag se krag. Lê al jou bekommerse voor Sy voete. Glo soos 'n kind. Stres en kommer kan jou in depressie sit en die sleutel is om die lewe ten volle te geniet tenspyte van al die kommer en teleurstellings.  Moenie dat kommer jou krag steel nie.
 
In 1 Petrus 5:7 staan - "Werp al jou bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle."
 
God is die een wat vir ons sorg! Ons moet ons nie bekommerd oor môre nie en net op Hom vertrou, want Hy sal jou bystaan in die tyd van kommer en sal jou krag gee om voort te gaan.
 
Psalm 121 : Ek kyk op na die berge; waarvandaan sal daar vr my hulp kom? . My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
 
Bly blymoedig want vreugde hou jou sterk.

My gebed: "Here Jesus, dankie dat ek my kommer voor U voete kan neerlê en die wete het dat U my al die krag sal gee om elke dag voort te gaan".
Amen!
 

Wednesday 26 March 2014

Geestelike Reis - op pad waarheen!

  
.
 
 
 

Lukas 9, 51-53 - Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin en boodskappers voor Hom uit gestuur.  Hulle het vertrek en in 'n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reël - maar die inwoners wou Hom nie ontvang  nie, omdat Hy na Jerusalem op pad was.
 
Meeste van ons is ook maar op pad erêns heen:- reis na die werk, vakansies, begrafnisse, troues en so voorts.
Daar is altyd 'n gevoel van opgewondenheid as jy op reis is na jou vakansie bestemming;
Gevoel van stilte vir 'n begrafnis; - afwagting na troues - dan na jou werk, 'n plig, tog sien jy uit daarna.
 
Maar wat van ons geestelike reis ! - waarheen is ons oppad?
 Wanneer ons 'n bepaalde geestelike reis wil begin, het ons mekaar as gelowiges nodig. Ons kan van mekaar leer en verantwoordelikheid  neem vir die geestelike reis wat ons met mekaar en ander moet loop. Dit gee 'n geestelike volwassenheid tot ons gelowiges, wat weet hoeveel hulp ons nodig het, om met ons geloofsreis te stap.
 
 
Tog wonder ons partykeer, waarheen is God met ons oppad! - Wat verwag Hy van ons - God se opdrag vir ons is om in Hom te glo en Hom te volg bo alles. Hy is die Alfa en Omega, die Begin en die Einde.
 
Daar is soms dae dat ek wonder waarvoor leef ek? vir wie leef ek? Hoekom leef ek? - en weet ek wat my doel hier op aarde is, en wat die uitkoms van lewe is!. - Maar dan kyk ek om my heen na Sy wonderwerke en weet ek smag na 'n dieper verhouding met God, in Jesus Christus.
 
Al wat ons kan doen is om besig te raak met God, soos Hy besig is met ons. Neem jou kruis en volg Hom wat die hemel en aarde gemaak het. Raak besig met sy Woord. Ons moet altyd net die groter prentjie in gedagte hou op ons geestelike reis, en dit sal die moeite werd wees en ook die doel van ons lewe. - die pad na God breek nuwe dinge in 'n mense se lewe oop, al weet jy nie waarheen jy soms op pad is nie.. God se pad is nie altyd maklik nie, - dis anders en onbekend. Ons geestelike reis saam met God maak jou vry, want om saam met God te wees, is mos genoeg en opwindend totdat ons eendag by Hom kan wees.
 
Nou is my vraag weer:-  "Waarheen is ek oppad? - die antwoord is:, saam met God, vrolik, vol hoop, vol lewe en vreugde, want God is met my!".
 
  My gebed: "Here, Vader, help my,  sodat my geestelike reis na U toe oppad kan wees,  al is die pad nie so gelyk en maklik nie, want ek weet dat U vir my wag, by my eindbestemming".
Amen! 
 

 

 
 
 
 

Friday 21 March 2014

Bruid van God - Die Heerlikheid


Wie is die bruid van God

Openbaring 21:2; "En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is."  
 
  Openbaring 21:9-11;  Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het, waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat, "Kom het hy gesê; ek sal jou die bruid wys,  die vrou van die Lam." - Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na 'n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad, Jerusalem, vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom. Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos van die korsbaarste edelsteen, soos 'n kristalhelder paal. 
 
Johannes was die getuie van God, soos Jesus Christus bevestig het; en hy getuig van alles wat hy gesien het.
 
 Om 'n bruid te wees is seker een van die opwindenste gebeure in 'n vrou se lewe. - Die bruidegom wag vir jou voor die preekstoel. Die pragtige stralende bruid, geklee in spierwit, met sterre in die oë, wat die paadjie afstap na haar bruidegom, wat vol verwagtinge en verwonderinge na haar staar - hier in die aardse werêld.
 

 
Hoe is ons verhouding met God  
 Hoe sal die voel om die bruid van God te wees gekleed in 'n vlekkeloos bruidskleed - maak ons, ons gereed vir Hom, wat as die hemelse bruidegom vir ons wag. Lewe ons volgens die standaarde van God, sodat ons 'n glans kan uitskyn vir ander om te sien dat ek en jy 'n bruid van die Hemelse Bruidegom is. Is ons lewens onberispelik, regverdig en opreg? - As gelowiges en kinders van God, is ons sonder gebrek?, - en skyn ons soos ligte in die werêld. - Sal ons gereed wees as ons Hemelse Bruidegom kom, om ons op te eis! - of sal ons beskaamd voor Hom staan!. 
 
So doen God vandag nog steeds met sy kerk, deur Christus. Christus maak self Sy bruid mooi vir die bruilof. Hy wil hê dat ons sonder vlek wees, heilig en sonder gebrek, stralend soos 'n bruid. - en dan; as eendag die bruilof van die Lam aanbreek, dan sal dit wees soos Johannes dit gesien het in sy visioene; - aan die bruid is gegee om bekleed te wees met rein en fyn linne, want die fyn linne beeld die regverdige dade van die heiliges af.
 
Christus is die hemelse bruidegom wat van Sy Vaderhuis af uit die Hemel kom,  om ons te soek en te red wat verlore is, sodat ons die erfenis van Sy hemelse koninkryk, met Hom te deel. 
Ons moet goeie werke doen. Ons moet verander dat ons 'n waardige bruid vir Christus kan wees. 
 
My gebed: "Jesus, Christus help my om rein en vlekkeloos te lewe soos U van my verwag, sodat ek gereed sal wees as U, die Hemelse Bruidekom, my kom opeis as U bruid".
Amen!




Saturday 22 February 2014

Hoe belangrik is ware vriendskap



    
Spreuke 27:17 – Yster slyp yster; vriende vorm mekaar. 

Ons het almal vriende; maar jy kry werklike vriende en mooiweersvriende. Onder watter groep tel ek en jy. 

Daar is niks soos ware vriendskap wat jou hand neem en saam met jou huil as jy hartseer is - luister as jy net ‘n oor nodig het wanneer jy net wil stoom afblaas. Dikwels, saam met jou die kronkelende pad van jou lewe loop. Vriendskap, is iets wat gegee word, sonder dat dit gemeet word en iemand anders se behoeftes bo jouself te stel. Julle staan saam deur dik en dun.wat nie net jou foute raaksien nie, maar die dieper mens binne jou; en jou hart beter ken as jyself. 

In ons samelewing vandag, wat met rykdom, sukses, roem en geld, hand aan hand loop, is dit baie keer moeilik om te weet of jy werklik ware vriende het, of is dit mooiweersvriende!.. Party sien net jou prestasies en besittings raak en nie meer vir jou as persoon nie. Sodra jy in die moeilikheid raak verdwyn baie van hulle. 

Maar daar is iemand wat jou ken net soos jy is.- Jesus het jou lief omdat jy jy is en nie iemand wat in die oë van die werêld suksesvol, mooi of ryk is nie. 

Dwarsdeer die Bybel lees ons van ware vriendskappe en die waarde wat hulle in mekaar se lewens gehad het - Kyk na Dawid en Jonathan, Daniël en sy drie vriende wat by hom gestaan het. Job 2:11-12; lees ons van drie van Job se vriende wat afgespreek het om hom te betuig en te vertroos.   Hulle het hardop gehuil toe hulle hom sien, hulle klere geskeur en stof in die lug op en oor hulle koppe gegooi van droefheid. Jesus was ook bewoë oor Lasarus se dood en wou weet waar hy begrawe is.

Om vriende te kies is ‘n keuse – ‘n mens kan kies met wie jy vriende wil wees, en as jy nie tuis voel in ‘n vriendekring wat jou net altyd afbreek en selfsugtig is, maak dat jy wegkom. Dis mooiweersvriende. 

Vriende vorm mekaar, is altyd eerlik met mekaar, al verskil julle ook soms. Hulle weet wanneer om hul woorde te tel sonder om seer te maak en vriende respekteer mekaar. Hulle ken jou wonde; jou foute en weet ook hoe om ‘n geheim te bewaar.

In Johannes 15:13-15  staan – Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek, noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 

Die waarde van vriendskap moet nie onderskat word nie want dis goud werd;  dis nie te koop nie - is onselfsugtig.

My gebed: Dankie, Here, vir ware vriendskappe wat ek het. Help my om ‘n vriendin duisend te wees en ware vriende te waardeer.

Amen!

 

Saturday 8 February 2014

Liefde is 'n daad !

             1 Johannes 3:18 - "Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid".

Elke goeie werk wat ons doen is 'n daad van liefde ...Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde, God in hom wees.
 
Februarie is gewoonlik die maand van liefde.. Ons is almal maar mense, party mense glo in "Valentyn'sdag" en ander nie  - maar as ons die vraag stel, waar kom liefde vandaan, dan kan ons net aan een ding dink, God is liefde en Hy woon in ons harte.  
 
Wanneer die liefde in ons harte is, is dit soveel makliker om ook liefde aan ander te bewys en goeie dade te doen.

 
Die belangrikste is, as jy maar net in Jesus Christus bly glo, solank jy net in sy liefde bly, dan sal liefde ook in jou hart bly leef. Vra God om jou te help om liefde ook aan ander te bewys en daardeur jou goeie dade voort te sit. Wanneer die liefde 'n werklikheid geword het, dan kan ons ook vanuit die liefde, gaan lewe in alle goeie werke.
 
Elke goeie werk is 'n daad van liefde - Laat ons uitgaan en liefde bewys in ons dade sodat die regterhand nie weet wat die linkerhand doen nie.  Ons probeer partykeer uitbasuim wanneer ons 'n goeie daad verrig het, want almal moet daarvan weet. Wees verseker, jou Vader in die Hemel weet alles wat jy doen. Prys God! -  Moenie toelaat dat ons liefde vir ander, afwater nie.
 
Larry Grabb -"liefde beteken om sonder selfbeskerming nader aan ander te beweeg. Deur lief te hê word ons kwesbaar vir die seerkry, omdat ons geloof in die krag van die liefde groter word as ons vrees vir verwerping. Natuurlik maak dit seer om lief te hê, maar om nie lief te hê nie, maak nog seerder".
 
Geloof, Hoop en Liefde - bly hierdie drie - en die grootste hiervan is die Liefde
 
My gebed: "Hemelse Vader, God van liefde, help my om liefdesdade aan ander, deur dade te wys en uit te gaan om goeie werke alleenlik in U naam te doen".
Amen.

 

 

Wednesday 22 January 2014

Die Here is God en betroubaar

Johannes 3:5-6 -  Jesus het geantwoord : "Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees".

Drie eenheid : Die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
 
As die Heilige Gees ons lewe vervul, verander ons en dan kom die eienskappe van Christus al duideliker in ons lewens na vore. Die Here sorg vir ons. Hy is almagtig. Ons sien dit in ons eie lewens en ook in ander. Niks is vir Hom onmoontlik nie.

 Deuteronomium 32:39 - "Ëk, Ek is die Here!. Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond, uit My mag word niemand bevry nie".

Lees ook Johannes 5:6 - Ons moet ons nie laat mislei deur ander mense nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat ongehoorsaam is..

God is Heilig, Hy is vir ewig, alwetend en volmaak. Die Here is 'n regverdige God. Hy is Liefde en wie in die Liefde bly, bly in God.  Selfs wanneer dit sleg gaan met ons, is Hy naby. God openbaar Hom deur sy liefde vir jou. Moenie  toelaat dat materiële skatte op aarde jou van Hom af weg hou nie. Versamel jou skatte in die Hemel. Onthou waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Die Here is betroubaar en jy kan op Hom vertrou. Dis Hy wat wonderwerke doen. Sy liefde oortref alles. God sorg vir ons almal. Nie een van ons is volmaak nie, maar God het ons 'n Wet gegee om daar volgends te leef en Hy is genadig.

"Here, God, U is Heilig. Dankie dat ek op U kan vertrou en die wete dat U vir my sal sorg".
Amen!